Oestyd-skryfuitdaging: Vier vroue en 'n strike

  • 0

Vier vroue en 'n strike

Die vier vroue het altyd as die oestyd verby is, onder die koelteboom bymekaargekom.  Daar het hulle vir ure met hulle bene voor hulle uitgestrek gesit.  Dit was hulle bymekaarkomplek voor die strike, aan die voorkant van die huisies wat vandag murasies is, met die stowwerige sand om hulle.

Vandag sit hulle maar weer onder die boom.  Buitestaanders in 'n wêreld wat nie regtig in arm plaaswerkers se lot belangstel nie.  Vier vroue, vir wie daar nie veel hoop of verwagting in die lewe is om uit die greep van armoede te ontsnap nie, saamgewaai onder 'n boom.  Afgesonder van die plaas soos die klippe en die bome, gestut en gesteun met gemeenskaplike ellende sit ma en drie skoondogters.  Hulle bestaan basies om te dien en te sê 'Ja, Baas,' hulle geld te vat en te loop.  Met karige lewensmiddele hou hulle krampagtig vas aanmekaar.  Hulle verstaan mekaar en dra mekaar se laste.  Die jong vroue se mans werk op die plaas.  Die ouvrou leef op genadebrood.  Haar seuns is die bindmiddel vir die vier vroue.

Armoedige seisoenwerkers vasgevang in die enge grense van hulle skamel wêreld roep herinneringe op.  Hulle gesels hartseer met mekaar.  Met rukke loop die trane, wat met hande of 'n mou afgevee word.  Voor hulle is 'n grond pad met die geskree van klein kindertjies, waar nou en dan 'n ou kar verbyspoed of draffende donkies 'n klingende karretjie trek.  Daar is 'n verwaarloosde draadheining om die perseel.  Wanneer hulle wou uitkom of wegkom van die kamers waar die son nooit geskyn het nie, het hulle hulle na die boom begewe.  Vroeg reeds het hulle besit van die koelte onder die boom geneem.  En tee uit bekers gedrink.

Hulle wou nie rêrig strike nie.  Net vra: “Baas, kyk vir ons.  Ons issie honde nie.  Ons pay dieselle prys vir brood as die baas.”  Op 'n manier het hulle vrede gemaak met hulle armsaligheid.  Hulle leef in 'n atmosfeer van wanhoop en verydeling.  Hulle het geleer of liewer gewoond geraak om met min klaar te kom.  Saam woon hulle op die plaas waar 'n klompie huisies, sommige nou afgebrande ruïnes, dig by mekaar gebou is.

Van almal wat daar bymekaarkom is die ouvrou, Rose die mees uitgesproke een.  Haar man het immers jare op die plaas gewerk en is hier begrawe.  Hoeveel jaar terug?  Nee, sy kan nie meer onthou nie.  Die letsels van armoede is op haar gelaat ingegraveer.  Daar loop trane oor haar wange.  Dit kom saam in die hoeke van haar oë, die oë is dof, hulle is oud en moeg en in haar hare is grys strepe.  Haar verweerde voorkoms, groewe op die gesig en onversorgde hare vertel 'n verhaal van 'n harde bitter lewe.  Sy roep die verlede in herinnering toe haar oorlede man nog baie rye gewerk het.  Emosies onthou beter as verstand, want sy vergeet nie die swaarkry tye wat die geld min gebly het nie.  Vrydag was betaaldag en teen Saterdag was die geld op.  Dan het hulle maar weer vir volgende Vrydag gewag.  Sy onthou die jare toe haar laaities nog klein was.  Die dae wat hulle in die stofpaaie draadkarretjies rond getrek het.  Hulle het ook van karre gedroom. 

Toe is die hartseer vir haar moederhart te veel.  “Nou't ek okkie meer 'n ou holtetjie virrie voet  nie ...,”  kla sy jammerlik.  Die oudste skoondogter, vee kort-kort trane af, maar meeste van die tyd staar sy voor haar uit.  Vandag praat hulle weinig met mekaar.  Elkeen is besig met sy eie gedagtenisse.  Dan staan sy op en gaan krap in die oorblyfsels van dit wat eens hulle blyplek was.  Onder die as ontdek sy 'n stuk verwringde metaal.  Sy tel dit op en gee dit aan sodat almal kan sien.  “Kyk hiesô.  Remember ma nog die ding?” vra sy terwyl sy na dit kyk.  Rose kyk lank na die stuk.  Sy sluk en toe praat sy.  “Dit wassie skottel wat julle se pa met sy eerste geldjies vir my gekoep het.  Hy was my only true love,” sê sy.  Iewers tussen die verfrommelde metaal en as lê 'n familie se geskiedenis, drome en ideale.  Sy begin saggies te snik.  Dan kom dit hortend uit, “die kiekies, pa se pertret … die een wa hy daai bonte taai gewear het … ek't dit nog vir hom gegee … my wedding present … en my pa en ma se pertrette en … en … ag als nou verbranne as.”  Oorweldig met hartseer het sy 'n kilheid teen haar hart gevoel, soos die kilheid wat destyds met die forced removal deur haar lyf gegaan het.  Die jong vroue skud hulle koppe in ongeloof terwyl hulle na die toneel kyk.  “Nei, ek wietie …,” sê die jongste stil skoondogter vir die eerste maal.  Sy lyk nie soos 'n plaaswerker nie.  Sy het twee stringe plastiekkrale om haar nek.  Elkeen 'n ander kleur.  Haar hare is netjies gevleg.  Sy sit daar sonder om veel te praat, terwyl haar oë van die een na een na die ander beweeg. 

In verslaentheid sit die vroue onder die koelteboom.  Hulle het hulle lewens geoffer vir hulle baas.  “Nei, dit helpie, die baas is die baas,” sug Rose.  Sonder om op te kyk drup die trane op hulle skote.  Arme, armoedige plaaswerkers.  Hulle het al die jare gewens hulle kan vir hulle 'n eie huisie koop, maar daar was nooit die geld daarvoor nie. 

Die middelste skoondogter beaam die hele tyd wat die ander te sê het met: “Ek wietie okkie.”   Wat kan sy anders sê as sy saam met hulle stem? 

In die verte weerklink die lawaai van duisende plaaswerkers: “Amandla! … Amandla! …”  Met alles afgebrand om hulle klink dit hol en leeg.

 

 

 

 

Klik hier vir besonderhede oor PEN Afrikaans se Oestyd-skryfuitdaging.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top