
Foto: Canva
Oizys se dogter
Ek sit op die groen rusbank oorkant haar; die meubelstuk wat sinoniem is met alle shrinks. Haar bruin oë vertoon groter agter die modieuse dik lense. Ek wonder hoeveel stukkende mense betaal vir haar leefstyl. Ontwerperspakkie, Louis Vuitton-skoene.
“Tyd om derms uit te ryg?” vra ek.
“Ek verkies die term historiese agtergrond.” Sy tik met ’n Mont Blanc-pen op die lêer voor haar.
Natuurlik verkies sy om die term met minder emosie te belaai, maar ons altwee weet wat dit gaan verg. Ek sal weer eens moet delf in die donker dieptes van ’n siel wat gebroke daar uitsien. Ek is ’n swak aanmekaar-gegomde mosaïek, ’n weggooistuk wat met min talent of omgee gelap is.
“Waar begin ek?”
“Wie het jou die seerste gemaak? Daardie eerste herinnering wat jou steeds bybly?”
Ek sug. Hoeveel keer het ek reeds hierdeur geworstel sonder antwoorde of ’n manier om dit reg te maak in my kop? Ek is moeg. Waarvan sy nie bewus is nie, is die spul Lyrica-dosies vol ontsnapping in my klerekas. Soms roep hul harder na my as ander dae en een van die dae gaan ek hensop soos ’n hanskakie. My ICD 10-kode sal lees: T43.92XA intentional self-harm overdose using a psychotropic drug.
So sê Google en wat die soekenjin uitspoeg, is volgens die meeste van my vriende die waarheid. Common sense and critical thinking are rarely seen animals.
“My ma sê dat sy my nie wou gehad het nie.” Dis altyd my beginpunt. My vingerpunte bewe en ek sluk aan die knop in my keel.
“Hoe het dit jou laat voel?” Dis voorspelbaar. Dié is nie my eerste rodeo nie.
“Soos ’n hond.” Ek skuif aan my horlosie. “’n Wegloop-brandsiekhond wat net verdien om geskop te word.”
“Waarom sou sy so iets kwytraak, dink jy?”
“Ek was die rede waarom sy met my pa moes trou. In daardie tyd was dit ’n skande en ek dink sy het haar lewe anders voorgestel as wat dit op die uiteinde was. Later, ek vermoed ek was so ses of sewe, het sy my tannie aangeraai om nie breipenne te gebruik om ’n fetus te probeer aborteer nie. Ek het alles verstaan; was nie ’n dom kind nie. Dit het gevoel asof die kartelpatrone op die bont mat in golwe verander en oor my druis. Later sou die pyn in my lyf so oorweldigend word dat ek op ’n stoel geklouter het in die kombuis en twee Disprins sonder water afgesluk het. My tannie sou hulle immers nie mis nie. Daardie dag het die angs soos ’n raaf aan my binneste begin skeur.”
“Het jy dit destyds as verwerping ervaar?” vra sy terwyl haar silwer pen oor die bladsy knars.
“Wat dink jy?” vra ek en skud my kop. “Watter tipe ma doen dit as haar kind binne hoorafstand met haar nefies sit en speel?”
“Nie ’n psigies gesonde een nie.”
Buite dreun die donderweer. Dit skud aan die ruite op soek na inkomplek.
“No shit, Sherlock.” Ek rol my oë. “Sy’s ’n narsis. Alles het altyd om haar gedraai. Die res van ons was die gepeupel wat haar moes aanbid en kruip voor haar aangesig.”
“Haat jy haar?” Haar bruin oë hou my dop terwyl ek probeer om my bewende hande onder my sitvlak in te skuif. My hartklop versnel.
“Veg of vlug as ek in haar nabyheid is. Afstand bring die haat na vore. Sukkel vir weke as ek op die plaas was. God se straf gaan swaar op my lê. Ek wens dit was eerder sy wat die hiernamaals in is as my pa. Ek en my pa was voëls van eenderse vere.”
Ek skuif aan my horlosie. “Hoekom hulle so lank gewag het om hom na ’n ordentlike hospitaal te neem, spook by my. Sal altyd. Ek het hom in die middernagtelike ure gaan haal. Hy het twee keer ophou asemhaal in die motor. Het jy enige idee hoe dit voel om ’n brose liggaam te resus?”
“Neem jy jou ma kwalik?”
Sweet prikkel op my voorkop. My ribbekas trek nouer saam, knyp my longe en hart vas.
“Ja. Ons maak almal keuses – hare het lewens verwoes!” Ek glimlag deur my hartseer. “Wat dink jy is daar van my oor na my man ook sy rug op my gedraai het? Groener weivelde loop soek, iemand wat nie bipolêr of emosioneel was nie. Iemand met wie hy ’n verbintenis kon smee sonder seks. So asof dit al was wat my kon vervul.”
“Het hy jou ooit gevra wat dit is wat jou sou vervul?”
