Om die porieë van die lewe te kan raaksien

  • 2

Waarom vermy soveel onderwysers en ouers die moeilike vrae wat kinders stel? Waarom skuil hulle as volwassenes agter onkunde of ’n houding van “vra jou pa of ma” of “’n mens vra nie sulke goed nie”? ’n Ander standaardantwoord is: “As God wou gehad ons moet alles weet, sou hy jou so gemaak het. Ons is nie veronderstel om alles te weet nie.”

Die skoolhoof en biologiedepartementshoof, wat ’n toegewyde onderwyser by ’n hoërskool in die noordelike voorstede van Kaapstad laat bedank het omdat hulle geweier het dat sy evolusie in die leerplan met leerders bespreek, het my laat dink aan die Britse kosmoloog Hermann Bondi se woorde oor die moeilike vrae wat kinders stel.

“Soms is ek ’n bietjie onvriendelik teenoor al my baie vriende in die onderwys deur te sê dat vandat hulle leer om te praat, alle kinders vreeslike lasposte word deur te vra ‘Hoekom?’ Om dié onsin te stop, het die samelewing ’n wonderlike stelsel ontwerp wat onderwys genoem word, en wat by die meerderheid mense die begeerte om daardie vraag te vra, tot ’n einde bring. Die min mislukkings van hierdie stelsel staan bekend as wetenskaplikes.”

Een van my kollegas by die Universiteit Stellenbosch vertel my onlangs hoe haar leerders verhoed word om aan evolusie as wetenskaplike feit in die biologieleerplan blootgestel te word omdat dié verskoning gebruik word: “Die onderwysers verstaan nie evolusie nie en dis in elk geval net ’n teorie, nie ’n feit nie.”

Skoolhoofde, biologieonderwysers en ouers wat hierdie skans van onkunde onbeskaamd omhoog hou om moeilike vrae van studente te deflekteer, versaak eerstens hul plig om geldige, bewese wetenskaplike kennis en bevindings te versprei. Maar tweedens dra hulle by tot die onderdrukking van kennis, en is hulle soos die brandweerbrigade in Ray Bradbury se Fahrenheit 451 wat boeke verbrand, ’n falanks van hedendaagse Beattys en Montags.
 

 
Ray Bradbury se Fahrenheit 451

Evolusie net ’n teorie? Ek het uitvoerig hieraan aandag gegee toe ek in 2010 op uitnodiging van prof Julian Müller die Universiteit van Pretoria se teologiefakulteit toegespreek het oor die werklikheid van evolusie as verskynsel in die ontwikkeling van lewe. Miskien is dit nodig dat ek ’n uittreksel uit my inleidende hoofstuk herhaal wat vroeër vanjaar in my en Frits Gaum se boek, God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles (Tafelberg), verskyn het. Daarin verduidelik ek waarom evolusie nie net ’n teorie is nie, maar ’n geldige wetenskaplike feit wat in biologiehandboeke en ?leerplanne hóórt. En nie sommer goedsmoeds deur onkundige, beangste en stormtroepagtige onderwysers uit die sillabus gelaat kán en mág word nie.

Toe Darwin se The Origin of Species die eerste keer in 1859 die lig sien, verklaar die vrou van ’n bekende biskop in Engeland aan haar man: “Oh my dear, let us hope that what Mr Darwin says is not true. But if it is true, let us hope that it will not become generally known!”

Die leier van die internasionale span wetenskaplikes wat die menslike genoom in 2001 gekarteer het, dr Francis Collins – ’n bekende gelowige – skryf hierdie verskynsel toe aan wat hy noem “a simple misunderstanding of the word theory”.

In sy topverkoper, The language of God – A scientist presents evidence for belief, skryf Collins: “Critics are fond of pointing out that evolution is ‘only a theory’, a statement that puzzles working scientists who are used to a different meaning of that word.” Collins wys op die woordeboekdefinisies van “teorie” as “a speculative or conjectural view of something; fundamental principles underlying a science, art, etc.: music theory, theory of equations” (volgens Funk & Wagnalls se Dictionary of English).

Op dieselfde wyse toon HAT (die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal), ook dié duidelike verskil aan: “Grondreëls van ’n wetenskap om waargenome feite of verskynsels te verklaar; voorstelling in ’n mens se gedagte sonder om rekening te hou of voordat rekening gehou is met die werklikheid.”

Collins skryf verder: “The examples reported here from the study of genomes, plus others that could fill hundreds of books of this length, provide the kind of support for the theory of evolution that has convinced virtually all working biologists that Darwin’s framework of variation and natural selection is unquestionably correct. In fact, for those like myself working in genetics, it is almost impossible to imagine correlating the vast amounts of data coming forth from the studies of genomes without the foundations of Darwin’s theory.”

Jerry Coyne, genetikus van die Universiteit van Chicago,  benadruk twee belangrike punte oor die wanopvatting dat evolusie net ’n teorie is. “First, in science, a theory is much more than just a speculation about how things are: It is a well-thought-out group of propositions meant to explain facts about the real world ... [T]he theory of evolution is more than just the statement that ‘evolution happened’: It is an extensively documented set of principles ... that explain how and why evolution happens ...”

Verder skryf Coyne: “For a theory to be considered scientific, it must be testable and make verifiable predictions.”

