
Foto: Canva
Die 21ste kongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging het vanjaar van 10 tot 12 September 2025 by die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein plaasgevind. Die ALV het op 26 Oktober 1984 tydens ’n stigtingskongres by die Universiteit van Pretoria ontstaan, met Elize Botha wat as die eerste voorsitter aangewys is. Verskeie Afrikaanse letterkundiges het deur die jare aan die stuur van die ALV gestaan, onder andere Heilna du Plooy, Willie Burger, Louise Viljoen, Helize van Vuuren, Hennie van Coller, Andries Visagie, Phil van Schalkwyk en Francois Smith. Die ALV-kongres word sedert 1984 elke twee jaar deur ’n ander universiteit in Suider-Afrika aangebied. Referate wat tydens hierdie tweejaarlikse kongresse gelewer is, is saam met ander akademiese bydraes deur die jare in die ALV se vaktydskrif en mondstuk, Stilet, gepubliseer. Vanjaar se bydraes sal natuurlik geen uitsondering wees nie.
Vanjaar se kongres is met groot sorg en deeglike beplanning deur die Departement Afrikaans, Nederlands, Frans en Duits van die Universiteit van die Vrystaat aangebied. Die reëlings het vlot verloop en die atmosfeer was warm en hartlik. Taal- en letterkundiges van oraloor, ook uit die buiteland, het geesdriftig gereageer, en voorstelle vir akademiese bydraes is ingestuur. Uiteindelik is die kongres deur 91 akademici, nagraadse studente en belangstellendes bygewoon wat met belangstelling na die 52 referate op die program geluister het.

Drie hoofredes is tydens die drie dae lange geleentheid gelewer. Die eerste was in die vorm van die Karel Schoeman-gedenklesing, wat deur Louise Viljoen van die Universiteit Stellenbosch gelewer is. Die titel was “Gedagtes oor die rol van die liggaam in Schoeman se romankuns met verwysing na ’n Ander land en Afskeid en vertrek”. Die tweede hoofrede is deur Elvis Saal van die Universiteit van Pretoria gelewer as die Christo van Rensburg-gedenklesing, met die interessante titel “430 jaar van Gariepafrikaans – die storie van ’n kanniedood-variëteit”. Die laaste hoofrede, “’n Lewe in die huis van wees”, is deur Henning Pieterse van die Universiteit van die Vrystaat gelewer.
Drie prikkelende paneelbesprekings het ook tydens die kongres plaasgevind. Die eerste het gehandel oor die verskille en spanninge tussen die begrippe standaard en variëteit, die tweede oor die geleenthede en uitdagings van die dosering van kreatiewe skryfkuns as universiteitsvak, en die laaste oor die moontlikheid om doseerkundigheid te deel tussen die verskillende universiteite wat Afrikaans as vak aanbied. Verskeie kundiges op die onderskeie gebiede het entoesiasties aan die gesprekke deelgeneem. Die kongresgangers is bederf met heerlike spyseniering, ’n musiek- en filmvertoning, en heerlike akademiese en kollegiale samesyn.

Luan Staphorst, Gerald Groenewald, Marius Swart en Francois Smith tydens die paneelbespreking oor standaard en variëteit

Die kongresgangers is bederf met heerlike spyseniering.
2025 se kongres was ’n historiese een, aangesien dit deur die geboorte van ’n nuwe akademiese vakvereniging vir Afrikaans gekenmerk is. Tydens die 2023-kongres, wat gesamentlik deur die Nelson Mandela-universiteit en Rhodes-universiteit in Gqeberha aangebied is, het ’n aantal taalkundiges ’n behoefte uitgespreek dat taalkunde voortaan by die ALV ingesluit word. Die rasionaal agter die versoek was dat navorsers wat navorsing oor Afrikaans doen, se geleenthede verskraal het om hul navorsing óór Afrikaans ín Afrikaans aan te bied. Alhoewel Afrikaans as taal vanuit ’n linguistiese perspektief tans internasionaal heelwat akademiese aandag geniet, en daar dus meer as genoeg geleentheid is om in Engels te publiseer oor Afrikaans, is daar minder geleenthede waartydens hierdie navorsing in Afrikaans as vaktaal aangebied kan word. Na aanleiding van dié versoek, het die ALV-bestuur, ná deeglike oorlegpleging met die bestaande lede van die vakvereniging, besluit om die vereniging oop te stel om nie net Afrikaanse letterkunde en taalkunde in te sluit nie, maar ook vakdissiplines wat aanverwant is, soos opvoedkunde en kultuurstudies. Dié besluit is gerig deur die wye verskeidenheid akademiese bydraes wat gedurende die Bloemfontein-kongres gelewer is.

Tydens die ledevergadering aan die einde van die kongres in Bloemfontein het ou en nuwe lede gestem, en ’n nuwe naam vir die blinknuwe vakvereniging is gekies: die Afrikaanse Taalkunde-en-Letterkunde-Vereniging (ATLV). Intussen is die bestuur van die ATLV aangewys: Janien Linde (NWU) as voorsitter, Marius Swart (US) as ondervoorsitter, Ihette Senekal (Unisa) as penningmeester, Terrence Carney (Unisa) as sekretaris, en Neil Cochrane (Unisa) as mediabestuurder. Die nuwe bestuur beoog om in Januarie 2026 ’n beplanningsberaad te hou waartydens die doelstellings van die ATLV hersien en vasgestel sal word. Gedurende hierdie beraad sal praktiese sake soos ’n nuwe logo en webwerf, asook ledewerwing en akademiese aktiwiteite, bespreek word.

Die eerste ATLV-bestuursvergadering op 12 November 2025
Voorlopig kan die oorhoofse doel van die ATLV soos volg verwoord word: Om in die breë die Afrikaanse letterkunde en taalkunde te bevorder, terwyl daar ook ruimte gemaak word vir aanverwante vakdissiplines en navorsingsbelangstellings. Die ATLV is ’n inklusiewe vakvereniging wat kontak en samewerking wil bewerkstellig tussen enige persone wat in hul beroep en uit belangstelling die wetenskaplike ondersoek, onderrig en bevordering van die Afrikaanse letterkunde en taalkunde (en aanverwante vakdissiplines) nastreef. Daarmee saam sal Stilet steeds as mondstuk van die ATLV dien. Stilet ontvang graag vakdeskundige artikels, resensies en kreatiewe bydraes. Publikasie is onderhewig aan ewekniebeoordeling. Marius Crous van die Nelson Mandela-universiteit is die uittredende redakteur van die tydskrif. ’n Nuwe redakteur word eersdaags aangewys.
Die ATLV-bestuur is opgewonde oor hierdie nuwe era van Afrikaans as akademiese veld, en ons hoop om gedurende ons termyn ’n opwindende akademiese program saam te stel, want ook die volgende kongres, in 2027, sal insluit.
Enigeen wat verdere inligting oor die ATLV wil hê, graag lid wil word, of belangstel om in Stilet te publiseer, kan gerus kontak maak met die voorsitter, Janien Linde (janien.linde@nwu.ac.za), of die sekretaris, Terrence Carney (Carnetr@unisa.ac.za).
Janien Linde, ATLV-voorsitter, 26 November 2026
Foto’s: verskaf

