Oestyd-skryfuitdaging: Die martelaar

  • 0

Ek kan nie onthou hoe ek daar gekom het nie, ook nie wanneer nie. Vir ’n oomblik is ek niemand en alles. Skielik skyn die lig skerp in my oë en ek knyp hulle op skrefies en probeer rondkyk. Ek voel die stampe en stote soos wat ek rondgegooi word tussen mense. Mense wat my skel en vloek en vuil uitkyk. Ek besef dat ek heeltemal in die teenoorgestelde rigting as hulle loop en wil beweeg. Ek weet nie hoekom nie, maar my motiewe is duidelik anders, en hulle keur dit nie goed nie. Hulle is baie, te veel. Ek druk deur om te kyk of ek nie uit die geharwar kan kom nie, maar verby hulle is net nóg stampe en stote in die perfekte swart-en-wit klere waarin hulle almal geklee is. Ek voel hoe hulle kyke en woorde my begin sny en ek besef ek moet begin beweeg. Ek druk vorentoe deur die massas en die woorde en fluister word meer en die kyke word net by die minuut woedender en vuiler. Hulle loop gerig en gemotiveerd. Ek word skielik gevul met die grootste drang om teen hulle te loop en deur hulle te druk om te kyk waarheen ek kan of wil gaan. Ek druk en stamp en ek word gestamp en gedruk en gevloek. Ek weet dat ek iewers wil of moet wees, maar dis moeilik teen die stroom mense in die teenoorgestelde rigting. In die stroom teen my. Hulle stamp en vloek nog al die pad vol spoed. Die drang pak my weer. Ek moet weet waarvandaan hulle kom en hoekom ek daarvan weggehou word en hoekom ek die drang het om daarheen te gaan. Die nuuskierigheid en wil groei sterk in my en ek stu vorentoe. Ek begin meer en meer terugstamp en my ore begin die skel en beskuldigings uitsluit. In die chaos sien ek ’n openbaring en besef waar my oorsprong lê. ’n Dogtertjie in die groep bevraagteken haar moeder, wat haar styf aan die hand het. Sy begin al hoe meer in die ander rigting neig en breek eindelik los. Sy begin tussen die mense deur beweeg en sukkel net so hard soos ek. Ek voel hoe sy voel en weet wat sy weet. Haar moeder wil haar terugroep, maar die skel en die uitjouery word al hoe harder sedert ek begin terugstamp het. Ek sien hoe haar wit-en-swart klere skielik metamorfeer in een groot grys kledingstuk soos myne en ek besef ons het dieselfde doel, dieselfde soektog. Sy sien my en ons vang mekaar se oë, en ons albei besef onmiddellik wat die ander een se motiewe en ambisies is. Ek begin weer met alle geweld deurdruk. My liggaam raak moeg en ek kry nie genoeg asem gevang nie. Die lig skyn reg in ons oë. Ek verloor my balans en val in die chaos in. Die vreemdelinge om my begin lag en hulle geskel en gevloek hou aan tot dit net een lang, lae gesuis in my ore is. Ek knyp my oë toe en voel hoe hulle op my trap en my rol soos hulle struikel oor my liggaam, wat verlore lê onder die stormloop. Die pyn binne en buite raak erg en dit word wit. Skril tussen die gesuis deur hoor ek die dogtertjie se roepe na my en ek weet sy sal en gaan deurdruk – sy moet aanhou loop en druk en stoot tot sy die lig bereik, maar ek ... ek is klaar.

Klik hier vir besonderhede oor PEN Afrikaans se Oestyd-skryfuitdaging.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top