Offerande deur Chanette Paul: ’n lesersindruk

  • 0

Offerande 
Chanette Paul
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799381320

Offerande is die tweede boek in die Offer-tweeluik en die opvolg op Offerlam. Die tweeluik is ook in Engels en Nederlands beskikbaar. In Offerlam dek Paul die tafel meesterlik met ’n komplekse, weldeurdagte en waagmoedige verhaal wat handel oor Caz Colijn wat koelbloedig deur ander as offerlam geoffer word ter bevordering van hulle eie selfsugtige agendas. In Offerande span Paul die net behendig en meedoënloos stywer wanneer Caz haarself dié keer vrywillig en met liefde op die altaar plaas ten einde haar dogter te red. Voeg daarby internasionale diamantsmokkelary, ’n ekstreme rebellegroep wat rassehaat aanblaas en volksmoord voorstaan as gevolg van die vergrype wat hulle onder kolonialisme beleef het, voorvadergeeste wat op bisarre wyses vanuit die graf toutjies trek, en selfs ’n subplot waarin ongelisensieerde vuurwapens en renosterstropery ’n rol speel, en jy kom onder die besef van die oorbluffende grootsheid van dié spanningsroman.

Paul verdien elke kompliment wat na haar kant toe kom. Dit sit nie in elke skrywer se pen om met soveel aplomb so ’n wye verskeidenheid uiteenlopende karakters en newekarakters suksesvol tot hulle reg te laat kom nie. Dít terwyl die fyngeknoeide, ineengestrengelde storielyne jou as leser reeds kiertsregop laat sit en notisie laat neem dat ’n meesterskrywer aan die woord is. Paul pak die verhaal soos ’n ervare skerpskutter aan wat met volle vertroue in haar vernuf aanlê op die teiken wat sy in haar visier gestel het. Sy vuur die skoot af en die koeël trek sekuur en seker deur ’n byna surrealistiese maar georkestreerde chaos wat nie net as randfiguur in die leser se periferiese visie huiwer nie, maar ook dreig om die leser te oorrompel en in te suig. Paul lei haar leser soos ’n opgeleide snuffelhond deur ’n mynveld tot by die laaste hoofstuk van die boek wanneer die proses van ontknopings jou laat voel dat jy nog die heeltyd met die slagpennetjie van ’n handgranaat in jou hand gestaan het. Na 502 bladsye se uitmergelende intriges, spanning en kophou, word die leser beloon deur die bevredigende wete dat elke los draad stewig vasgeknoop en deur ’n bedrewe kunstenaar in ’n artistieke dog funksionele mandjie ingeweef is.

Offerande noop die leser op die donker vasteland om introspeksie te hou oor sy of haar Afrikaanskap. Aan die een kant is daar diegene, soos Erevu Matari, Jela Mphela en Kembo Eliasi, wat vergelding soek en hoop op reafricanisation en dewhitenisation. Aan die ander kant is daar Caz se eks wat droom van ’n dorp waar mense met ’n velkleur soos syne kan laer trek. Te midde van al hierdie ekstremisme moet Caz en haar biologiese dogter, Lilah, hulle bestaan balanseer asof hul oor ’n afgrond op ’n styfgespande tou loop, want albei het swart én wit bloed in hul are, al is Caz wit gebore en Lilah swart. “Multi-racial, noem Lilah haarself, maar wat kleur betref, is sy swart. Wat bloed betref, is sy ’n kleurling. Wat opvoeding betref, wit.” Het enige mens immers beheer oor hoe sy gene aanmekaargelas is en kan hy hom roem op hoe die pigmentdobbelsteentjie vir hom geval het? Soos Elia Nzuri, Ammie se minnaar, hom in 1961 in sy sterwensoomblikke afvra: “Sien God ook kleur? Maak Hy ook onderskeid tussen swart en wit? Nee. Dit kan hy nie glo nie.”

Offerande vereis van die leser om na te dink oor vergifnis en al is versoening dalk nie realisties haalbaar in die volle sin van die woord nie, moontlik ’n middeweg te vind om ’n toekoms tegemoet te gaan waar die een die ander nie heeltyd wil verdelg oor dinge wat in die verlede lê en niemand ’n jota of tittel aan kan verander nie. Soos Martin Luther King gesê het: “Darkness cannot drive out darkness. Only light can do that. Hate cannot drive out hate. Only love can do that.” Nie net is dit ’n les wat alle Suid-Afrikaners in die postkoloniale en postapartheid tydperk ter harte kan neem nie, maar Caz self besef dit toe sy haar biologiese ma, Ammie, se hand op haar sterfbed vashou. Ammie het immers erken: “Ek kan jou nie skielik liefkry net omdat ek sterf nie, Cassandra. Kan nie nou skynheilig raak nie. Maar ek ag jou ...” Eers wanneer ons mekaar begin ag, rêrig begin rááksien, kan ’n skrefie lig die alewige immer teenwoordige duisternis minder skrikwekkend en meer draagbaar maak.

Paul se taalgebruik in Offerande skitter soos almasi (diamante). Woorde soos “kurk floep”, “wyn reutel” en idiomatiese uitdrukkings soos “’n appeltjie vir die dors”, “so slinks soos die houtjie van die galg” en “aartjie na sy vaartjie” het my telkens laat huiwer en wéér lees net vir die lekkerte daarvan.

As kritiek het ek dit teen Bruno van Sloet, die wreedaardige Cézar se seun, se “gerieflike” dood wanneer Caz hom oorboord stamp en hy terstond verdrink – veral omdat Bruno se wreedheid en “ongure karakter” telkemale uitgelig word in die teks en die leser dus ’n hewiger konfrontasie sou verwag het. “Bruno was ... kort maar sterk en met ’n gemeenheid in sy oë wat selfs Cézar Janssen s’n oortref het.” Nog ’n toevalligheid wat te dik vir ’n daalder is, is die feit dat Lilah, danksy Google, uitvind dat die swerwer-cajun-musikant in Bimini wat moontlik haar tweeling se pa is, in ’n motorfietsongeluk gesterf het. Al dink sy “haar kinders is dalk onnodige komplikasies gespaar”, het ek die idee gekry dat aangesien Aubrey Ducheyne, die ander vaderskapkandidaat, ook dood is, dinge net té netjies afgerond vir Lilah uitgewerk het.

Op die voorlaaste bladsy ervaar Caz die volgende katarsis toe sy in ’n rivier swem: “Sy voel hoe Afrika se vrugwaters haar toevou, koester die gevoel vir ’n oomblik, en weet: Sy was en is deel van die probleme hier. Sy wil deel wees van die oplossing ook.” Afrika is in die Afrikaan se bloed. Al skud jy Afrika se stof van jou voete af, bly dit immers onlosmaaklik déél van jou in jou onthou. Caz weet sy wil in Afrika bly. “Hier waar haar voetsole die aarde onder hulle begryp. Min of meer.”

Paul se Offer-tweeluik neem sy regmatige plek in as persoonlike gunstelinge op my boekrak. Dit is beskikbaar by LAPA Uitgewers en ander toonaangewende boekhandelaars.

  • Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai. 

Lees ook Louise Viljoen se lesersindruk van Offerlam. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top