Nuwejaar: netwerk!

  • 1

Hierdie Sondag was ek by een van Johannesburg se lewendige nuwe kreatiewe gemeenskappe – Maboneng Precinct, ’n stedelike buurt in die ooste van Johannesburg se middestad – om met Bheki Dube, Maboneng se “buurtportier” te gesels oor die belang en invloed van ‘n plek soos Maboneng op ‘n kunstenaar of skrywer.

Bheki is gebore in Troyeville – omtrent een kilometer weg van Maboneng, het skoolgegaan in Newtown, ‘n fotografiekursus in dieselfde buurt gedoen en daagliks met sy skaatsplank van Troyeville na die stad gery. In hierdie stadium was die deel van die stad wat vandag as Maboneng bekend staan, “a mess” – of so beweer Bheki. Daar was baie gekaapte geboue waar prostitusie, dwelms en geweld geheers het, vervalle armsalige geboue gestaan het, met rommel en misdaad op elke straat. Mense is gesê om die stad hoofsaaklik te vermy. Wanneer jy nie teen 16:00 tuis was nie, het jou ouers paniekerig begin word. Dit was ‘n plek waar jy nooit tuis gevoel het of probeer voel het nie, beweer die 21-jarige Bheki, wat die gebied beter as enigiemand anders ken. Hy het die transformasie van die woonbuurt wat in 2009 begin het, eerstehands meegemaak. Vanaf 2010, toe die Bioscope-filmteater in wat vandag as Maboneng bekend staan, oopgemaak het, was hy die eerste bestuurder. Vanaf 2011 was hy betrokke by Mainstreet Walks, wat begeleide toere deur die strate van die stad vanaf Maboneng organiseer en mense opgewonde maak oor die stad. Onlangs het hy Maboneng se eerste backpackers – Curiocity Backpackers – oopgemaak.

Maboneng is ‘n goeie voorbeeld van ‘n kreatiewe gemeenskap – ‘n plek waar kuns, kultuur, handel, besigheid en die gemeenskap met mekaar geskakel word. Maboneng het dit vir Bheki moontlik gemaak om sy passies – fotografie, skaatsplankry, toerisme – te kombineer met die plek waar hy woon. Teen die mure van sy backpackers stal Bheki sy eie foto’s kompleet met “artist statement” uit. Op die begeleide toere wat hy aanbied, probeer hy mense oorreed om Johannesburg se middestad weer ‘n kans te gee. Deur met sy skaatsplank deur die strate te ry, kamera in die hand, het hy geleer om die stad lief te hê. Maboneng bied ‘n platform vir kunstenaars en entrepreneurs om hulle kreatiewe, besigheid- en leefruimtes binne die ruimte van die stad te kombineer. En in die proses saam met ander kunstenaars en entrepreneurs ‘n gemeenskap te vorm.

As kunstenaar of skrywer (of miskien hoopvolle of aspirantkunstenaar of skrywer) is dit baie belangrik om jouself nie net as individu raak te sien nie, maar as deel te sien van ‘n groep. Om met ander skrywers of kunstenaars ‘n netwerk te vorm is noodsaaklik as jy wil hê dat jou werk in 2014 gelees of gesien moet word. In plaas van net ‘n uitgewer soek vir jou nuutste kinderboek of roman, of galery vir jou skilderye, is dit in ons era van hipernetwerke al hoe meer belangrik om jou eie gehoor te vind, aan netwerke deel te neem, met ander te skakel; kortom: om uit jou gemaksone te kom en déél te neem.

Waarom is dit vir kunstenaars belangrik om deel van kreatiewe gemeenskappe – hetsy werklik of virtueel – te wees?

As kunstenaar of skrywer kan jy jou kreatiewe identiteit vind in deelname aan ‘n kreatiewe subkultuur. As jy deel is van ‘n groep wat belangstellings met jou deel – byvoorbeeld ‘n liefde vir poësie, vir skryf, vir kortverhale (soos wat ons op LitNet Nuwe Skryfwerk probeer vestig), voel jy waarskynlik deel van, voel jy tuis by daardie groep. Om elke dag kreatief te probeer wees, kan vreesaanjaend wees. Om deel te wees van ‘n groep waar jy tuis is, kan ‘n manier wees om daardie vrees te kanaliseer.

