Oekraïne se bloed in ons brood

  • 0

Foto deur CANDICE CANDICE van Pixabay

Oekraïne se bloed vloei deur ons brood in ’n wêreld waar die ou orde se aantrekkingskrag verkrummel.

Vir ons in Suid-Afrika – die boer wat voor dagbreek in sy mielieland staan, die ma wat by die Spar die prys van ’n brood in haar hand weeg, die mechanic wat na die brandstofpomp kyk, die onderwyser wat met ’n dun salaris probeer oorleef – is Oekraïne nie bloot ’n verre skermvuishou nie. Dit is ’n skaduwee wat oor ons eie tafel val. Dit raak die brood wat ons breek, die diesel in ons bakkies en die onsekere môre van ons kinders.

Sedert 2014 het die onrus in Kiëf die vrugbare grond van Donbas in ’n slagveld verander. Jare se lyding, mislukte diplomasie en uiteindelik Rusland se volskaalse inval in 2022 het aan albei kante diep, rou wonde gelaat. 

Rusland het ’n soewereine buurland binnegeval – ’n daad wat die internasionale orde wat dit self voorgee om te verdedig, verbreek het (en steeds op die kantlyn staan wyl Israel in oortreffende trap moord en doodslag oor hul grense saai en die VSA vir die mense in Iran en elders demokrasie op hul tradisionele manier – sonder vra – met bomme bring).

Die Weste het op sy beurt die konflik omskep in ’n uitputtingsoorlog met massiewe wapenlewering, terwyl dit die ekonomiese en politieke gevolge vir die res van die wêreld afskuif.

Die werklike oes is duisende dooies, miljoene vlugtelinge, gebroke kerke en landerye wat swart gebrand lê. En oral die gewone mense wat tussen die wiele van groter magte vasgevang is.

Onder die oppervlak woed ’n ouer stryd: die roeping om die grond met eerlike hande te bewerk en gesinne in vrede groot te maak, teenoor die verre web van geld en mag wat rente oes sonder om ’n saad te plant.

Sedert 2020 – en versnel deur die oorlog – het groot beleggingsfondse en Westerse finansiële instellings Oekraïne se vrugbare grond opgeraap deur lenings, “hervormings” en heropbouprogramme. Die kleinboer in die loopgrawe bloei, terwyl die grond in die hande van afgeleë aandeelhouers beland. 

Dit is nie ’n unieke Oekraïense storie nie. Dit is die ou patroon van finansiële kapitalisme wat oral grond en arbeid omskep in bates vir diegene wat nie plant nie, maar slegs oes. 

Geld kan dien. Maar wanneer dit woeker en grond toesluit, word dit ’n dief in die nag – of dit nou in Oekraïne, Afrika of elders gebeur.

Wat duidelik raak, is dat die ou Westerse orde se aantrekkingskrag begin verkrummel. Wat jare lank as ’n natuurlike model vir die wêreld aangebied is – ’n kombinasie van “vrye markte”, morele waardes en politieke leierskap – het vir baie mense en nasies begin voel soos kulturele en ekonomiese oorheersing.

Die taal van vryheid en gedeelde waardes het plek gemaak vir sanksies wat die armes tref, tariewe wat mededinging smoor, en ’n wapenbedryf wat uit die lyding wins maak. Hierdie verskuiwing het die Oekraïne-konflik nie net moontlik gemaak nie, maar dit ook verleng.

Onderhandelinge raak byna onmoontlik wanneer die belange van wapenvervaardigers, energiehandelaars en finansiële instellings swaarder weeg as die eenvoudige behoefte aan vrede.

Vandag maal die oorlog voort met hoë koste aan albei kante. Oekraïense hommels tref dieptes in Rusland, Russiese magte hou stand, wyl brandstof- en voedseltekorte oral byt. Onderhandelinge onder druk bied ’n nou poort na vrede, maar trots, wapenbelange en die vrees om aansien te verloor hou dit toe.

Geen kant was hul hand in onskuld nie. Rusland het imperiale nostalgie en magsuitbreiding nagestreef. Die Weste het die konflik gebruik om sy eie militêre en finansiële posisie te versterk. Dít is nie die oes waarvoor ons saai nie.

Daar is ’n beter weg. Nie ’n nuwe ideologie nie, maar ’n eenvoudiger, ouer roeping wat in hierdie tyd van wêreldwye verskuiwing weer duidelik word.

Ons moet vrede met geregtigheid najaag – ’n spoedige, eerlike ooreenkoms wat die doodslag stopsit, die onskuldiges beskerm en Oekraïne weer ’n tuiste maak vir Christelike gemeenskappe en boerefamilies. So ’n vrede moet die dinamika van volmag-oorlog tussen groot moondhede verbreek, nie net die een of die ander se belange dien nie. Neutraliteit met werklike waarborge bring meer genesing as nog grafte – mits dit nie weer ’n nuwe vorm van afhanklikheid word nie. Die land het genoeg bloed gesien.

Die grond moet vir die bewerkers daarvan bewaar word. Die kleinboer se reg om sy erfenis te saai en te oes moet beskerm word – in Oekraïne sowel as hier by ons. Heropbou moet plaaslike hande dien, nie verre beleggers of oorlogswinste nie. Die aarde is die Here s’n. Dit behoort aan dié wat daarop sweet.

Ons moet waak teen woeker en magskonsentrasie. Stelsels wat enkeles toelaat om te oes sonder om te plant – of dit nou deur grondopkoop, skuldvalle of sanksies gebeur – moet beperk word.

Betroubare geld en eerlike kontrakte eer die agtste gebod en die waardigheid van arbeid. Die ou stelsel het dikwels die taal van vryheid gebruik om juis hierdie konsentrasie moontlik te maak. Ons hoef nie daardie taal blindelings te herhaal nie. Ons kan ons eie denke bou – gewortel in die Woord, in die werklikheid van ons grond en ons mense.

En ons moet nederig op ons eie plek leef. Vir ons wat ver is, beteken dit: Bly by ons grond, ons kerke, ons mense. Leer ons kinders ywer, barmhartigheid en vrees vir God. Ondersteun wat gesinne versterk, grense beveilig en rykbou beteuel. Oordeel leiers aan hulle vrugte, nie aan hulle woorde nie.

In die Amerikaanse politiek – en in die politiek van alle groot moondhede – geld dieselfde maatstaf. Waar daar vir vrede gewerk word, en huis en haard beskerm word, kan daar versigtige steun wees. Waar skandale en magsverstrengelinge verdeeldheid saai en die oorlog verleng, staan ons op ’n afstand en bid. Betroubaarheid lê in die oes, nie in politieke beloftes nie.

Uiteindelik is ons trou hoër as enige vlag of ideologie. “Soek eers die Koninkryk van God en sy geregtigheid.” Oorloë gaan verby. Ryke verbrokkel. Die land bly. In hierdie dae waarin ou idees van wêreldleierskap hul glans verloor, word die roep van die Here nog duideliker: Wees getroue rentmeesters van die klein en die plaaslike – die grond, die gesin, die geloof en die hoop wat nooit heeltemal verkrummel nie.

Laat ons getrou gevind word: plantend, bouend, barmhartig, en wagtend op die Here wat alle kante met volmaakte geregtigheid sal oordeel.

Boeregroete

Cornelius Henn

Lees ook:

Navo 3.0: Oorlog en die strategiese werklikheid

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top