O behoede my tog, Tannie!

  • 6

In die Frasier-sitkom van vroeër vra Roz, Frasier se wulpse assistent, per geleentheid vir hom hoekom die samelewing dit aanvaar as 'n ouer man by ‘n jonger vrou aanlê, maar nie andersom nie. Frasier, ewig tussen mislukte verhoudings, gee 'n gevleuelde antwoord: “Ek weet nie, Roz. Ek maak nie die gemeenskap se reëls nie, ek geniet hulle net.”

Die spookgehoor lag instemmend.

Steve Hofmeyr (51) en sy Jeanine (37) probeer nou – dalk op hierdie presiese oomblik – om 'n kind te hê. Steve is grys. Vol plooie langs sy oë en op sy voorkop. Sy haarlyn retireer agtertoe. Hy erken dat hy te veel weeg, het sekerlik ‘n boepie.

Maar probeer, probéér hy – en geen gemeenskapshaan kraai daarna nie.
Kom ons draai die prentjie om. ‘n Oudstudent van my, 'n 30-jarige ongetroude onderwyser wat op die platteland skoolhou, vertel my van die 50-jarige getroude boervrou wat ogies maak vir hom. Hulle is saam op die ouerkomitee wat die skool se jaarlikse melodrama moet reël.
Sy loer onopsigtelik vir hom as hulle in die personeelkamer vergader en slaan haar oë skugter neer as hy vir haar kyk. Stuur vir hom waarderende WhatsApps: “Jy doen wónderlike werk met ons kinders, Johnny.” Met 'n groen hartjie by.

Verlede week, sê hy, loop hulle mekaar in die dorp se enigste supermark raak. Die oë fladder. ‘n Ou hand vee die dowwe hare reg. Die halslyn, waar erosieslootjies saamloop tot by pap, moeë borste vol sproete, is net effens te laag. Hare op die bolip en ken, los velle om die boarms, grys hare by die kroontjie wat te lanklaas gekleur is, selluliet wat rondom die kuite skud en sonvlekke op die hande voltooi die prentjie.

Sy wás mooi. Twintig jaar gelede.

Hy deins terug, sê hy. Probeer by die kasregister uitkom om te betaal.

Maar dis te laat. Sy loop hom by en sê: “Johnny, weet jy watter fantástiese werk doen jy met die melodrama? Die mense is só goed afgerig. Ek wil darem ook vir jou sê daar is onder my vriendekring groot waardering vir jou looks en jou physique.”

Hy sê hy staan sprakeloos daar langs die Coke-yskas. Hy dink aan die selluliet wat sy – en haar vriendekring – onder hulle rompe probeer wegsteek en ‘n gril gryp sy lyf.

Hy dink by homself: “O behoede my tog, Tannie!”

Terwyl sy stralend by die supermark uittrippel.

  • 6

Kommentaar

  • 'n Jong lat van 25 lyk net so grillerig indien hy vet is. Daar is baie dames wat op 50 nog baie sexy lyk.
    Maar, ja, dis meer algemeen om 'n paartjie te sien waar die man die ouer een van die twee is, indien daar wel 'n ouderdomsverskil is.

    Laat my dink aan ons Matriek Voorligting-Onnie, oorle Mnr van der Walt. 'n Matriek-lat is mos maar vol van homself en loer mos vir sommige van die oulike meisies in die klas. Toe sê hy eendag: "Julle meisies; jul toekomstige mans is ouens wat nou al 'n paar jaar uit die skool is en werk." En hy kyk so af na ons manne toe en sê: "Jul toekomstige vroue sit nog op laerskool." Nogal 'n belediging destyds, maar in 99% van die gevalle het dit toe so gerealiseer.

  • Jannie wats fout met jou vriend Johnny? Daar’s heelwat aanvallige dames in die ouderdom veertig plus. Al my ma se vriendinne was ouderdomsgevorderd, want ek was 'n laaaatlam. My pelle weer se ma's was heelwat jonger. Ek was 'n lat van twintig en het vriendinne in die veertigs gehad. Baie sal nou sê ek het moederliefde gesoek, miskien, maar die vriendinne het my beslis nie so behandel nie. Toe ek jonk was het die tannies steppins en borstrokke gedra. Deesdae dra hulle leotards, skibroeke en mini's. Nee wat Jannie, jou pel is net lekkerbekkig. Ek sien baie jong latte met 'n slapgat houding en broeke wat ek nie weet hoe dit opgehou word nie. Deesdae sien ek ook jong manne wat wragtag waar ongesond oorgewig is. So moenie vir die dame gril wat reeds vyftig is nie.

  • Ek stem saam met Reusedwerg; Jannie is nie lekker nie. Buitendien, op 50 is vrouens nog jonk man, net mooi ryp en verby die bakvissietadium. Jannie gaan nog later agterkom hy't daar 'n groot kans deur sy vingers laat glip; hy't baie aangename uurtjies versmaai.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top