Oestyd-skryfuitdaging: "Oestyd sonder ’n wingerdlied" deur Cas Vos

  • 1

Oestyd sonder ’n wingerdlied

Die wynboer kyk na die groen wingerde wat oor heuwels slinger. Trossies hang aan die stokke. “Vanjaar is ’n goeie oesjaar,” sê hy vir homself terwyl die wind oor die blare streel. Dis net ’n kwessie van tyd. Die korrels suig nog vog uit die moederstam. En as oesdag kom, luister almal na die wingerdlied.

Die werkers gaan ’n goeie bonus kry. Sonder hulle hande en harte kan hy nie wyn maak nie.

Jan is die bestuurder. Hy is al vir die tweede geslag op die plaas Geluksdal, in die Jonkershoek-gebied, waar die son saans kom nesmaak. Hy het amper soos ’n kind in die huis grootgeword. Pa Hans het hom soos ’n hanslam opgetel. Die speel- en geesmaat van Markus. Hans het hom skool toe gestuur om saam met die wittes tot matriek te leer. Toe het hy aan hom ’n mooi lappie grond gegee, sy erflating. Daarop kon hy sy eie wingerde aanplant. Jan was ’n bedrewe boer en bestuurder van die groot plaas Geluksdal.

Markus het twee seuns by Hetta. Fanie is ’n boer in murg en been. Hy boer op sy pa se aangrensende plaas. Vir hom is die druif ‘n geskenk van Bo. Maar Sarel het ’n donker kyk in sy oë. “Ek wonder wat nog van Sarel gaan word?” het Markus meer een keer aan sy vrou gevra. “Die liewe Here alleen weet.”

Jan se dogter Martha, sy oogappel, het een aand na die plaasdam toe gegaan. Sy wou kyk hoe die skemer aan die water raak en donker oor die landskap vou. Dáár is sy oorval en van haar maagdelikheid beroof. Sy het haar hees gegil en gespartel. Maar sy kon nie loskom uit die greep van die wilde drif nie. Die skender het sy gesig bedek. Tog het sy vermoed ...

Sy het gehawend huis toe gehardloop en vir pa Jan en ma Hester die nare ervaring in woorde wat mekaar gesoek het, vertel. Die skuldige is nooit aan die man gebring nie.

Martha is na drie maande onverwags na familie in Voëlfontein in die Groot Karoo gestuur. Dit was glo ter wille van haar gesondheid. Asma of so iets. Maar onder die werkers het allerhande praatjies rondgeloop. Agter ’n bakhand is in die donker gefluister.

Jan het meer as vermoed, maar ’n doek oor sy gewete getrek en sy mond dig gehou. Alles ter wille van pa Hans. Maar sy hart was nooit lekker hieroor nie. Markus het soms gehoor die werkers raak onrustig as hy na Sarel verwys. Daar is iets wat hy nie weet nie.

Die praatjies oor sy seun het Markus gepla. Snags het hy in sy bed hieroor rondgerol. “Is dit moontlik?” het hy gesluimer-dink. Hy het letsels van al die fluister opgedoen. Toe besluit hy, buig of bars, hy gaan vir Jan prontuit vra.

“Jan, ek moet my hart skoon kry. Jy ken my en my voorsate. Ons is van kleins af maats. Die aaklige ding wat met jou meisiekind gebeur het, krap nog. Ek slaap die afgelope tyd nie.”

“Ek weet nie of ek vir jou kan of wil sê nie. Ek het voor die Here gesweer om niks oor die jongman en Martha te sê nie.”

“Jan, jy hoef niks meer te praat nie. Ek weet nou. Jy hoef nie bekommerd te wees nie, ek sal sorg. Dis my plig ook.”

Markus het met ’n flenter hart huis toe gestrompel. Moeg van laste. Miskien moet hy ook soos Jan maak. Laat dit alles net by hom verbygaan.

Maar hy kan nie.

Markus het weer lig begin sien. Dis amper Februarie. En dis dan oestyd.

Sprinkelbesproeiing het die droë grond die afgelope maande gelaaf en die wingerdstokke het dit opgelek. Die Kaapse dokter het gehelp om die risiko van muf en swamsiektes te verminder. En dan het die werkers die wingerde gespuit om al die onheile weg te hou, en ook die broodnodige bemesting gegee. Die groen blare lyk soos sambrele teen die son wat sy vuurtong laat flits. Hierdie jaar gaan die oes alle verwagting oortref.