Dit beteken dat wetenskaplikes in staat moet wees om waarnemings oor die werklike wêreld te kan maak wat die teorie ondersteun of verwerp. Omdat ’n teorie net as “waar” aanvaar word as die teorie se aansprake en voorspellings oor en oor getoets is, en ook herhaaldelik as korrek bevestig is, is daar nie ’n spesifieke moment wanneer ’n wetenskaplike teorie skielik ’n wetenskaplike feit word nie. So word ’n teorie ’n feit (of ’n “waarheid”) wanneer soveel bewyse ten gunste daarvan opgestapel is en daar geen beslissende bewyse daarteen is nie dat omtrent alle rasionele mense dit aanvaar, aldus Coyne in sy boek Why evolution is true (Oxford University Press, 2009).

Wetenskaplikes toets hul teorieë teen alternatiewe teorieë. Kom ons neem die Jong Aarde-kreasioniste se vaste geloof dat die aarde net tussen 6 000 en 10 000 jaar oud is en weeg dit in die lig van wat ons weet oor kontinentale wegdrywing. Die meeste van ons is deeglik gefassineer deur die satelliettegnologie van die globale posisioneringstelsel, in die volksmond bekend as GPS. Oorweldigende, onbetwisbare bewyse bestaan dat die kontinente eens aan mekaar vas was, hoewel Alfred Wegener lank reeds dood was voordat John Tuzo Wilson se bevindings oor tektoniese plaatbeweging Wegener se teorie in 1965 bevestig het.

Deur middel van GPS-waarneming weet ons die kontinente beweeg van mekaar af weg teen snelhede van ongeveer 5 tot 10 cm per jaar. Maar, soos Coyne tereg aantoon, as ons die Jong Aarde-kreasionisme van ’n aarde niks ouer nie as 10 000 jaar aanvaar, sou dit beteken dat as jy op die heuwels bo Lissabon op die weskus van die Iberiese Skiereiland staan, jy die wolkekrabbers van New York sou kon sien omdat Europa en Amerika ’n bietjie meer as 1,6 km van mekaar af sou wegbeweeg het. Dink maar aan hoe Europeërs op 11 September 2001 dan eerstehandse getuies van die aanval op die Twin Towers sou kon wees.

Die leidende Russiese bioloog Theodosius Dobzhansky stel dit effe anders as Collins, maar nie minder sterk ter ondersteuning van evolusie as kragtige wetenskaplike feit nie: “Nothing in biology makes sense except in the light of evolution.” Waarom eien biologieonderwysers hul dan die reg toe om sélf te besluit wat mag maar in en wat nie – wat kinders mag weet en wat nie?

Vandag sit ons in die ernstige dilemma dat terwyl Charles Darwin se epogmakende werk ons konsep van die wêreld onomkeerbaar verander het, daar steeds miljarde mense is wat glo evolusie is net ’n teorie, nie ’n feit nie. Maak nie saak wát die wetenskap sélf oor evolusie te sê het nie en dat regerings en die gewone burgerry daagliks besluite neem op grond van hierdie absurditeite. Ek haal net drie ander wetenskaplikes hieroor aan:

Jared Diamond, Amerikaanse evolusionêre bioloog en Pulitzerpryswenner, skryf: “Evolution is the most profound and powerful idea to have been conceived in the last two centuries.” Dan die mening van Ernst Mayr, die Duits gebore Amerikaanse evolusionêre bioloog, waarskynlik een van die grootstes sedert Darwin, en ’n duideliker uitspraak kan jy nie kry nie: “Evolution is the most important concept in biology. There is not a single ‘Why?’ question in biology that can be answered adequately without a consideration of evolution. But the importance of this concept goes far beyond biology. The thinking of modern humans, whether we realize it or not, is profoundly affected – one is almost tempted to say determined – by evolutionary thinking.”

Laastens die Britse bioloog Julian Huxley:Evolution ... is the most powerful and the most comprehensive idea that has ever arisen on Earth.”
 

 
Evolusie van die mens

Vra maar die mediese navorsers wat reeds meer as drie dekades lank stry om die slim MI-virus te uitoorlê en ’n teenvoeter vir die dodelike vigs te kry waarheen die virus onvermydelik op pad is as dit eers vastrapplek in die mens gekry het: Dis evolusie, daagliks, voor ons oë aan die gebeur.

Guy Montag se siening oor die verbranding van boeke verander wanneer hy in aanraking kom met die afgetrede professor Faber, wat sy eie stilswye oor die wet dat geen boek meer mag bestaan nie en verbrand moet word, betreur. “... [D]o you see why books are hated and feared?” vra hy Montag. “They show the pores in the face of life. The comfortable people only wax moon faces, poreless, hairless, expressionless.”

Pas sy woorde toe op The Origin of Species en jy het Suid-Afrika se skoolklaskamers waar evolusie vermy en van kinders weerhou word omdat dit ouers en onderwysers ongemaklik laat voel – laat rondskuifel en anderpad kyk omdat hulle nie wil verduidelik waarom die aarde dan nie net 6 000 jaar oud is soos húlle op skool en in die Sondagskool geleer is nie.

