Die internasionalisering – en dus vinnige verengelsing – van universiteite wêreldwyd lei tot weerstand vanuit plaaslike taalgemeenskappe en eise vir insluiting. Met sy nuwe taalbeleid bevind die US hom op presies dié terrein.
Daar bestaan naamlik ’n sterk gevoel in die Afrikaanse gemeenskap dat hulle taal op sy laaste bene aan die US staan. Die feitlik volslae hegemonie van Engels lê voor en die einde van die pad met die universiteit is bereik. Dit kom te midde van sterk aanduidings dat Afrikaanse matrikulante dit verkies om in Afrikaans verder te studeer.
Internasionale ervaring wys dat verengelsende instellings kompromieë kan aangaan om meer ruimte vir plaaslike taal en kultuur te skep. ’n Bietjie buigsaamheid, pragmatisme en kreatiwiteit kan help om die onsekerheid en uitgerekte foltering van plaaslike taalgemeenskappe te verminder en meer verwelkomende instellings te skep.
Bestaan die nodige buigsaamheid egter aan die US?
Die “nuwe” taalbeleid behou Engels as die verstekopsie terwyl steeds geen meetbare teikens vir Afrikaans en Xhosa vasgestel word nie. Beide laasgenoemde tale bly ook onderhewig aan die beginsel van “redelike uitvoerbaarheid” - sonder dat sekerheid gegee word oor hoe die universiteit hierdie “uitvoerbaarheid” sal handhaaf of ontwikkel. Nie net Afrikaans nie, maar ook Xhosa gaan sukkel om hier hond haar af te maak.
’n Aantal paragrawe in die beleid wat die beoogde gebruik van “meertaligheid”, Afrikaans en Xhosa in meer detail as tevore verduidelik, bied die enigste lig in hierdie taaltonnel. In die afwesigheid van formele taalteikens, kan dit as beloftes oor Afrikaans en Xhosa beskou word, ’n poging om meer vertroue oor die implementering van die taalbeleid in te boesem.
Om die moontlike voordeel wat dié beloftes vir Afrikaans inhou te verwerklik, sal egter heeltemal afhang van hoe die beleid geïmplementeer word.
Pessimisties gesien, bied die beloftes – te midde van intense wantroue teenoor die universiteit – té min en kom dit té laat om te oortuig dat die onvriendelike taalpraktyke van die verlede gaan verander. Dit bly onduidelik wat presies “meertaligheid” in die praktyk sal beteken; die geloofwaardigheidsgaping bly groot.
Optimisties gesien, skep die “beloftes” potensiaal vir implementering langs gunstiger lyne vir Afrikaans; daarmee ook vir konstruktiewe skakeling tussen die universiteit en taalgroepe.
Wat kan ’n mens hoop om met dié skakeling te bereik?
’n Terugkeer na ’n gelyke 50/50-Afrikaans-Engelse universiteit is, vir die voorsienbare toekoms, onrealisties, want die US is onherroeplik op die paadjie van internasionalisering en verengelsing. Die universiteit kán nietemin – aan hand van internasionale voorbeelde – baie meer kreatief begin dink oor hoe ’n beter en meer vrugbare balans tussen internasionalisering en die behoeftes van plaaslike taalgemeenskappe geskep kan word.
Sulke kreatiwiteit vereis egter ’n koppeskuif in die US. Ook die aard van die gesprek oor taal aan die US moet verander. Om mee te begin, moet saaklik gepraat word oor die potensiële negatiewe impak van die taalbeleid op Afrikaans, eerder as om die vermeende deugde daarvan so hard te probeer verkoop. Om dié skewe beleid in die implementering effens reg te trek, moet ook aanvaar word dat universiteite nie neutrale, losgemaakte internasionale instellings is nie. Hulle het óók verantwoordelikhede teenoor plaaslike gemeenskappe en hulle tale en kulture.
Daar is aanduidings van ’n nuwe gewilligheid tot gesprek aan die kant van die US. Dit kom láát in die dag en die volgende maande sal wys of daad ook by woord gevoeg sal word. ’n Swaeltjie is immers nie ’n somer nie.
Kommentaar
Internasionalisering - die kombinasie Afrikaans eerste taal en Engels eerste addisionele taal gee Afrikaanse studente makliker toegang tot Nederlandse, Duitse, Amerikaanse en Britse literatuur. Engels alleen is parogiaal, kleingeestig en heeltemal onaanvaarbaar. Dit is ooglopend nie in Afrikaanse leerlinge of studente se beste belang nie.