As die oes van die lande af is en die druiwetrosse in die pakhuise vir hande wag, is dit amper bonustyd. Tyd vir jolyt. Markus betaal en behandel sy werkers soos deel van sy familie. Dis hulle wat hom so ’n kroonboer gemaak het. Sonder hulle sou sy hande afgekap wees. Veral Jan, wat self ook ’n voorslagboer is. Die een met wie hy ‘n geheim deel. Jan is naby hom; hulle praat dieselfde harts- en mondtaal. En dan is daar die onbekende kind. En tog ook nie. Want bloed is dikker as water. Markus wonder of die ma en die kind darem kop bo water hou.

Sarel sal moet pa staan vir wat hy gedoen het. Die volgende oggend, voordat die son nog sy kop opgetel het, staan Markus voor Sarel. “Ons het lank genoeg oor jou kind stilgebly. Dis nou tyd dat jy jou plig teenoor jou kind en Martha nakom.” ’n Ongemaklike stilte maak die vertrek vol. Die volgende dag is daar geen spoor van Sarel nie. Hy’t nes ’n miswolk verdwyn.

Op die buurplase is onrus soos ‘n veldbrand. Dis glo die lone se skuld. Soos ’n sprinkaanplaag word die wingerde platgetrap.

Markus roep Jan om oor die opstande te praat. Dis soos ’n rook wat uit ‘n skoorsteen dwarrel. Almal sien daar word vuur gestook.

“Dinge lyk nie goed nie, Jan.”

“Die mense praat ook maar in die nagte.”

“Waaroor praat hulle?”

“Lone om kos te koop vir honger mae.”

“En ons mense?”

Jan bly lank stil. Sy gesig is vol kommerplooie.

“Ook hier. Maar hier is dit tog anders.”

“Ek weet.”

“Hier sal niks gebeur nie. Jy betaal jou werkers wat hulle toekom; jy is regverdig en ’n eerbare man.”

Hier teen die einde Februarie buig die wingerde onder die swaar trosse. Die trosse swel soos ‘n vrou wat na geboorte smag.

Soos een familie is almal doenig. Heeldag is dit pluk en aanry na die pakkamers toe, waar ander hande wag. Dis parstyd in die Kaap.

“Dis ’n geseënde oesjaar,” sê Jan.

Daar draai liedere in die lug. Geluk is net om die draai.

Toe, uit die bloute, soos donderweer, kom die nuus. Die onrusstokers van buurplase is op pad na Geluksdal toe. Hulle gun Markus en sy mense nie hulle geluk nie.

Oral is dit ’n geskreeu en ’n gedreun van ’n ander wêreld. Dit voel of die oordeelsdag naderkom. Dreigend, grommend.

Plakkate roep vir meer geld en huise.

“Maar ons kry meer as genoeg,” brom Jan. “Ons speel nie saam nie. Om die dood toe sal ons nie die hand wat ons kos en klere en blyplek gee, afkap nie. Dis malligheid. Hier op Geluksdal sal ons lewe, sal ons sterwe.”

Die polisie probeer die onrusstokers van Geluksdal af wegkeer. Maar hulle beur en dreun met stokke, kieries, messe, en selfs rewolwers al vorentoe.

Toe Markus en Jan weer sien, is dit die ene vlamme. Die skure is aan die brand gesteek.

“Genoeg is genoeg. Ons gaan hulle in hulle skoene laat omdraai. Die bliksems!”

“Nee, laat die polisie dit doen. Asseblief Jan.”

Niks keer Jan en die werkers nie. Die hel is los.

Toe spoeg ’n rewolwer ‘n skoot uit sy bek. Iemand val neer. Dis net bloed. ‘n Woede pak Markus. Hulle het een van sy mense geskiet. Wie is dit?

’n Man lê doodstil in die son. Sy bloed lyk soos druiwe wat oopbars.

Toe Markus langs die bebloede man in die stof neerbuk, fluister hy hortend: “Sy naam is Hans. Jy is nou sy enigste oupa.”

“My broer, ek sal hulle gaan haal. Sy oupa sal daar wees vir hom en sy ma.”

Oestyd sal dié jaar sonder ’n wingerdlied wees.

Klik hier vir besonderhede oor PEN Afrikaans se Oestyd-skryfuitdaging.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Louis Pienaar

    Baie treffende en uitstekende skryfwerk, met ’n sterk spanningslyn en intrige. Die slot slaan mens se wind vieslik uit!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top