O die pyn-gedagte

  • 1

Foto: Canva.com

O die pyn-gedagte

[Jenna sit in die psigiater se spreekkamer. Sy is in ’n psigiatriese inrigting vir observasie nadat sy daarvan beskuldig is dat sy haar eie kind doodgemaak het. Haar emosies wissel tussen kwaad en aggressief, en hartseer en huilerig.]

[Kwaad en aanvallend] Jy kan dit verstaan!? Dit verstaan!? Presies hoe, Dokter, kan jy dit verstaan? Jy sit daar met jou PhD en jou grade mooi geraam teen die muur en jy moet besluit of ek mal is of nie. [Skud haar kop] Ken jy Totius se gedig, “O die pyn-gedagte”?

[Pouse]

Kranksinnig, mal, koekoes? Wat beteken dit nou eintlik?

[Asof sy onthou wat die dokter aanvanklik gevra het. Steeds gefrustreerd] Nee, Dokter, ek het jou al oor en oor gesê, daar is geen stemme wat met my praat nie. Ek sien nie mannetjies of kaboutertjies of goed nie en niemand het ’n chip in my geplant wat my gedagtes beheer nie.

[Stiller en introspektief] Maar saans, as ek alleen op daardie lendelam draadbed van julle lê, toegesluit soos ’n misdadiger, dan hoor ek haar laggie en ek sien haar blonde krulhaartjies wat waai as sy op die swaai sit en dan …

[Moederlik, asof sy ’n gelukkiger gedagte onthou] Sy was so ’n pragtige dogtertjie. Die mooiste baba. Ek kan nog die dag onthou toe ek en Johan haar uit die hospitaal huis toe gebring het.

[Meer ernstig] Haar boetie het eintlik eerste begin siek word, een of ander storie met die seuns wat vinniger die simptome wys. Aan die begin het ons gedink hy is sommer net lomp, val maklik, tot hy daardie oggend nie kon opstaan nie.

Dit is ironies hoe ’n mens se kop werk. Jy vermoed iets is fout, maar daar is mos ’n dokter, medisyne. Jy dink nooit eens daaraan dat daar ’n oomblik gaan kom wat jou lewe onherroepbaar gaan verander nie. ’n Moment waar jy besef dat al jou hoop en drome nooit weer dieselfde sal wees nie. Daardie dag as die dokter met sy ontwykende blik by die deur inkom en vir jou sê dat … [Vee ’n traan weg voor sy kan huil]

Dit was twee jaar later toe hy in die hospitaal dood is van die infeksie. Twee jaar van hel. Twee jaar van slapelose nagte, van wakker lê en wonder of die krag dalk gaan afgaan en dan gaan staan die ventilator, en of sy Trachi dalk gaan diskonnekteer en hy in sy bedjie versmoor. Ek het gedink die siekte gaan ons almal doodmaak.

O die pyn-gedagte. My kind is dood.

[Stilte]

Met Angelique was dit anders. Toe Stefan gediagnoseer is, het ons nie eens aan haar gedink nie. Sy was ons blommekind. Altyd met daardie aansteeklike laggie van haar. Die slim dokter het immers gesê die siekte is ’n 100 maal meer algemeen in seuns as in meisies.

[Pouse. Sy word weer kwaad.]

Jy sê jy verstaan. Het jy ooit kinders? Julle dokters wat so maklik lewe of dood aankondig, so klinies, steriel afgeskerm van die realiteit van die ellendes. Hoe weet jy wat in my kop aangaan?

[Kwaad/moedeloos/huilerig] Sy was my blommekind, my pragtige, blonde, krulkopkind. Hoekom sal die Here dit aan my doen? Hoekom?

[Pouse]

Daardie aand toe sy die glas melk sommer soos ’n klip uit haar hand laat val … Daardie aand het ek geweet. Daardie aand … Daardie gevoel van hopelose verlatenheid. Jy voel jy kan in trane uitbars, maar daar is niemand wat jou sal hoor nie. Geen God wat luister nie. Jy is verlate. Net jy, in ’n woestyn van pyn en ellende en dood.

Jy vra my hoekom ek dit gedoen het? Elke mens is bestem om net eenkeer te sterf. So sê die Bybel. Die dag toe ek langs Stefan se oop graffie staan met die klein wit kissie in, het ek die eerste keer gesterf. Ek het baie oorweeg om selfmoord te pleeg, maar dan was Angelique daar. Sy was my guardian angel.

En toe begin sy siek word.

[Introspektief] Dis verskriklik om vasgevang te word tussen my smagting na die dood, die pynlose stilte en haar siekte. Hoe kies jy tussen dood en dood? Ek kon nie dink nie, ek was vasgemessel tussen twee mure wat gedreig het om my stadig te verbrysel. Ek het net bestaan. En in my kop, die woorde wat om en om dwaal: “O die pyn-gedagte, my kind is dood.”

Toe Johan sê hy gaan in stad toe, het ek dit skaars gehoor. Ek was op.

[Sag, asof sy die oomblik herleef] Sy het so stil gelê, so vreedsaam. Kies ek dood of dood? My dood – vinnig, stil – of hare – stadig, pynlik, uitgerek? Die donskussing het langs haar gelê, die donskussing soos ’n sagte wolk. ’n Wolk wat haar kan wegneem, vêr bo die pyn en smart van die wêreld. Sy het nie eens beweeg nie.

[Pouse]

Ek het langer as ’n uur daar langs haar gesit. Net gestaar na haar sagte krulle, die sagte, rustige uitdrukking op haar gesiggie, asof sy net geluidloos sag slaap.

[Nou meer dringend en selfverseker] Jy vra hoekom, Dokter? Jy vra of ek mal is? Ek sê jou, ’n ma is nie gemaak om haar kind te begrawe nie.

Ek het daardie dag besluit ek sal nie weer die geveg teen die dood op sy terme veg nie. Nee, daardie dag het ek die reëls gemaak.

  • 1

Kommentaar

  • Daar kan geen erger pyn of verskrikking wees as om jou kind of selfs kleinkind te verloor nie. Om te beleef hoe jou twee kinders ná mekaar wreedaardig doodgemartel word deur 'n siekte, is onmenslik en ek weet nie hoe 'n ouer staande deur só 'n trauma kom nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top