Nee, onderwysers en ouers kan nie soos die biskop se vrou die ondenkbare wil wegwens en maar hoop evolusionêre wetenskaplikes se bevindings word nie raakgesien nie. Darwin se teorie is nie net ’n teorie nie – dit is ’n “universele suur” wat so bytend is dat dit deur alles vreet, soos die skrywer en wetenskapfilosoof Daniel Dennett dit beskryf. Dit vreet deur omtrent elke tradisionele konsep en laat ’n revolusionêre wêreldvisie agter, met die meeste ou bakens steeds herkenbaar, maar getransformeer op verskillende maniere. 
 

 
Charles Darwin

  • 2

Kommentaar

  • Kobus de Klerk

    Dr. George Claassen bied in sy opvoedkundige rubrieke, ’n rubriek aan genaamd ‘Om die porieë van die lewe te kan raaksien’. Uiteraard is dit ’n rubriek waar die darwinistiese evolusieleer weer gepromoveer word.

    Ek lewer graag kommentaar op die rubriek en is van mening dat dit baie misleidend is, omdat dit sal blyk dat die darwinistiese tipe evolusieleer nie eens ’n teorie is nie, maar eerder ’n naturalistiese religieuse filosofie wat nié in die wetenskapklas – skool óf universiteit - tuishoort, nie.

    U steun op die wetenskaplike dr. Francis Collins. Waarom  bied u nie ’n gebalanseerde beskouing van Collins in u seleksie van aanhalings van hom, nie? Collins is nóg vis, nóg vlees. Hy is opgevoed in ’n agnostiese huis, waar hy deur sy pa ernstig gewaarsku is, nes u doen, teen “theologians”. As student was hy ’n uitgesproke ateïstiese agnostikus. Eers later het hy by homself geredeneer dat ateïstiese agnostisiteit eenvoudig die mees onlogiese geloof is – hy is bekend daarvoor dat hy dinge sê soos:

    “If God is outside of nature, then science can neither prove nor disprove his existence. Atheism itself must therefore be considered a form of blind faith, in that it adopts a belief system that cannot be defended on the basis of pure reason … of all the possible worldviews, atheism is the least rational.”

    Agnostici is dit glad nie eens oor Collins se bydrae tot die bevordering van evolusie nie. Trouens, daar is agnostici wat báie ernstig met u verskil oor die ‘waarde’ van Collins se bydrae tot die promovering van evolusie. Hulle voel dat Collins glad nie die evolusie leerstuk promoveer, nie. Daar is ook vanuit die hiërargie van Collins se eie religieuse milieu, die Katolieke kerk, ernstige bedenkinge oor sy gelowigheid, anders as wat u voorgee omtrent die kwessie dat hy kwansuis ’n sogenaamde “bekende gelowige”, is. Op die keper beskou, hoe sal u, ’n selferkende ateïs, dan nou ook weet wat dit alles behels om ’n ware gelowige te wees? As u self die vermoë had, in staat sou wees, om geloof in God te kon assimileer, sou u self gelowig wees. Mense is nie gelowiges omdat hulle self sê, of ander sê, hulle is gelowig, nie. Die status van gelowige is ’n objektiewe toets en word gemeet word aan die bekende grondbeginsels van ’n geloofsoortuiging waartoe die persoon homself toereken - as sy eie geloofsverklaring (ope belydenis) in ooreenstemming en te versoen is met daardie beginsels en hy leef hulle ook uit, is hy ’n gelowige. So nie, sal hy dalk aspireer, of streef, maar dit nog nie wees, nie. U is dus in geen posisie om te sê dat Collins ’n ‘bekende gelowige’ is, net omdat hy sê hy glo in God, nie. U kan ten beste sê dat hy inderdaad aspireer om ’n ware gelowige te word.

    Veral Collins se aanspraak, wat deur u aangehaal word, waar hy sê dat darwinistiese evolusieleer korrek is en dat hulle by die sintetiese genoom projek die beginsels wat deur Darwin neergelê is, moes volg om by die suksesvolle resultaat te kom, is uiters aanvegbaar.  Eerstens, het Darwin te kenne gegee dat die biologiese prosesse toevallig en deur ’n proses van lukrake seleksie, geskied, sonder énige intelligensie wat daar ’n rol sou speel, soos in die ontwerp, daarvan. Collins meen daarenteen God is verantwoordelik vir dié proses en weerspreek derhalwe die kruks waarom Darwin se konstruk wentel, naamlik ontwikkeling deur lukrake toevalligheid. Verder het dié proses, wat kwansuis op die darwinistiese leerstuk gebaseer sou wees, glad nie so vlot verloop op die beginsels soos deur die darwinisme, uiteengesit is, nie. Dié kontensie van my word sommer met die eerste oogopslag bevestig deur die feit dat die sintetiese genoom projek die resultaat is van die massa hoogs gespesialiseerde tegnologie en geld (meer as $40 miljoen) en breinkrag van ten  minste 46 wetenskaplikes oor die verloop van ongeveer 15 jaar (wat alles onvermydelik in intelligente ontwerp herlei) wat deur die J Craig Venter Institute moes spandeer en gebruik  word om ’n eenvoudige (gemeet aan die kompleksiteit en diversiteit van dit wat ons “lewe” noem) genoom kunsmatig te vervaardig – juis omdat hulle met aanwending van intensiewe kollektiewe intelligensie en gerigte ervaring die projek proefondervindelik moes bestuur deur ’n langdurige proses van doelbewuste leer-en-probeer. Hierdie aspek, alleen, breek onbetwisbaar die lansie vir intelligente ontwerp van die uiters komplekse biologies prosesse.

