Oktober 1996 se emosionele skok en psigiatriese skade: verkeerde baba, verkeerde ma!

  • 3

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

                                                  

Mej Clinton-Parker en mej Dawkins het op dieselfde dag in 1989 in die Nigel Hospitaal in Gauteng elk geboorte aan ’n fris seun geskenk. Eersgenoemde het haar seun Gavin genoem, terwyl mej Dawkins se seun die mooi naam Robyn gekry het. Soos jy kon aflei, was albei die dames ongetroud ten tye van die geboorte van hulle kinders.

Mej Dawkins is deur Robyn se pa bygestaan met die versorging van hul spruit, maar vir mej Clinton-Parker was dit nodig om ’n eis in die onderhoudshof in te stel teen die persoon wat sy gemeen het Gavin se pa was. Ek stel dit met opset so ’n bietjie onseker, want dié persoon het vaderskap ontken en daar is toe weefseltoetse (populêr "bloedtoetse" genoem) uitgevoer op mej Clinton-Parker, Gavin en die vermeende pa. Die bloedtoetse het ’n ontstellende uitslag gehad. Dit het aangetoon dat nóg mej Clinton-Parker nóg die vermeende pa enige bloedbande met Gavin het. Gavin was met ander woorde nie één van hulle se natuurlike kind nie.

En dis waar mej Dawkins en haar seun Robyn in die prentjie kom. Verdere bloedtoetse wat ook op húlle uitgevoer is, het getoon dat die twee seuntjies kort na geboorte in die hospitaal omgeruil is. Gavin was nie mej Clinton-Parker se natuurlike kind nie; haar kind was Robyn. En omgekeerd: Robyn se natuurlike ma was nie mej Dawkins nie, maar mej Clinton-Parker.

Op daardie stadium was die twee seuntjies reeds 18 maande oud en was die bande tussen die moeders en die twee kinders al baie sterk. Die partye het bymekaar gekom en besluit om nie die twee kinders terug te ruil nie, maar om tog gereeld met mekaar te skakel sodat daar ook bande opgebou kon word tussen die kinders en hul natuurlike moeders. Dit sou meebring dat mej Dawkins, wat op Nigel gewoon het, van tyd tot tyd na Pietermaritzburg sou moes reis waar mej Clinton-Parker permanent gewoon het. Die omgekeerde sou ook moes gebeur. Daar sou dus heelwat tussen Pietermaritzburg en Nigel gereis moes word.

Dit is te verstane dat die nuus dat die babas in die hospitaal omgeruil is, vir die twee moeders ’n geweldige skok moes gewees het. Trouens, elkeen van hulle het tekens van senuskok getoon wat tot depressie gelei het. Op sy beurt het dit gelei tot sosiale onttrekking, prikkelbaarheid, emosionele onstabiliteit, versteurde slaappatrone, verlies aan aptyt en selfmoordneigings.

Die twee dames het daarna aksies om skadevergoeding teen die administrateur van die destydse Transvaal, wat die eienaar van die Nigel Hospitaal was, ingestel. Hulle eise het ingesluit ’n bedrag van R65 000 elk om voorsiening te maak vir reiskoste tussen Nigel en Pietermaritzburg, asook vir toekomstige mediese behandeling vir die sielkundige skok wat hulle opgedoen het. In mej Clinton-Parker se geval het dit R63 000 beloop en in mej Dawkins se geval amper R84 000. Daarby het hulle skadevergoeding geëis vir die senuskok, lyding en verlies aan lewensgenietinge wat die omruil van die babas tot gevolg gehad het.

Die hooggeregshof het op 20 Oktober 1995 – 17 jaar gelede – ’n baie interessante uitspraak gelewer.[1] Die hof het beslis dat dit gevestigde reg in Suid-Afrika is dat ’n persoon skadevergoeding kan eis vir suiwer senuskok of psigiatriese skade, in teenstelling met ’n eis vir ’n fisiese besering, soos ’n gebreekte been. Die hof het verder beslis dat die redelike personeel in ’n kraaminrigting bedag sal wees op die risiko dat pasgebore babas omgeruil kan word. Voorts, het die hof beslis, was dit voorsienbaar dat as babas in ’n kraaminrigting omgeruil word, die moeders een of ander vorm van psigiatriese skade sal ly.

Die hof moes ook die vraag ondersoek of, indien skadevergoeding in hierdie gevalle toegestaan word, dit nie die pad sou open na sogenaamde "oewerlose aanspreeklikheid" nie. As hierdie twee moeders toegelaat sou word om te eis vir die senuskok wat hulle opgedoen het, wat dan van iemand wat byvoorbeeld by ’n ongelukstoneel verbyry en ’n erg verminkte of dooie persoon langs die pad sien lê? Kan só ’n persoon dan nie ook ’n aksie om skadevergoeding indien vanweë senuskok nie?

Die hof was van mening dat daar nie regtig ’n gevaar van ’n "ontploffing" in sulke soort eise bestaan het nie, want anders as ’n verbyganger by ’n ongelukstoneel was die twee moeders intens by die saak gemoeid en het die nalatigheid van die verpleegpersoneel in die kraaminrigting hulle direk geraak. Die twee dames en die kinders sou lewenslank ly onder die sielkundige skade wat die nalatigheid van die verpleegpersoneel tot gevolg gehad het. Daarby het elkeen van hulle nou twéé kinders gehad om hulle oor te bekommer en oor besorg te wees, en dit was bloot natuurlik dat daar ’n behoefte by hulle sou wees om gereeld tussen Pietermaritzburg en Nigel te reis om die kinders te besoek.

Gevolglik het die hof vir mej Clinton-Parker ’n bedrag van R158 000 as skadevergoeding toegestaan wat bestaan het uit R63 000 vir toekomstige mediese koste, R65 000 vir toekomstige reiskoste, en R30 000 as algemene skadevergoeding vir emosionele skok en psigiatriese skade. Aan mej Dawkins is ’n bedrag van byna R184 000 toegestaan wat bestaan het uit naastenby R84 000 vir toekomstige mediese koste, R65 000 vir toekomstige reiskoste en R35 000 as algemene skadevergoeding vanweë emosionele skok en psigiatriese skade.

Terloops, en op ’n ligter noot: hierdie saak bewys natuurlik die "geldigheid" van die Afrikaanse liedjie "Die handvol vere" verkeerd. Op ’n plek sing ons mos: "Jy hoef nie te stry. Solank as die kind in die tjalie lê, lyk hy net soos jy!" Maar wat nou as twee stomme kinders, soos Gavin en Robyn, in die verkéérde tjalies loop lê?


[1]     Vgl. Clinton-Parker v Administrator Transvaal & Dawkins v Administrator TransvaaL 1996(2) SA 37 (WLD)

  • 3

Kommentaar

  • Baie interessant, alhoewel dit sekerlik  vir die twee ma's traumaties was. Vandag sou iemand  ’n boek daaroor skryf en/of ’n fliek maak. Ek is self nuuskierig oor hoe sake daarna vir die twee kinders en hul moeders verloop het, maar dit sal ons nooit weet nie.

  • Beste Gustaf

    Weer ’n baie interessante geval.  Doen asb so voort.

    Hierdie was bietjie meer as ’n ligte mistykie!

    Enjee

  • Stem saam! Baie interessante geval. Wonder of mens kan uitvind hoe so ’n geval oor die jare beide moeders en kinders geaffekteer het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top