Nuwejaarsbrand

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Die nuwejaarsvreugde by die Kaapse Waterfront op 1 Januarie 1993 was van korte duur. Kort na middernag het 'n verwoestende brand uitgebreek in 'n verkoelingsaanleg op die hawe wat miljoene rande se skade tot gevolg gehad het. Die brand is veroorsaak deur 'n noodfakkel wat iemand afgeskiet het om die koms van die nuwejaar te vier. Die fakkel het in 'n veselglasgeut wat twee dakgedeeltes van die verkoelingstoor van mekaar geskei het beland en dit aan die brand gesteek. Vandaar het die brand na die binnekant van die verkoelingstoor versprei en uiteindelik die hele stoor en sy waardevolle inhoud van ongeveer 8000 ton bevrore vis, hoender en groente verwoes.

Die eienaar van die bevrore produkte, Sea Harvest Corporation, het daarna 'n skadevergoedingsaksie teen die eienaars van die verkoelingstoor ingestel. Sea Harvest het aangevoer dat die eienaars nalatig was deurdat hulle onder meer versuim het om 'n doeltreffende brandbestrydingstelsel in die verkoelingstoor aan te bring. Tydens die oprigtingsfase  het die betrokke owerhede voorgeskryf dat watersproeiers in die gebou aangebring moes word wat in geval van 'n brand outomaties geaktiveer sou word. Na lang onderhandelings tussen die argitekte van die gebou en die betrokke owerhede, is daar ooreengekom dat die risiko van 'n brand in verkoelingstore van hierdie aard eintlik baie laag is en is daar afgesien van die vereiste dat so 'n duur waterbesproeiingstelsel in die betrokke verkoelingstoor aangebring moes word.

Dit is waarskynlik dat indien so 'n stelsel wel geïnstalleer was, dit die ernstige skade van die brand op 1 Januarie 1993 tot 'n groot mate sou kon beperk.

Sea Harvest se eis is deur die Hooggeregshof in Kaapstad van die hand gewys en die saak het uiteindelik voor die Hoogste Hof van Appél in Bloemfontein gedien. Die Hof het baie aandag bestee aan die ontwerp van die verkoelingstoor en die materiaal wat waarin gebruik is. Wat die buitekant van die gebou betref, het die Hof tot die gevolgtrekking gekom dat dit, met die uitsondering van die veselglasgeut waarin die fakkel beland het, van brandvrye materiaal gebou was.

Die materiaal wat aan die binnekant gebruik is, is uit die aard van die saak gekies om maksimum isolasie te verskaf want in gedeeltes van die koelkamer sou – byvoorbeeld - tunavis teen so laag as minus 60° C geberg word. Dié isolasiemateriaal is hoogs ontvlambaar, hoewel dit deur aluminiumpanele bedek was wat die verspreiding van 'n brand sou teenwerk.

Toe die veselglasgeut aan die buitekant van die gebou egter eers goed aan die brand was nadat die fakkel daarop geval het, het die brand versprei na die isolasiemateriaal wat onder die dakpanele was. En toe was daar eintlik geen keer aan die brand nie, aangesien, soos ek reeds gesê het, daar nie watersproeiers aan die binnekant van die gebou aangebring was nie.

Die vraag wat die Hof moes beantwoord was of daar enige nalatigheid aan die kant van die eienaar van die gebou was vanweë sy versuim om watersproeiers in die gebou aan te bring. In sy uitspraak1 beslis Appélregter Scott dat die toets vir nalatigheid nog steeds is of – in die besondere omstandighede – die optrede van die eienaar van die gebou ónder die standaard was van wat 'n redelike persoon onder die omstandighede sou gedoen het.

Dit bring 'n mens by die redelike voorsienbaarheidstoets: wat sou 'n redelike persoon onder die omstandighede voorsien het?  Die Hof het beslis dat daar geen twyfel kon wees dat 'n brand aan die binnekant van die verkoelingstoor as 'n algemene moontlikheid redelikerwys voorsienbaar was nie. Daarnaas het die Hof egter beslis dat wat redelikerwys voorsienbaar was, beperk moes word tot dáárdie soort brande – wát ookal hulle oorsaak was – wat binne die grense van redelike moontlikheidgeval het.

En ja, het die Hof beslis, dit was redelik moontlik dat 'n brand êrens binne-in die gebou kon uitbreek. Maar wat nou van 'n brand wat – soos op daardie noodlottige nuwejaarsoggend van 1993 – aan die buitekant van die gebou ontstaan het? Om dié vraag te beantwoord het die Hof na 'n klomp moontlike brandgevare wat die buitekant van die gebou kon bedreig, gekyk. Die een moontlikheid was weerlig: dit sou sekerlik 'n gebou van buite aan die brand kon steek. Maar nou is die Kaapse Skiereiland nie 'n plek waar weerlig normaalweg voorkom nie. 'n Ander moontlikheid was dat die brand van 'n ander gebou af na die verkoelingstoor toe kon versprei, maar ook dit was 'n baie skrale moontlikheid, aangesien die verkoelingstoor redelik eenkant op die hawe was. Les bes was daar ook natuurlik die gevaar van noodfakkels wat 'n brand van buite kon stig. Ook dié moontlikheid het die Appélhof as baie skraal verwerp, aangesien die fakkels ontwerp is om betreklik hoog bokant die grond reeds uit te brand, en alhoewel dit 'n algemene gebruik by nuwejaarsvierings was om sulke fakkels in die Tafelbaaise hawe af te skiet, het dit nooit voorheen brande veroorsaak nie.

Na oorweging van al die faktore het die Appélhof tot die gevolgtrekking gekom dat die moontlikheid dat 'n brandende noodfakkel op die verkoelingstoor sou beland en die enigste buitedeel daarvan wat brandbaar was, naamlik die veselglasgeut, aan die brand sou steek, só gering was dat die moontlikheid dat die verkoelingstoor vanweë 'n brand van buite sou afbrand nie redelikerwys voorsienbaar was nie. En hoewel 'n mens jammer voel vir Sea Harvest wat 8000 ton se waardevolle produkte in die brand verloor het, is die reg duidelik: Indien 'n mens nie in 'n skadevergoedingsaksie van hierdie aard nalatigheid kan bewys nie, hét jy nie 'n eis nie en moet jy maar self die gevolge van jou verlies dra.

1 Sea Harvest Corporation v Duncan Dock Cold Storage, 2000(1) SA827 (SCA)

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top