    Daarbenewens is energie, in sy verskeie verskyningsvorms, by noodsaak doelgerig aangewend of van nature toegevoeg in alle stadia en sou niks gebeur het sónder toegevoegde en aangewende energie, nie – terwyl géén proses, teorie of hipotese van die darwinistiese evolusie leerstuk, selfs voorgee om selfs net te poog om te verklaar waar energie sy oorsprong het, nie. Die Woord, daarenteen, soos in die Bybel opgeteken, as ’n antieke kenbron van dié bestaan en ontstaan van hierdie suiwer wetenskaplike fenomeen, vereenselwig lewegewende, lewensonderhoudende en lewensfunksionerende energie direk met God (Genesis 2:7; 41:8; 45:27; 1 Konings 10:5; 18:46; 19:7-8; Habakkuk 3:19, 29; Josua 2:11;  5:1; Rigters 8:3; 15:19; 1 Samuel 1:15; 30:12; Job 7:11; 32:18; Psalm 77:3; 142:3; 143:4, 7; Spreuke 15:4; 17:22; 18:14; 25:28; Prediker 7:9; 10:4; Jesaja 26:9; 54:6; 57:16; 61:3; Esegiël 3:14; Daniel 2:3; Matteus 26:41; Markus 2:8; Johannes 5:17; Handelinge 7:59; Romeine 1:9; 8:16; 12:11; 1 Korintiërs 2:11, 13–15; 5:3–5; 7:34; 14:14–16; 16:18; 2 Korintiërs 2:13; 7:1; Efesiers 4:22–23; Kolossense 1:11; 2:5; 13:21; Tessalonisense 5:23; 2 Timoteus 4:22; Hebreërs 4:12; 12:23; ens.).

    Sommige agnostici meen natuurlik selfs dat Collins nie ooit ’n werklike ateïs was, nie – maar hulle laat buite rekening, omdat hulle faal om dit in te sien, dat Collins juis die super ontwikkelde ateïsties agnostikus is, wat weens die eksponensiële groei en ontwikkeling van sy rede en die sinvolle, onbevooroordeelde aanwending van sy rede, kon ontwikkel tot op die punt waar hy die bestaan en betrokkenheid van die Godheid nie langer kon misken, nie. Dus, Collins is ongetwyfeld op die regte koers, want hierdie besondere fenomeen en kwaliteit word juis in die Woord behandel (Romeine 1:20 g.m. Job 12:7-9; Psalm 19:1-6; Jeremia 5:22) en staan ook elke ander agnostikus wat sy beterwete verkrag deur die betrokkenheid van God in die Skepping te ontken, ten laste en ten Goddelike oordeel.

    Collins is dus kennelik ’n gebore en getoë agnostikus wat op grond van sy rede, eenvoudig net nie die konsep van ’n God-lose heelal kan aanvaar nie vanweë die onbetwisbare, kenmerkende verklikkers in die natuur vir die bestaan van die Goedheid en is dus geneig, nie soseer op grond van sy nog-ontwikkelende geloof in God, nie, maar op grond van sy hoogs gesofistikeerde en ontwikkelde rede – die ‘rede’ synde mos die voorste strydros van die ateïstiese agnostikus  - die bestaan en betrokkenheid van God aanvaar omdat die nie-aanvaarding van God, objektief gesien, net eenvoudig nie sin kán maak, nie.

    Die agnostici wat die Goddelike betrokkenheid dus ontken, doen so teen hul beterwete en dwing hulself daartoe – sien gerus in hierdie verband die eerlike getuienis van ’n welbekende en gerekende ateïs en naturalis, Professor Thomas Nagel van Amerika, waar hy getuig:

    “I believe that this is one manifestation of a fear of religion which has large and often pernicious consequences for modern intellectual life. In speaking of the fear of religion, I don’t mean to refer to the entirely reasonable hostility toward certain established religions and religious institutions, in virtue of their objectionable moral doctrines, social policies, and political influence. Nor am I referring to the association of many religious beliefs with superstition and the acceptance of evident empirical falsehoods. I am talking about something much deeper—namely, the fear of religion itself. I speak from experience, being strongly subject to this fear myself: I want atheism to be true and am made uneasy by the fact that some of the most intelligent and well informed people I know are religious believers. It isn’t just that I don’t believe in God and, naturally, hope that I’m right in my belief. It’s that I hope there is no God! I don’t want there to be a God; I don’t want the universe to be like that … My guess is that this cosmic authority problem is not a rare condition and that it is responsible for much of the scientism and reductionism of our time. One of the tendencies it supports is the ludicrous overuse of evolutionary biology to explain everything about life, including everything about the human mind. Darwin enabled modern secular culture to heave a great collective sigh of relief, by apparently providing a way to eliminate purpose, meaning, and design as fundamental features of the world.”  