“Nee, kommunikasie en emosies is nie sy sterk punte nie. Hy skakel af, sit net daar en staar voor hom uit. Het die seuns dieselfde behandel. Kunssinnige siele kan nie groei in so ’n omgewing nie. Dit het die laaste bietjies van my siel uitgetorring. Hy het soos ’n kat met die wol gespeel en gekyk hoe ver hy my kon dryf.”
Ek vee oor my neus en wange. “Die egskeiding het my gebreek – die mees intense vorm van verwerping. Ek kon nie funksioneer nie en my kinders moes ongelukkig probeer om hul ma te lap. Dis nou sestien jaar en steeds sit ek vasgevang binne die net, ’n spartelende vis.”
Ek staar na die muur agter haar. Die deur is reg agter my. Moet ek nie eerder wegstap nie? My liggaam ruk en trane biggel oor my wange.
Sy gee ’n snesie aan.
“Ek is en sal nooit goed genoeg wees nie. Dis my waarheid en ook my grootste vrees.” Ek blaas my neus en probeer die ergste van die maskara onder my oë afvee. Niemand hou daarvan om soos ’n wasbeer te lyk nie.
“Is dit wat jy werklik glo?” Sy kyk stip na my. Haar bruin oë kyk sag.
“As genoeg mense jou verwerp, word dit wie jy is.”
“Maar dit is juis nié wie jy is nie. Voor my sit ’n intelligente, aantreklike vrou wat daartoe in staat is om gelukkig te wees. Die narratief in jou kop moet skuif. Neem die negatiewe denke gevange en beoordeel hulle. Waar of vals. Indien waar, kan jy iets daaraan verander, maar wanneer dit die teendeel aanbetref, moet dit soos water van ’n eend se rug afrol. Inherent, diep binne het jy die persoon gebêre wat jy die graagste wou wees. Skud haar wakker.”
“Daar heers ’n storm in my kop. Die negatiewe kry altyd die oorhand. Die stem in my kop klink nes my ma. Hoe kry ek dit stil?”
Buite grom die donderweer en vet druppels plons teen die ruite. Die shrink se kop ruk toe die weerlig teen die metaaldeel van die ruit vasslaan en die venster ratel. Toe die ligte afgaan, is dit donker.
Ons albei kyk na die buislig teen die dak, wag dat dit aangaan, maar dit bly af.
Daar is twee identiteite: die godin Oizys, die neerslagtige donker een, en Euphrosyne, die godin van geluk, vrolikheid en moedigheid, omgewe deur lig. Miskien het ek kleintyd al die verkeerde juk gekies en dra op nege-en-vyftig nog steeds swaar aan die mantel.
“Be unapologetically yourself,” maan die shrink. “Gee die leisels oor aan die kunstenaar in jou, laat sy jou vir ’n slag deur die lewe lei. Moenie jou geluk sentreer rondom iemand anders nie. Leef met oorgawe in die nou. Dit wat gebeur het, kan jy nie verander nie. Ja, dit het jou menseregte te na gekom en dit is nie iets wat enigiemand maklik sal kan vergeet nie, maar dis jóú reis, eie en uniek aan jou. Bo alle verwagtinge het dit tog gebou aan jou. Wanneer laas het jy vir jouself in die spieël gekyk en gedink jy lyk fantasties?”
Ek laat sak my kop. “Dit wat ek sien, is nie vir my mooi nie. Ek is vreesbevange om alleen oud te word. Wie sal na my kyk en dink ek is begeerlik? Daar is meer van my lewe verby as wat daar oor is.”
“Hoe sal jy weet as jy nie probeer nie?” Sy kyk op haar polshorlosie en ek besef ons uur is om. “Huiswerk vir die week: Verander elke negatiewe gedagte in ’n positiewe, sover jy kan. Hou dagboek daarvan sodat ons dit volgende week kan bespreek. Selfde plek en tyd?”
Ek knik. Die sielkundige staan op en trek my aan die hand van die rusbank af op. Sy draai my om sodat ek myself in haar vollengte spieël kan betrag.
“Jy is ’n amazing mens. Ek het lanklaas iemand soos jy ontmoet wat die woord kunstenaar in alle opsigte vergestalt. Sien asseblief wat ek sien. Hierdie is die ware jy.”
Ek buk om my handsak op te tel en loop na die deur toe. My duim streel oor die geskifte leer, speel met die gebreekte knip. “Sien jou volgende week.” Ek blaas my asem uit.
Buite het die storm hom uitgewoed. Die wolke skuif weg en sonlig straal direk op my af. Ek is in die kollig, goue stofdeeltjies dans om my. ’n Onverstaanbare vrede daal oor my neer. Miskien is daar tog hoop.
Toe ek my motordeur oopsluit onthou ek Andre Dubus se woorde: “We receive and we lose …” Dalk is dit tyd dat ek ontvang. Vir die eerste keer voel die heelal nie soos verwerping nie – maar net soos lewe.


Kommentaar
Rou met 'n glimmer van hoop.