Offers vir die vlieë
Fanie Viljoen
LAPA
ISBN: 97806396001779
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.
Met die lees van die eerste paar bladsye is ek terug in my ou regime, opleiding. ’n Lekker wat ek nooit weer oor wil hê nie. Omdat ek getroud is met ’n oud-MP-lid, verstaan ek die groter prentjie.
Opleiding kan brutaal wees, maar nie alle opleiding het gebroke mense gelaat nie. Baie van die terme en beskrywings in die boek is vir my bekend. Ek was opgewonde en het baie van die boek verwag. Ek moes egter vrede maak daarmee dat dit ’n distopiese verhaal is.
“Die Mag is een. Die Mag is alles.”
Die 17-jarige Eliam en ander groeplede, Victor, Victoria, Diesel, Cypher en Jethro, is deel van die “Program”, en op die skeidslyn tussen kind en volwassene wees.
Hulle bevind hulle in ’n tydperk na die Verdonkering, waar hulle opleiding doen in kamp Alfa, in die Residensie, iewers in Kolonië. Die stad herinner aan Hollywood-rillertonele van The walking dead en Judgement Day.
Hulle einddoel is om in die rooi gebied op die Front te gaan veg.
Die hemelruim wemel van hommeltuie.
Hulle lewe volgens die “Boek”, en verdedig die Nuwe Orde teen die AntiMag.
Indien hulle dit nie gehoorsaam nie, is hulle afvallig.
“Vertrou die proses.” “Vertrou die sisteem.”
Word hulle gebreinspoel om alles te glo?
Die kenteken van die hond Kerberos is orals om hulle te laat onthou.
“Ontmens” vir hulle land, word hulle soos voorwerpe behandel. Hulle word nie toegelaat om vir hulself te dink, besluite te neem, of te bestaan nie. Dit is net die unieke ingeëtste nommer op die wit van hul oë, en op hul polse getatoeëer, wat hul eie is.
Hulle fokus is oorlewing. Wilskrag en deursettingsvermoë word tot uiterstes getoets. Hulle ervaar traumatiese gebeurtenisse en sielswroeging, maar veral leer hulle om te verduur, en te swyg.
Hierdie intense kondisionering maak hulle gevaarlik. Hulle leer om emosies af te skakel en die dood binne hulle te dra.
Saam is hulle perfek. Selfs hul harte kan saam klop. Hulle kan as een liggaam dink, optree en reageer. En wanneer een van hulle nie daar is nie, voel dit asof hulle ’n ledemaat kort. Hul koppe en lywe is ewe sterk.
Maar oortrek met wonde en rowe wat sersant Torsten veroorsaak het.
Torsten is ’n sadis wat genot uit hul marteling put. Hy probeer om hulle te breek, maar hulle bly staande.
In Eliam se kop is “’n kokende pot gedagtegoed” na alles wat hy gesien en beleef het.
Galen en Cali is ’n les wat hy nie verstaan nie.
Eliam sal Torsten nooit vergewe nie.
Hoe die ses teenoor Torsten optree, herinner aan ’n hedendaagse sêding, dat die uniform en rang gerespekteer word, maar nie die man nie.
Uiteindelik, op pad na die Front, gebeur daar iets.
“Wie. Het. Dit. Gedoen.” Is die vraag.
Was dit een van hulle? “Nee natuurlik nie.”
Of het een van hulle, wat rede het, dalk aksie geneem?
Alles van Dingana-basiskamp is erger as Alfa-kamp. Hulle verruil sowaar een riller vir ’n ander.
Die “Dam van trane” gee onverklaarbare rillings.
Die ondersoek móét klaar, want hulle wil gaan veg. Hulle sit egter met die “maak gou en wag”-mentaliteit.
“Die mens is die enigste wese wat weier om te wees wat hy is. – Camus,” lees die slagspreuk in die Kommandant se bunker.
Eindelik, op pad na die Front, word vergelding geëis. Die gebeure wat volg, is vinnig, en genadeloos.
Eliam word met werklike déjà-vu gekonfronteer.
In die soeke na een.
“Die stryd gaan voort, maar die oorwinning is seker.”
Dit is die eerste keer dat ek ’n Fanie Viljoen-storie lees, en ek was aangenaam verras. Hy is ’n woordkunstenaar en smee briljante planne wat met die brein smokkel. Hy is ’n gunsteling onder die jeug en ander lesers, en verdien vir seker die lof wat hy ontvang.
Die boek skiet nie te kort nie, maar is grafies van aard, en nie vir sensitiewe lesers nie.
Ek beveel hierdie boek aan vir enigeen wat durf het.