    Maar dit is ook om dieselfde rede dat mense soos Collins hul geloof in God sal probeer inpas by hul bekende wetenskaplike milieu – in die geval van Collins, die biologiese natuurwetenskappe. Daarom sal Collins kunsmatig probeer om sy (nog) beperkte kennis omtrent die bestaan van God, in te pas by sy bekende speelveld, die darwinistiese evolusieleer – met die onvermydelike resultaat dat hy geeneen van die twee, regtig dien, nie – omdat die darwinistiese tipe evolusieleer hoegenaamd nie die bestaan van die Godheid akkommodeer nie en die Godheid, nie die darwinistiese tipe evolusieleer, akkommodeer, nie. Collins is op rekord vir, onder meer, die volgende:

    “Almighty God, who is not limited in space or time, created a universe 13.7 billion years ago with its parameters precisely tuned to allow the development of complexity over long periods of time. God’s plan included the mechanism of evolution to create the marvelous diversity of living things on our planet. Most especially, that creative plan included human beings. After evolution had prepared a sufficiently advanced “house” (the human brain), God gifted humanity with the knowledge of good and evil (the Moral Law), with free will, and with an immortal soul. We humans use our free will to break the moral law, leading to our estrangement from God. For Christians, Jesus is the solution to that estrangement. If the Moral Law is just a side effect of evolution, then there is no such thing as good or evil. It’s all an illusion. We’ve been hoodwinked. Are any of us, especially the strong atheists, really prepared to live our lives within that worldview?”

    Sien nou gerus ook weer die ateïs en naturalis, Nagel, se beswaar teen die, soos hy dit stel, “ludicrous overuse of evolutionary biology to explain everything about life, including everything about the human mind”.

    Verbasend dat u nie ook, as wetenskaplike joernalis, hierdie ernstige anomalieë in fabelagtige wêreld van die darwinistiese evolusieleerstuk openbaar maak nie. Of ís dit werklik verbasend, gesien dat u self ’n ateïs is en dus ’n persoonlike sekulêre religieuse persoonlike belang het om te probeer beskerm?

    Collins is nie alleen in sy benadering en hantering van die twee teenstrydighede, nie – daardie hibriede teologie-cum-evolusieleer wat hulle vir hulself saamgeflans het, nie, maar hulle is wetenskaplikes wat nog in hul geloof in God in hul kinderskoene staan, terwyl hulle baie vêr gevorderd is op die naturalistiese tipe God-lose studieveld. Met tyd sal hulle vorder in hul geloofservaring en volwassenheid in en veral hulle kennis omtrent, God en dán terdeë besef dat hulle besig is om natuurlike teenstrydighede met mekaar te probeer versoen – met die gevolg dat hulle die darwinistiese evolusieleer vaarwel sal toeroep. Daar is verskeie baie bekwame wetenskaplikes wat alreeds daardie punt bereik het.

    Ons vind dat u dus baie selektief kwoteer uit Collins om ’n sekere pro-evolusie prentjie te skep betreffende die hedendaagse geloofsgemeenskap én die sekulêre gemeenskap, wat glad nie die werklikhede verteenwoordigend weerspieël nie en dus ook nie intellektueel eerlik is, nie – veral nie komende vanuit ’n intellektueel en feitelike eerlike wetenskaplike joernalistieke oogpunt gesien, nie – die objektiwiteit toets word geheel en al gefaal ten gunste van die dosent, u, se persoonlike geloofsoortuiging – sekulêr religieus soos dit is… Ons sou immers verwag dat u die werklike prentjie sou weergee, of ten minste die weg daarheen te baan deur sinvolle aanhalings en verwysings. Maar dit doen u nie, want dit pas klaarblyklik nie u persoonlike sekulêr-religieuse oortuigings as ateïs, nie.

    Uiteraard is ateïsme, waarvan die darwinistiese evolusieleer baie bepaald ’n integrale deel vorm, ook mos ’n volbloed religie, soos enige ander. Sien gerus die definisies van religie in enige van die erkende toonaangewende woordeboeke – voorbeeld:

    Die Concise English Dictionary:

    “religion [r??l?d??n] n
    1. belief in, worship of, or obedience to a supernatural power or powers considered to be divine or to have control of human destiny
    2. any formal or institutionalized expression of such belief
    3. the attitude and feeling of one who believes in a transcendent controlling power or powers
    4. (Christianity / Roman Catholic Church) Chiefly RC Church the way of life determined by the vows of poverty, chastity, and obedience entered upon by monks, friars, and nuns
    5. something of overwhelming importance to a person 

    [via Old French from Latin religi? fear of the supernatural, piety, probably from relig?re to tie up, from re- + lig?re to bind]”

    Die Oxford English Dictionary:
    “religion
    Pronunciation: /r??l?d?(?)n/
    Definition of religion
    noun [mass noun]   the belief in and worship of a superhuman controlling power, especially a personal God or gods
    [count noun] a particular system of faith and worship
    [count noun] a pursuit or interest followed with great devotion

    Origin: Middle English (originally in the sense 'life under monastic vows'): from Old French, or from Latin religio(n-) 'obligation, bond, reverence', perhaps based on Latin religare 'to bind”.

    Die Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse Taal:
    “gods´diens
    1 (geen mv.) Verering, aanbidding van God of ’n god: Die behoefte aan godsdiens openbaar hom ook by die heidene.
    2 (-te) Gesamentlike plegtighede en leerstellings waardeur ’n groep of ’n kerkgenootskap sy God of god vereer; belydenis, geloof: Daar is baie godsdienste in die wêreld.
    3 Gesamentlike godsdiensoefening: Hulle hou smôrens en saans godsdiens.
    4 (fig.) Iets waaraan buitengewoon baie waarde geheg word, wat ’n sterk invloed in iemand se lewe vorm.”