Om as kunstenaar of skrywer deel van ‘n kreatiewe gemeenskap te wees, skep geleenthede. Mense is geneig om vinniger mense in hulle eie netwerke te gebruik of aan te beveel vir projekte. Hoe meer sigbaar jy is in die régte netwerke, hoe meer waarskynlik is dit dat jy aanbeveel sal word wanneer daar geleenthede vorendag kom.

Ook skep netwerke of kunstenaarsgemeenskappe ideale ruimtes vir kunstenaars om saam te werk. ‘n Netwerk of gemeenskap is die ideale plek om ander kunstenaars en skrywers te ontmoet – miskien iemand wat in ‘n ander medium as jy werk, maar wat jou eie skryfwerk inspireer.

‘n Kreatiewe gemeenskap kan die grense tussen dissiplines, kulture en teksvorme oorsteek omdat kunstenaars invloede en inspirasie van mekaar kry. Dink maar aan Florence in die 15de eeu. Die De Medici-familie het hulle invloed en geld gebruik om verskillende beeldhouers, wetenskaplikes, digters, filosowe, skilders en argitekte na Florence te trek. Die nuwe idees wat die gevolg was van hierdie kulturele kruisbestuiwing, het gelei tot die Renaissance en Florence het die middelpunt van ‘n kreatiewe ontploffing geword.

Of die ontwikkelinge in woonbuurte soos Maboneng, Newtown, Selby en Braamfontein tot ‘n Afrika-Renaissance in Johannesburg kan lei, sal ons nog moet sien. Maar dat hierdie ontwikkelinge positief is, nie net vir kunstenaars nie, maar ook vir beleggers, die gemeenskap en die stad in die geheel, is onbetwyfelbaar. Mag ons in 2014 soortgelyke netwerke vorm of meer aktief aan reeds bestaandes deelneem.

Om in 2014 meer sigbaar en moontlik meer produktief as skrywer of kunstenaar te wees, wil ek dus voorstel dat jy aktief aan werklike en virtuele netwerke deelneem:

1.       Vind ‘n werklike netwerk waarby jy kan aansluit. ‘n Fotografieklub? ‘n Leeskring? ‘n Filosofiegroep? Miskien kan jy jou kolwyntjies en limonade by ‘n mark soos die Market on Main – deel van die Maboneng-kompleks – verkoop? Of kan jy ‘n huiskonsert organiseer en daar jou gedigte voorlees?

2.       Virtuele netwerke is ook uitstekende geleenthede vir kunstenaars of skrywers om meer sigbaar te word en inspirasie te kry. Twitter, Facebook, LinkedIn, Pinterest, likemind, dribbble (hoofsaaklik vir ontwerpers) Google+ en LitNet Nuwe Skrywers (natuurlik!) is ideale platforms vir skrywers en kunstenaars om blootstelling te kry. Vind ‘n sosiale netwerk of virtuele gemeenskap wat jou die meeste aanspreek en neem in 2014 aktief daaraan deel. Of begin gerus 'n blog.

Laaste wenk: neem gerus deel aan ons poësiekompetisie: Netdigters 2.0. Miskien kan jy skryf oor die invloed van die internet as netwerk op jou skryfwerk?

Tot volgende week, en Gelukkige Nuwejaar!

Rentia

Indien jy 'n nag of twee blyplek in Maboneng soek, kontak gerus Curiocity Backpackers.

Nuuskierig om die Johannesburg middestad van naderby te sien? Probeer gerus Mainstreet walks.

Alle foto's is geneem deur Stefan Arno Möhl © 2014.

  • 1

Kommentaar

  • Dankie vir bg voorstelle - ons is hier in Oos-Londen maar redelik afgesonder en aan onsself oorgelaat!  Het nooit werklik aan die sosiale netwerke gedink nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top