Olga Kirsch. ’n Lewe in gedigte deur Egonne Roth: ’n resensie

  • 0

Titel: Olga Kirsch. ’n Lewe in gedigte
Outeur: Egonne Roth

Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928426301

In 2016 het Egonne Roth haar doktorale proefskrif oor Olga Kirsch se lewe by die Bar-Ilan-universiteit, Ramat Gan, Israel, ingedien. “Olga Kirsch, a literary biography” is ondertussen keurig deur Daniel Hugo vertaal en vir Afrikaans-lesers beskikbaar gestel. Die werk bied ’n intieme binnekyk op die lewe van Olga Kirsch, een van Afrikaans se voorste vrouedigters en die tweede vrou wat ná Eybers in Afrikaans ’n digbundel die lig laat sien het. Soos Kirsch, het Roth op aliyah gegaan – oftewel na Israel verhuis.

Die narratief van Kirsch se lewe is inderdaad ’n boeiende een. In die eerste twee hoofstukke word oorskouend gekyk na haar moeder en vader se lewens: Sam Kirsch was ’n Joods-Litouse immigrant en Eva ’n Engelssprekende Joodse Suid-Afrikaner.

Die inkleding en stoffering van die biografie lees outentiek, byvoorbeeld die besonderhede rondom die skoolgeboutjie en die natuurbeskrywings waar Kirsch haar kinderjare op Koppies in die destydse Oranje-Vrystaat deurgebring het. Die leser is deurentyd bewus van die Kirsch-gesin se buitestanderskap in Suid-Afrika, van die anti-Semitiese venyn teenoor Olga se vader, ’n welvarende winkelier, asook van die opkoms van die Nazi-gesinde Ossewabrandwag in die dertiger- en veertigerjare. In 1948 het die Nasionale Party na die Joodse stem gevry, maar die Joodse immigrante het die onderdrukkende beleid van apartheid verwerp – dit het hulle herinner aan die Duitse Nuremberg-wette van 1935 (bl 100). Die biografie beweeg ook teen ’n groter Europese konteks, en Roth jukstaponeer die vervulling van die Sionistiese droom in Israel (1948) met die onderdrukkende rasse-ideologie van Suid-Afrika. Kirsch se verlies aan identiteit en – ironies – in tandem hiermee die vestiging van haar Joodse identiteit as Afrikaanse digter word naatloos in die vertellings verweef. Dit is ’n vreugde om Kirsch se poësie te herwaardeer aan die hand van Roth se besinnings, en “’n lewe in gedigte” word sinvol binne die groter biografiese konteks gekarteer.

As voorbeeld, die gedig op bl 32:

Toe ek nog klein was het ek aan jou sy
gestaan in die sinagoge en gevolg
terwyl jou vingers langs die letters gly
van woorde wat ek nog nie kon vertolk.
Die kantor hef sy stem op, yl en soet
wierook die lied omhoog. Rooi, geel en blou
slaan vlamme uit ’n ruit hom tegemoet –
sou die Voorsienigheid sy guns weerhou
wanneer daar so gesmeek word? En jy vou
jou syige gebedsjaal weg en hou
jou arm om my en ek staan gedruk
vas teen jou knie en bewe van geluk.
Swaar stemme styg in stadige akkoorde –
oomblikke veertig jare sonder woorde.

(Uit Negentien gedigte, 1972)

Roth gee ’n gevoelige binneblik op dié gedig. In ortodokse sinagoges het mans en vroue apart gesit. Dit is ook onwaarskynlik dat ’n jong meisie naby haar pa sou sit of langs hom sou staan. Dit is dus nie die besoek aan die sinagoge wat vir die spreker belangrik is nie, maar die feit dat sy as meisie langs haar pa kon staan en hy sy arm om haar gevou het in ’n openlike gebaar van toegeneentheid tydens die gebed.

Vervolgens neem Roth die leser op ’n reis deur die literêre establishment van die dag. Kirsch se tydgenote, soos die Dertigers, en hulle die invloede op haar poësie, word opnuut belig, soos ook haar jare lange vriendskap met Eybers en Lina Spies, asook haar mentorskap onder CM van den Heever. In ’n artikel bepleit Herman Charles Bosman ’n groter begrip tussen Jode en Afrikaners sodat hulle saam kan bou aan “a common nationhood in which they will each fulfill, in accordance to their individual characteristics, their destined role” (90). En Roth sorg vir interessante besonderhede, soos Kirsch se verhoudings met onderskeidelik Jan Rabie en Gerald Gavronski, wat later met Nadine Gordimer getrou het. Ewe insiggewend is die oorsig oor Kirsch se loopbaan as joernalis, onderwyser, vertaler, dosent, en werker op die kibboets. In 1949 trou Kirsch met die wêreldbekende wiskundige Joe Gillis, en twee dogters is uit die huwelik gebore.

Nêrens verloor die biografiese verhaal momentum nie: Roth werk selektief met haar boustof en verveel nie die leser met irrelevante inligting nie.

Afgesien van Kirsch se bydrae as Afrikaanse digter, kom haar Hebreeuse en Engelse poësie onder die soeklig, byvoorbeeld die publikasie van Nevertheless (1966), wat nêrens in enige ander biografiese opgaaf rondom Kirsch se lewe vermeld word nie.

Olga Kirsch. ’n Lewe in gedigte is ’n boek wat die leser verryk. Dit is enersyds ’n belangrike tydsdokument, andersyds ’n werk wat tydloos bly resoneer rondom temas van immigrasie, ballingskap, ontheemding en die mens se soeke na identiteit.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top