    By toepassing van die definisie van religie, is evolusionistiese ateïsme ‘a formal and institutionalized expression of the belief, and pursuit and interest followed with great devotion, of overwhelming importance to atheist persons, in a power (evolusionistiese proses van toevallige natuurlike seleksie) considered to have control  of human destiny’.

    Dit is verbasend dat daar nog agnostici is wat ontken dat ateïsme ’n volbloed religie is, waarvan die darwinistiese evolusie leerstuk die vervangende religieuse deel is vir die geopenbaarde Skeppingsgebeure van Genesis 1 en 2 in die Bybel. Dit is mos darem ook al lankal bekend dat die darwinistiese evolusieleer juis só ontwikkel word om as teenvoeter vir die Bybelse skeppingsgebeure te dien – dus religie.

    Net so ook met die behandeling van professor Jerry Coyne se aanhalings. U vermeld nie dat die einste Coyne op rekord is te gesê het:

    “If  truth be told, evolution hasn’t yielded many practical or commercial benefits.’ It would seem, according to at least some evolutionists, that Dobzhansky was wrong after all: practical science can get on just fine without evolution … Most improvement in crop plants and animals occurred long before we knew anything about evolution, and came about by people following the genetic principle of ‘like begets like’ ” – hierdie laaste aanmerking van Coyne inderdaad heeltemal strydig met die darwinistiese konsep van transspesifieke  evolusie, maar geheel en al in lyn en pas met die Woord soos opgeteken in Genesis 1:11-12, 20-22, 24-25 ;

    Só ook met andere, soos A S Wilkens wat op rekord is vir:

    “‘Evolution would appear to be the indispensable unifying idea and, at the same time, a highly superfluous one”; en die bekende chemikus, Philip Skell: “Why do we invoke Darwin? Evolutionary theory contributes little to experimental biology” waarmee hulle natuurlik vir Collins direk weerspreek.

    Daar is natuurlik ook gelowige biochemici, soos molekulêre bioloog dr. Dudley Eirich, se bevindinge in praktyk:

    “In academia, evolution is a big issue. But once you get out into the real world of science and industry, we very seldom talk about evolution—it’s not even an issue. It really doesn’t have anything to do with the work we do”; en ook organiese chemikus dr. John McEwan: ‘We do not invoke evolution when designing drugs or treatment regimes, and in synthetic organic chemistry, evolution is irrelevant”.

    Insiggewend, maak Coyne die volgende aanmerking ter verdediging van die praktiese waarde van darwinistiese evolusie: “two genuine applications of evolutionary theory. One is the use of ‘directed evolution’ to produce commercial products (such as enzymes to protect crop plants from herbicides). The other is the clever use of insecticide-free ‘pest refuges’ to stop herbivorous insects evolving resistance to herbicides containing Bacillus thuringiensis (Bt) toxins, a strategy derived from principles of population genetics.”

    Sou dit wees dat Coyne nie besef wat hy self uitwys, nie? ‘Directed evolution’ ? Gerigte evolusie? Maar dit weerspreek die beginsel van darwinisme geheel en al – want die onbewese en haas onbewysbare hipotese waarop darwinisme juis geskoei is, is toevallige, lukrake, ongerigte (undirected) prosesse. Nes die sintetiese genoom projek van Collins et al. uiters gerigte aanwending van sorgvuldige manipulasie van inligting en prosesse om ’n gesogte biologiese proses te bewerkstellig en resultaat om te bereik, het absoluut níks met darwinistiese evolusie te make nie, maar álles met intelligente ontwerp, al is dit nou met aanwending van menslike Godgegewe verstand en intelligensie.

    Dié geleerdes se uitsprake, wat u beoogde proposisies verongeluk en die hoogs onbewysbare filosofiese en hipotetiese aard van die kernbeginsels waarop darwinistiese tipe evolusieleer geskoei is (nog nie ’n enkele biologiese - of natuurwetenskaplike proses is bewys toevallig, lukraak, tot stand te gekom het en dit is ook nie toetsbaar of kontroleerbaar nie, want álles wat wetenskaplikes dusvêr vermag het, was juis met aanwending van gerigte en sorgvuldig beplande prosesse deur aanwending van kennis en kollektiewe intelligensie), dui veel eerder op die religieuse as die wetenskaplike aard en funksie van die darwinistiese evolusie leerstuk.

    G’n wonder nie, dan, dat die evolusionistiese staatmaker, Prof Michael Ruse, wat redelik onlangs deur die darwinistiese kliek van sibbe as akademiese sluipmoordenaar afgevaardig is om die kreasioniste se nuwe publikasie eens en vir altyd die hoof te bied, het teruggekom vanaf sy vergadering met hulle, 'n gedeeltelik bekeerde man - soveel so dat hy op sy eie hofgetuienis van 'n dekade tevore, onder eed van waarheid destyds afgelê, teruggegaan het deur homself te korrigeer deur met die kreasioniste op die baie belangrike gebied saam te stem - dat darwinisme inderdaad nie so wetenskaplik is soos voorgegee word, nie, maar inderdaad in die filosofie tuishoort weens die vermenging van wetenskaplike gegewens tussen 'n groot klomp onbewysbare hipotese en konjektuur van  filosofiese aard en hy het nog boonop 'n pleidooi gelewer dat daar aan kreasionistiese standpunte oorweging geskenk word.

