Persverklaring van die Universiteit Stellenbosch: Nuwe US Taalbeleid aanvaar

  • 6

Foto: wikimedia

Persverklaring van die Universiteit Stellenbosch

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het vandag (22 Junie 2016) die voorgestelde nuwe Taalbeleid met die Senaat se aanbevole wysigings aanvaar. Die Senaat het die Taalbeleid op 9 Junie 2016 met ’n groot meerderheid van stemme (113 ten gunste en 10 daarteen) goedgekeur. Volgens die Wet op Hoër Onderwys en die Statuut van die Universiteit Stellenbosch is die Taalbeleid die enigste beleid wat die Raad met die instemming van die Senaat moet goedkeur. 

Met die goedkeuring van die voorgestelde nuwe Taalbeleid sê die Raad sy onomwonde steun aan meertaligheid toe, sonder om studente uit te sluit wat nie in Afrikaans óf Engels vaardig is nie. Die beleid berus op die beginsels dat die Universiteit se onderrigtale toegang en akademiese sukses moet bevorder, en dat die instelling se taalbeleid sy akademiese projek moet dien. Die beleid maak uitdruklik voorsiening vir studente wat verkies om in Afrikaans te studeer, terwyl dit ook beter toegang tot onderrig bied aan studente wat slegs Engelsvaardig is. 

Volgens George Steyn, Voorsitter van die Raad, het lede spesifiek hulle sterk steun uitgespreek vir die meertalige konteks wat in die nuwe beleid vervat is. “Die hersiene Taalbeleid erken die US as ’n nasionale bate en herbevestig ons toewyding aan die gebruikers van Afrikaans, Engels en isiXhosa, synde die drie amptelike tale van die Wes-Kaap,” het Steyn gesê. Die instelling gebruik sy tale van keuse om te verseker dat geen student of personeellid van aktiewe deelname aan sy werksaamhede uitgesluit word nie.

Die Taalbeleid maak ook voorsiening vir meganismes vir akademiese toesig, doeltreffende bestuur en goeie beheer wat taalimplementering betref, binne ’n raamwerk wat fakulteite in staat stel om pasgemaakte taalimplementeringsplanne te ontwikkel, asook meganismes vir verantwoording en verslagdoening aan die tersaaklike strukture. 

Die beleid bevestig dat die US daartoe verbind is om in ’n diverse samelewing met kennis om te gaan. Dit gee uitvoering aan die Grondwet van Suid-Afrika wat taalgebruik in die Universiteit se akademiese, administratiewe, professionele en sosiale kontekste betref, en bevorder ook die instelling se eie visie om inklusief, innoverend en toekomsgerig te wees.

In reaksie op mediaberigte oor lede wat die Raadsvergadering verlaat het, het mnr Steyn gesê:

“Dit is betreurenswaardig dat sommige raadslede die vergadering summier ná die aanvaarding van die Taalbeleid verlaat het, hoewel verskeie ander agendapunte van breë institusionele belang nog moes dien. Verder het ek met spyt gedurende die vergadering Jannie van der Westhuizen se onmiddellike bedanking ontvang. Dit is jammer, want as ’n Raad waardeer ons juis verskillende menings, maar ons respekteer meerderheidsbesluite.”

  • 6

Kommentaar

  • Ek wens die US geluk met hul aanvaarding van die nuwe taalbeleid. Dit bied die universiteit die geleentheid om toeganklikheid aan almal te bewekstellig met 'n toegewydheid aan veeltaligheid. Mense met die drie taalagtergronde van die Wes-Kaap is mooi geakkommodeer om toegang tot die universiteit se kennis te kry. Die US staan dus op die drumpel om sy volwaardige plek as eersteklas universiteit in te neem. Groot geluk aan die US en sterkte met die pad vorentoe.

