Nuwe vrese
Willem S van der Merwe
Naledi
ISBN: 978-1-928426-80-6
Die titel van Willem S van der Merwe se Nuwe vrese, verwys na NP van Wyk Louw se Nuwe verse (1954). Daar word egter nie in die bundel self veel na Van Wyk Louw verwys of met daardie bundel se gedigte omgegaan nie. Die titel van Nuwe vrese moet meer as ’n spel met die kanon beskou word, soos André Letoit (oftewel Koos Kombuis) se Somer II, waarvan die titel na Somer deur CM van den Heever verwys.
Daar word dan ook na Letoit/Kombuis verwys in Nuwe vrese, met die gedig “Suburbia” wat aan hom opgedra is en waarvan die titel na Letoit se gelyknamige bundel uit 1982 verwys. Hierdie intertekstuele verwysing is meer van ’n leidraad na die aard van Nuwe vrese as wat die verwysing na Van Wyk Louw is: Soos Letoit/Kombuis skryf Willem S van der Merwe eenvoudige gedigte wat soms treffend is.
Soos Van der Merwe self waarsku in die eerste gedig van die bundel, “’n vrou wat bliksem sê in die kombuis”:
en hier’s ek weer hier’s ek weer
om jou siel te verson-dig[i]
met kitsch, cliché en meer
ek wil jou dus waarsku
dat dit yl, met min
poëtiese digtheid, gaan wees
inderwaarheid is ek bevrees
dat ek jou vir ’n ride gaan vat
indien jy verder lees
Van die beste gedigte (byvoorbeeld die reeds genoemde “suburbia” sowel as “aan die muur”) het paar- of kruisrymskemas wat ’n tipe onvermybaarheid bewerkstellig sodat die gedig uitloop op (in Danie Marais se woorde) “’n voorspelbaar verpletterende slotkoeplet”. Neem byvoorbeeld “suburbia” se laaste strofe:
koop vir jou ’n stukkie wit hel
in brackenfell
Omdat hierdie tegniek so gereeld in die bundel aangewend word, maak dit egter later nie meer veel van ’n indruk nie. Lesers mag verskil oor watter (dele van) gedigte gevat en roerend is, en watter bloot eenvoudig, “yl” is. Party lesers sal byvoorbeeld vermaak word deur gedigte soos “langebaan I”, “die filosoof mymer I”, “tango” en “idille” terwyl ander hulle koud sal laat.
Dan is daar ook heelwat gedigte wat meer beslissend platval. “moenie my pluk nie, ek pluk my moer” is ’n voorbeeld van ’n gedig wat net té oppervlakkig is vir my om bekoor te word deur die woordspel en oneerbiedigheid:
die dag is helder soos somer
soos liefde, die illusie
robbeneiland lê soos ’n roof
teen die blink horison
my seer lê vlak vandag
b(r)aaiers lê in die son
somer is liefde, somer is sweet
somer is rose en sommer vergeet
liefde is ’n roos
liefde is ’n doos
my seer lê vlak vandag
Behalwe vir die onoorspronklikheid van die rym en die beeldspraak, bevat “moenie my pluk nie, ek pluk my moer” ook voorbeelde van die bundel se ander groot gebrek, naamlik die opnoem van indrukke en gedagtes sonder dat dit sinvol tot ’n samehangende eenheid gebind word. Dit is ook moontlik vir ’n gedig om doelbewus onsamehangend of onvoltooid te wees. In “dis byna lente” is daar ’n aanduiding dat dit só gelees moet word, as ’n doelbewus onafgeronde gedig. Die leser wonder egter hoekom dit die geval is en wat ons dan moet maak met die skynbaar onverbandhoudende figure wat beskryf word:
ons bewe die koue nag in
sy lag: die maan is half
haha, soos my lewe!
meisie met groen oë
talm by die irma stern
flikker oor ’n langsteelglas
groeiende mededoë
vir kuns en sin
iewers in ’n berookte hoek
soek aangeklamde kêrels
aanklank in mekaar se oë
en die geknelde gulp
dis so laat
die maan is half
soos my gedig
Hierdie gedig (en ander “halwes” soos die een) sou meer geslaagd kon wees as daar meer besonderhede was om die atmosfeer skerper af te teken, of as dit tussen ander gedigte was wat saam hierdie atmosfeer kon skep. Soos wat dit staan, laat die meeste verse in Nuwe vrese my onbevredig, met die uitsondering van daardie enkeles wat wel verpletter.
[i] ’n Verwysing na Van der Merwe se vorige bundel, Son-dig (1985).
Kommentaar
Bibi Burger is deeglik deur die skynbare "eenvoud", "onsamehangendheid" en "oppervlakkigheid" van hierdie bundel geflous. Dit word onder meer bewys deur die feit dat sy net twee intertekste (VWL en KK) raaklees. Die eintlike oppervlakkigheid moet by die resensent gesoek word.
Huil die leser