    G’n wonder nie, want evolusionistiese swaargewig, Stephen J Gould, wat saam met Niles Eldredge die sogenaamde “punctuated equilibrium” teorie ontwikkel het, druk hulle frustrasie met een van die sleutel aspekte vir die bewys van die darwinistiese evolusieleer – die fossielrekord wat die transspesifieke evolusieproses moet demonstreer in praktyk, só uit:

    “The extreme rarity of transitional forms in the fossil record persists as the trade secret of paleontology … to preserve our favored account of evolution by natural selection we view our data as so bad that we never see the very process we profess to study …  The absence of fossil evidence for intermediary stages between major transitions in organic design, indeed our inability, even in our imagination, to construct functional intermediates in many cases, has been a persistent and nagging problem for gradualistic accounts of evolution”

    Hoe regverdig u die aansprake wat u namens darwinistiese evolusieleer maak, terwyl Darwin self gemaan het dat  presies dít waarvan Mayr, Eldredge en Gould, om maar net ’n  paar van die mees prominente evolusioniste te vermeld, oor murmureer, die einde van die darwinistiese evolusieleer moet beteken, waar hy (Darwin) op rekord is te gesê het :

    “Geology assuredly does not reveal any such finely-graduated organic chain; and this, perhaps, is the most obvious and serious objection which can be urged against the theory. The explanation lies, as I believe, in the extreme imperfection of the geological record ... To the question why we do not find rich fossiliferous deposits belonging to these assumed earliest periods prior to the Cambrian system, I can give no satisfactory answer … The case at present must remain inexplicable; and may be truly urged as a valid argument against the views here entertained ... and lastly, although each species must have passed through numerous transitional stages, it is probable that the periods, during which each underwent modification, though many and long as measured by years, have been short in comparison with the periods during which each remained in an unchanged condition. …He who rejects this view of the imperfection of the geological record, will rightly reject the whole theory. For he may ask in vain where are the numberless transitional links which must formerly have connected the closely allied or representative species, found in successive stages of the same great formation?”

    Darwin se eie ontrafeling maak van sy eie evolusieteorie ’n lewelose en nuttelose kadawer vir doeleindes van die wetenskap. Hy het natuurlik gehoop dat die lakunes in die fossielrekord in jare wat kom, gevul sal word om die lewe weer terug te blaas, maar helaas. Twee eeue later en die saak het vererger eerder as verbeter. Maar dit laat die darwinistiese evolusioniste met ’n netelige probleem – hulle hang dié leerstuk eerder aan as ’n religie, ’n teenvoeter vir die Christelike Godsdiens en voel hul dus duidelik ‘geroepe’ om kunsmatige lewe in te blaas in die darwinistiese kadawer.

    As gevolg hiervan, soos vermeld, is sogenaamde ‘punctuated equilibrium’ teorie ontwikkel, om die abrupte verskyning van volledige soorte in die fossielrekord, te probeer verklaar. Vir die intellektueel eerlike wetenskaplike, sal dié fenomeen se feitelike ooreenstemming met die Genesis skeppingsrekord, onmiddellik opval – lees gerus weer die gedeeltes uit Genesis – die abrupte verskyning van fossiele van soorte in hul volledige formaat is geheel en al te versoen met Genesis 1 wat dié fenomeen in soveel woorde suggereer en let verder daarop dat Genesis derduisende jare gelede geskrywe is, toe argeologie en wetenskap en biologie, nog nie eens konsepte was in die menslike verwysingsraamwerk, nie. Dus, ’n betroubare antieke bron waarvan die korrektheid deur hedendaags wetenskaplike fossiel fondse bevestig word – en welke kennis slegs tot die outeur van die Genesis boek (die profeet van God, Moses) kon kom deur Goddelike openbaring – omdat God mos die Skepper van dit als, is. Dus, die ganse skeppingsrekord en wetenskaplike waarde van Genesis was sy tyd millennia vooruit, slegs moontlik deur Goddelike ingewing!

    U steun op die aanhalings van super-evolusionis dr. Jared Diamond, is veelseggend. Steun Diamond hoegenaamd nog die darwinistiese evolusieleerstuk? Dit is hoogs te betwyfel. Die bewyse wat hy aangee, vir evolusie in aksie, is alles behalwe darwinistiese evolusieleer – dit is eerder presies wat ons kan verwag in die Genesis tipe milieu waar die soorte intra spesifiek – in starre teenstelling met transspesifiek - met tyd sekere aanpassing ondergaan om gaandeweg aan te pas by veranderende omstandighede. As voorbeeld, noem Diamond, byvoorbeeld, die volgende:

    “Actually, there is superabundant evidence for animals evolving under our eyes: British moths becoming darker since the Industrial Revolution (industrial melanization), [and] insects evolving DDT resistance since World War II …”