  • 22 Junie 2016 was ʼn droewige dag vir Afrikaans as akademiese taal op hoër onderwysvlak toe dit by sowel US as UP tot tweedeklasstatus afgegradeer is, onder die dekmantel om toeganklikheid te vergroot en die wanvoorstelling dat dit geskied "sonder om studente uit te sluit wat nie in Afrikaans óf Engels vaardig is nie." Afrikaans word ingevolge die nuwe beleid hoogstens in die eerste jaargang voorwaardelik moontlik gemaak dmv tolking. Ons moet hoor van George Steyn dat 60% van die swart studente nie Afrikaans voldoende verstaan om daarin te studeer nie. Watter persentasie van Afrikaanssprekende studente uit agtergeblewe gemeenskappe (hulle met die laagste deelnamekoers van alle bevolkingsgroepe aan universiteitstudie) wat nie akademiese Engels voldoende verstaan om gedwonge daarin te studeer nie?
    Met sy terugverwysing van die vorige konseptaalbeleid het die universiteitsraad die instruksie gegee dat dit hersien moet word, met die voorwaarde dat die huidige aanbod van Afrikaans nie sal verminder nie. Tans is die voorgeskrewe gemiddelde voorgraadse Afrikaanse aanbod 65%. Gaan dit gehandhaaf word? Ek verwag van "nee", want ons het al geleer om niks te glo wat die rektoraat en raad se uitvoerende komitee sê nie.
    Cry the beloved university.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Dit is die ou storie: Engels word opgradeer, Afrikaans word afgeskaal, maar dit bevorder die wonder van inklusiwiteit sodat niemand uitgesluit word nie. Afrikaanssprekende studente is daarvolgens per definisie nie mense wat deur Engels uitgesluit kan word nie. Hou in gedagte: Dit is Afrikaanssprekendes wat hierdie proses dryf. Opvallend is dat daar nooit uit US-geledere verwys word na die mate waarin die US die stigtingsvoorwaarde van Jan Marais eerbiedig nie. Daar is geen snars oor van gelykberegting van Afrikaans en Engels nie, maar die US het gewoon nie die integriteit om te erken dat Engels die hoofonderrigtaal is nie.

  • Avatar
    Renus Müller

    Dis wonderlik. Ons taal word so gerespekteer saam met die res. Kom ons hoop nou dat niemand die plek afbrand nie.

  • As intelligente mense met die integriteit en ervaring van Jannie van der Westhuizen, Johan Theron en andere summier bedank of ontstellende bewerings maak oor die gebrek aan integriteit van sekere Raadslede en die besluitnemingsproses, moet George Steyn dit nie as onbenullig afmaak nie en soos die ANC glo dat 'n blote meerderheidstem jou die lisensie gee om enige beleid, hoe onsinnig dit ook al mag wees, eenvoudig deur die worsmasjien te sit omdat jy kan. Besluite in die Europese Unie is ook so deur 'n meerderheid geneem, sonder behoorlike inagneming van die invloed wat dit op die basiese regte van minderhede mag hê.
    As minderhede uit protes begin uitstap uit vergaderings, soos hierdie jaar ook in die Parlement gebeur het, is daar iewers 'n groot skroef los in die besluitnemingsproses en dit is net 'n kwessie van tyd voordat die onheilseiers wat deur sodanige proses gelê word, die monstertjies baar wat daarin opgesluit lê.
    Minderhede moet die besluit van die meerderheid respekteer maar meerderheid moet eweneens die besluit van minderhede respekteer, indien hul hul van 'n proses onttrek wat hul belange minag en veral indien hul verdere deelname onsinnig geword het omdat dit nie versoenbaar is met hul gewetes en sin vir regverdigheid nie. Enige persoon met selfrespek kan mos nie deel wees en deel bly van 'n proses wat voortdurend resultate oplewer waarmee hy of sy hom of haar nie mee wil of kan vereenselwig nie.
    Engelssprekende studente, waaronder baie buitelanders, gaan beslis as gevolg van die Raadsbesluit baie welkom voel op Stellenbosch. Plattelandse Afrikaanssprekende studente is volgens die meerderheid van Die Raad egter nie onvoorwaardelik daarop geregtig nie. Die realiteit is egter dat vyf raadslede weens dieselfde Raadsbesluit ook nie meer welkom gevoel het in Die Raad nie. As dit Die Raad se idee van versoening en samewerking tussen kultuurgroepe is, kan ek my ook nie daarmee vereenselwig nie. Dit laat my aan Henry Ford se stelling dink: "Die koper van 'n Ford motor kan enige kleur kies solank dit net swart is." Of in Engels : "The majority have spoken - take it or leave it."

  • Ek is nou veral trots op my alma mater. Die Raad se versiendheid verseker dat die US relevant sal bly op die wêreldverhoog waar diversiteit uitgebou en gekoester word as 'n bate. Dis die manier om te presteer en ons kinders te inspireer en hoop te gee.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top