O koek, is ek ooit outentiek?

  • 0

Sal die regte Zef asseblief opstaan?

Maar wie weet wat is die regte ding? Party mense voel bitter slim en sinies wanneer hulle opmerk dat ’n groep soos Die Antwoord fake is, omdat Ninja en Yo-landi Vi$$er nie regtig in ’n asbeshuis in die Zefside op ’n dieet van witbrood en polony, Klippies en Coke leef nie, maar in Kaapstad, waar hulle soms gesien word terwyl hulle inkopies doen in Woollies.

Wat is zef? Die woord is stokoud, ontleen aan daardie gevleuelde windmaker-motor, die Zephyr. Zef is ’n gemoedstoestand; dit impliseer dat jy enorm goed voel oor jouself en die lewe voluit leef binne die beperkings van armoede, tandbederf, breinskade, bloedskande, tienerswangerskappe, gesinsgeweld en ander uitdagings. Hier en daar verwerf ’n ware karavaankind internasionale roem, soos Britney Spears, wie se sussie op vyftien swanger was, wie se eie kinders van haar weggeneem is nadat sy hulle soms laat val het. Maar die meeste zef mense smaak nooit die kollig nie; hulle is te besig om skofte te werk, dronk te word en swanger te raak.

Is dit wreed om die kasregister te laat klingel met zef as konsep terwyl die regte zef-mense arm bly? Regte zeffers slaan nie oorsese platekontrakte los nie. Hulle is ook nie noodwendig op soek na ’n stem nie. Die punt is, baie Suid-Afrikaners (dié wat gelukkig was) het hulle maar redelik onlangs eers aan hul skoenveters uit spoorweghuisies en erger opgehys. Dus is daar diep binne elkeen van ons ten minste sellulêre herinnerings van ’n blinkgepoleerde, gevleuelde kar, motoronderdele op die kweekgras, ’n kunsblomrangskikking en porseleinhonde in die voorhuis.

Die eeu waarin ons leef is veronderstel om vryer te wees as die vorige – sosiaal meer vloeibaar, met ’n minder rigiede klassestelsel. Dit behoort elkeen vry te staan om hul eie identiteit te skep. Sekere groot, gespierde mans voel slegs soos hul ware self in wimpers, rokke en polvye. Party wit mense dra stink bokvelle en gooi dolosse om vry en outentiek te voel. Michael Jackson het skynbaar tuiser gevoel in die lyfie van ’n wit vrou.

Zef rol al lankal in ons letterkunde – dink maar aan Siener in die Suburbs en selfs Ampie. Jeanne Goosen het ons laat besef ons is tog almal in ’n mate só. ’n Groep soos Trike sing al lankal oor die mynhope en hopeloosheid van die Oos-Rand, waar mense “treine en busse vang na kak werke”. Iemand genaamd Soppies van Danville, met ’n whisky-bariton, het jare gelede al ’n roerende CD die lig laat sien; ek wens ek kon weer my hande daarop lê. En Valiant Swart reken al lankal die meeste mense is maar lekker zef.

Kunstenaars was nog altyd op soek na die ware ding, die onopgesmukte, rou, kloppende lewe. Hulle soek na ’n voertuig, ’n konstruk, om die verbysterende chaos en skynbaar willekeurige pyn en dikwels oppervlakkige vreugdes van die menslike toestand uit te druk. Ninja, oftewel Waddy Tudor Jones, se musikale alter ego was vroeër Max Normal, ’n korporatiewe bleeksiel in das en boordjie. Nou het hy zef omhels as voertuig vir sy groot talent. Miskien doen hy meer vir Afrikaans as verskeie duur en vervelige berade – mense van regoor die wêreld bestudeer op die internet basiese Afrikaans spesifiek om Die Antwoord se lirieke te verstaan! En Skandinawiërs reken hulle kan min of meer die strekking van Jack Parow se “Jy dink jy’s cooler as ekke” verstaan. Al is dit miskien nie Die Burger se Afrikaans nie.

Ek gee nie om wie regtig zef is en wie geïmmigreer het na die Zefside nie. Al wat ek weet is dat sekere kunstenaars die lug laat vibreer – en ek verwys nie na oorverdowende blêrbokse nie, maar na ’n sekere vermoë om ’n lewensaar raak te boor en die molekules van die sogenaamde werklikheid te laat krioel soos in ’n lugspieëling. Ek noem dit in my kop “channelling” – om ’n kanaal te word. Ek dink die Bybel waarsku daarteen en ek vermoed dis hoekom kuns dikwels as boos bestempel word: as jy dit reg doen, is jy in die greep van iets groter as jy, word jy ’n medium. Dit het op dees aarde niks te doen met voorgee en kaap van ander groepe se identiteit vir eie gewin nie. Dit het alles te doen met huidloos leef, soos Tjokkie in die suburbs.

Ek reken zef beteken, soos in die stokou tranetrekkerfliek Love Story, dat jy nooit hoef te sê jy is jammer nie. Zef behoort aan almal. Om jou zefkant te omhels, is bevrydend. En die mullet is ’n maklike haarstyl om te onderhou; ’n mens kan dit self met ’n stomp skêr voor die badkamerspieël snoei.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top