    Die Britse motte is natuurlik verwysende na die gespikkelde motte wat gedurende die industriële revolusie tydperk swart spikkels ontwikkel het om hulself in die met-roet-bespikkelde omgewing waarin hul te vinde was, te kamoefleer – suksesvol so. Só ook die insekte wat kwansuis immuniteit teen DDT ontwikkel het – die ingeboude oorlewingskenmerk – genetiese variante - van elke soort. Dus, ons is dit almal eens – dié soort van ‘evolusie’ vind wél geredelik plaas maar dit is meer aanpassing as evolusie – hier speel die semantiek nogal ’n beduidende onderskeidende rol. Die realiteit is dus dat die seleksie proses daardeur gedemonstreer word, maar hoegenaamd nie evolusie as sodanig, nie. Die motte is steeds volbloed motte en die insekte steeds hul spesie insekte. Nêrens noem Diamond ’n enkele kontemporêre voorbeeld van evolusie (transspesifieke) in sy werklike betekenis van die woord – a la Darwin – nie. Nêrens gee hy vir ons ’n voorbeeld van transspesifieke evolusie in wording, nie. Hy kan ook nie, want dit bestaan gewoon nie en het nog nooit so bestaan, nie. Dus, evolusie (transspesifiek) in die darwinistiese sin van die woord het nog nooit plaasgevind nie, maar wel intra-spesifieke aanpassing by wyse van in-geprogrammeerde , geontwerpte seleksie, vind geredelik plaas – daar is honderde spesies insekte wat só aanpas omdat hulle almal reeds die genetiese variante het om so te aanpas. ’n Duidelike verklikker van ontwerp – wie anders as deur God?

    Dan natuurlik ook u eie aanhaling van Julian Huxley – waar hy na die darwinistiese evolusieleer verwys as “… comprehensive idea”. Idea? Ja, maar feit (fact), bepaald nie. Huxley help u dus nie in u strewe om die darwinistiese evolusieleer as meer as net ’n idee, ’n hipotese, ’n onbewese en onbewysbare teorie, te vestig, nie. Voorts is dit insiggewend dat u juis hóm aanhaal, want Huxley is juis ook een van dié wat na die darwinistiese evolusieleer verwys as “something akin to a secular religion”. Is dit omdat Huxley u eie sentimente ook reflekteer?

    Hoe regverdig u die status van ’n leerstuk – die darwinistiese evolusieleerstuk -  wat deur van sy mees prominente proponente aangesien en beskrywe word as ’n sekulêre of naturalistiese religieuse filosofie as ’n geloofwaardige wetenskaplike model wat deur algar bestudeer moet word? Waarom erken u nie maar ook dat die darwinistiese tipe evolusieleer slegs maar ook ’n naturalistiese religieuse filosofie is, maar wat as wetenskaplike model parodieer, nie?

    U haal bekende taksonoom Ernst Mayr aan, maar versuim om ook te vermeld, dat hy op rekords is te gesê het:

    “Given the fact of evolution, one would expect the fossils to document a gradual steady change from ancestral forms to the descendants. But this is not what the paleontologist finds. Instead, he or she finds gaps in just about every phyletic series … A localized population…suddenly appear(s) on the scene and then continue(s) essentially unchanged until [they] become(s) extinct. The complete standstill or stasis of an evolutionary lineage for scores, if not hundreds, of millions of years is very puzzling …”

    welke aanmerkings van Mayr sy opmerking deur u geplaas, geheel en al in ’n ander lig, stel. Wat Mayr dáár bedoel, is dat die evolusie leerstuk deur middel van teorieë (in praktyk, eerder niks meer as hipotese, nie) gemaak pas kan word om enige vraag van “waarom” te beantwoord – dit is beswaarlik wetenskap, maar eerder filosofie. Trouens, Mayr is een van die darwiniste wat die teorie as ‘n sekulêre religieuse filosofie promoveer – u eie aanhaling is bewys daarvan. Beswaarlik materiaal om mense te oortuig dat die darwinistiese evolusieleer hom met suiwer wetenskap en bewysbare wetenskaplike teorieë besighou.

    Darwinisme hoort nie in die natuurwetenskap klas nie, maar in die geskiedenisklas, want die fossiele wat opgegrawe is, sonder die fabelagtige, onbewysbare teorieë wat daaraan gekoppel word deur darwiniste, is bepaald interessant en by die geesteswetenskappe, waar allerlei religieë en filosofieë bestudeer word net omdat hulle bestaan. Die wetenskap kan uitstekend klaarkom en sal selfs floreer, daarsonder.

    Kobus de Klerk

  • Dankie, Kobus de Klerk, dat jy jou man kan staan op die hoogste akademiese en wetenskaplike vlak. Dat jy nie betower is deur die aanloklikheid van popularistiese weiering om die dissipline van opregte geloof in die Drie-Eenheid, en die konsep van Skepping/Sondeval/Verlossing nie. Interessant dat Jesus niks oor evolusie kwytgeraak het nie, Salomo ook nie, Dawid ook nie, die profete ook nie, Openbaring ook nie. Dis hoogs aanvaarbaar dat jy blootgewone aanpasbaarheid as alternatief vir evolusie stel. In die kol. Die hond in Rembrandt se Nachtwacht en in skilderye uit die mkiddeleeue en Renaissance lyk nog net soos my pavement special. Wat sal hy hom verbeel!
    Doen so voort, staan ons minder ongeligtes se man. Dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top