Nuwe Stories-onderhoud: Christina van Deventer

  • 0

1. Wie is Christina van Deventer?

Ek is hoofsaaklik ’n vrou en ’n dogter, en “ma” vir twee ontembare Husky-honde. As ek myself in een woord moet beskryf, sal ek sê ek is gelukkig – in alle aspekte van my lewe. Alles wat daarna kom, is omstandig en beskryf my nie as persoon nie. My grootste belang lê by my familie, want alles anders is veranderlik.

2. Beskryf jou reis tot by Nuwe Stories met vyf kort stoppe langs die pad.

Ek het nog altyd ’n voorliefde gehad vir storievertelling in alle vorme. As kind het ek my eerste volledige storie in graad 2 of 3 geskryf. Lees dit gerus hier.

As tiener het ek graag geskryf en gedig, maar wou nie my werk met ander deel nie, omdat ek gevoel het dit is te privaat.

Intussen het ek in Ysland gaan woon, Yslands geleer en sodoende kennis gemaak met die Sagas en Eddas en skrywers soos Arnaldur Indridason en Halldor Laxness. Omdat fantasie my fassineer, het ek verdiep geraak in Noorse mitologie en geskiedenis en die stories wat daarrondom gesentreer is. Ek het begin idees kry om daaroor te skryf en het ’n vollengte Engelstalige roman voltooi. Toe het ek, soos enige aspirantskrywer wat graag iewers wil kom, die manuskrip baie diep weggebêre.

Terselfdertyd het ek Engelse literatuur as ekstra vak geneem aan die Universiteit van Suid-Afrika, waar ek besig was met ’n BA-graad. Op daardie manier het ek op ’n meer persoonlike wyse bekend geraak met die werk van Homer, Shakespeare en spesifiek Jane Austen, en dit het my aangemoedig om ook meer “tradisionele” skrywers, soos William Morris, Roald Dahl en Ray Bradbury, se werk te lees. So het ek die kortverhaal-genre begin verstaan en respekteer vir die kompleksiteit waarmee uitbeelding in dié genre plaasvind. Op hierdie stadium het my idee om te skryf sterk posgevat en het ek besluit om my kort skrywes in te skryf vir kompetisies.

Kort daarna het ek en my man teruggekeer na Suid-Afrika en het toevallig die Nuwe stories-berig in Beeld raakgesien. Nuwe stories is tot op datum die enigste Afrikaanse kortverhaal kompetisie waaraan ek deelgeneem het. Ek werk tans aan ’n Afrikaanse roman.

3. Sonder om te veel te verklap, vertel vir ons lesers so ’n ietsie oor jou verhaal wat in Nuwe Stories opgeneem is.

Die hoofkarakter in “Onder die brug” word in die eerste paragraaf vermoor. Lees die storie om uit te vind wat gebeur volgende.

4. Ek gaan aanneem jy is ’n leser. Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Daar is so baie! Ek is mal oor Dean Koontz se werk. Daar is nie ’n boek deur hom wat ek nie graag sal lees nie en dit is vir my fantasties om sy vroeër werk te lees en te sien waar hy begin het en hoe dit ooreenstem met sy huidige werk en groei as skrywer. Stephen King is seker elke voornemende skrywer se held, maar enigiemand wat ’n boek oor ’n Buick interessant kan maak, is sy sout werd. Chris Barnard se kortverhale tref my baie diep en sy taalgebruik is vir my inspirerend. Ek hou van alles wat Michael Crichton geskryf het, omdat hy die leser deurgaans laat dink. Ek lees ook graag Brian Fagan se niefiksie - hy kan ’n akademiese tesis soos ’n roman laat lees. JRR Tolkien kon die uiterste in verbeeldingryke wêreldskepping bereik en Mark Lawrence, al is hy ’n nuwe skrywer, se behandeling van sarkasme en sy realistiese taalgebruik maak my opgewonde oor die toekoms van fiksie. Laastens is daar die boek waarna ek my hele lewe lank al terugkeer en waaruit ek eindelose genot put: DJ Opperman se Kleuterverseboek. Dit behoort elke kind se grondslag-leesstof te wees en is voorwaar vir my een van die beste verteenwoordigers van die Afrikaanse taal. Behalwe dit lees ek letterlik enigiets waarop ek my hande kan lê, solank dit my aandag kan hou.

5. Het jy ’n gunsteling-storie? (Dit kan ’n boek wees, of ’n spesifieke kortverhaal, of enigiets anders wat storiematig is.)

Dit is baie moeilik om net een te kies, so ek sal dit liewer nie doen nie. Ek het nog altyd gesê my gunsteling-storie is Gone with the Wind (Margaret Mitchell), maar dit is hoofsaaklik die karakteruitbeelding in hierdie verhaal wat vir my aantrekkingskrag het. Onder andere plaas ek Lisey’s Story en The Green Mile (Stephen King) hoog op my lys, omdat beide hierdie verhale se emosionele karakter lank na die lees daarvan by my gespook het. Styl-gewys is Eaters of the Dead, Michael Crichton se hervertelling van die Beowulf-verhaal, my gunsteling en een van die min boeke wat ek herhaaldelik kan lees. In Afrikaans is dit definitief PG du Plessis se roman Fees van die Ongenooides – ek was vir ’n maand depressief nadat ek dié roman voltooi het en daar is soveel fasette in hierdie verhaal wat my eindeloos aan die wonder gehad het dat dit moeilik vervang sal word in dié ereplek.

6. Het jy ’n vyfjaarplan vir jou loopbaan as skrywer?

Ek sal graag oor vyf jaar minstens twee romans in publikasie wil hê. Dit sal wonderlik wees as dit beter vaar, maar ek glo daaraan om vir myself ’n bereikbare doel te stel eerder as om te droom oor ’n situasie wat ek onder geen omstandighede kan bemagtig nie. Ek hou van die idee om saam met ander skrywers te werk, bloot omdat dit ’n ander insig oor die finale produk bevorder en ek sal dit geniet om so ’n projek aan te pak. Hoofsaaklik hoop ek om in die volgende vyf jaar ’n wyer leeskennis op te bou, op ’n meer intieme vlak met my taal bekend te raak, sodat ek ’n meer volwasse aanslag kan ontwikkel en my werk deurgaans kan verbeter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top