Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013: Aankondiging van kortlys

  • 0

Die kortlys vir Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd is nou gefinaliseer. Die name van die kortlyskandidate is:


Brian Fredericks is gebore in Elsiesrivier, Kaapstad. Hy het skoolgegaan aan die Hoërskool Elsiesrivier. Hy is ’n vryskutskrywer en ’n voltydse student, besig om elektriese ingenieurswese by Northlink College te studeer. Tans werk hy aan ’n bundel kortverhale.


Carla Kargaard is ’n plaasmeisie van die Karoo. Sy en haar man, Joakim, woon in Somerset-Wes, maar reis graag die wêreld vol. Sy studeer kreatiewe skryfkuns aan Unisa en werk as ’n vryskut-kopieskrywer. Carla het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Poort-prys in 2004 ontvang. Haar skryfwerk het in Toulopers, Guillotine en Nuwe Stories 2012 verskyn.

 


Christina van Deventer woon in Rustenburg saam met haar man, Bragi Thor, en hul ontembare Huskies, Thor en Odin. Narre gee haar koue rillings en sy hou ook nie van Barbie-poppe nie. Wanneer sy nie skryf nie, sing sy graag of doen naaldwerk.

Dalena Theron het grootgeword in Pretoria, waar sy skoolgegaan het en honneurs in joernalistiek en sosiale antropologie by Tuks gedoen het. Sy woon eintlik in Kaapstad, maar sy en haar man is tans in São Paulo vir sy werk. Sy hou haar besig deur Portugees te leer en stories te skryf. 

Elani Venter is 26 jaar oud en woon in Malmesbury, Wes-Kaap. Sy het skoolgegaan aan Augsburg Landbou Gimnasium in Clanwilliam, en in 2005 gematrikuleer. Sy werk tans as ’n rekenmeestersklerk by ’n ouditeursfirma en studeer BCompt deur Unisa. Sy skryf ook graag in haar vrye tyd.


Elmarie Greffrath-Rossouw is bo alles ’n woordliefhebber. Sy het in Clanwilliam skoolgegaan en daarna spraakterapie aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Sy werk as konsultant vir ’n mediese maatskappy in Johannesburg en soek graag die Hoëveldse laatmiddagson op saam met haar man en drie skaaphonde.


Elmien de Klerk het skoolgegaan op Potchefstroom en arbeidsterapie aan die UV studeer. Die studiegogga het gebyt en ’n meestersgraad het gevolg. Sy werk as arbeidsterapeut by ’n skool. Sy en haar man geniet die buitelewe. Hulle woon in Heidelberg, Gauteng.

Frederick Botha is op 23 Junie 1988 gebore en word op Heidelberg groot. In 2009 ontvang hy die graad BA Geesteswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus en in 2010 sy honneurs in Afrikaans (cum laude) aan die Universiteit van Johannesburg. Hy is tans besig met die voltooiing van ’n magisterverhandeling in Afrikaans aan die Universiteit van Johannesburg, waar hy ook Afrikaanse letterkunde op voorgraadse vlak doseer. 


Inge Lategan is gebore op 25 Mei 1985, tussen Bolandse berge en ryk wingerde in Worcester.  Na matriek aan Worcester Gimnasium het sy openbare skakelwese op Stellenbosch gaan swot. Vir al amper sewe jaar is sy ’n finansiële-adviseur-assistent. Sy het die hart van ’n Gemini, dra haar hart op haar mou, en partydae wil sy woorde eet, net omdat dit so mooi is!


Madré Marais is in Bloemfontein gebore en het hier aan die Meisieskool Oranje gematrikuleer. In 2009 het sy haar BA in taalpraktyk aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf en hierna haar BA Honneurs in linguistiek. Sy werk as subredakteur by Volksblad se plaaslike koerante.


Marteni Burger het grootgeword in Potchefstroom en het haar matrieksertifikaat by Hoër Volkskool Potchefstroom se kantoortannie gaan optel. Daarna het sy drama geswot aan die Universiteit Stellenbosch, haar BA Honneurs verwerf in drama- en teaterstudie, en in teksskepping gespesialiseer. Sy woon in Arcachon in die Suidweste van Frankryk, net buite Bordeaux, waar haar verloofde rugby speel en sy vryskut-skryfwerk doen.

Niel Koekemoer is in Lichtenburg, Noordwes, gebore en matrikuleer aan die Hoërskool Lichtenburg. Hy studeer BIS Multimedia en behaal sy meestersgraad in informatika aan die Universiteit van Pretoria. Hy woon in Kaapstad, waar hy in die finansiële sektor as ’n stelselargitek en -analis werk.

Solette Stander het tussen die blou en die sout van die Kaap grootgeword. Sy het ’n meestersgraad in Afrikaans en Nederlands, asook ’n nagraadse kwalifikasie in bemarking by Maties verwerf. Tans werk sy as assistent-uitgewer van kinder- en jeugboeke by LAPA Uitgewers in Pretoria. Sy sit net stil wanneer sy lees – ander kere hardloop sy of klouter berge uit.


Talita van Graan se grootste ambisie as kleuter was om ’n biblioteektannie te word. Sy gaan darem een stappie verder en studeer uitgewerswese aan die Universiteit van Pretoria, waar sy in 2008 haar honneursgraad behaal. Vir drie jaar was sy die kinderboekuitgewer by Fantasi Boeke en hou tans skool in Suid-Korea.

Tanya van Buuren is ’n produk van Hartbeespoortdam en bewoon tans die Moederstad. Bedags doen sy skakelwerk vir ’n eiendomsmaatskappy en snags pleeg sy rubrieke. Sy het joernalistiek aan Tukkies studeer en toe vir twee jaar in Nederland gewoon. Sy het ’n obsessie met quotes en fairy lights en is glad nie getroud nie.


Wentzel Lombard is 21 en is in Harrismith gebore, waar hy ook in 2011 graad 12 voltooi het aan Harrismith Christian Academy. Hy is tans besig met sy tweede jaar in dramastudie aan Oakfields College in Pretoria. Om stories te vertel is sy groot passie.


Willem Breyl is van Albertinia in die Wes-Kaap. Hy het in 2006 matrikuleer aan Hoërskool Langenhoven in Riversdal en daarna aan Inscape Design College in Kaapstad vir ’n graad in binnenshuisontwerp studeer. Willem was in 2011 deel van die Kunstekaap Teater se tegniese-opleidingsakademie, en dis ook hier waar hy hom tans bevind, as stelontwerper.


Teen die sluitingsdatum van die wedstryd het Human & Rousseau altesaam 116 inskrywings vir die wedstryd ontvang, aansienlik meer as die 69 inskrywings wat in 2012 ontvang is. Die samestellers, Leti Kleyn en Suzette Kotze-Myburgh, moes daarna die moeilike maar opwindende taak aanpak om 20 verhale vir die kortlys te kies.

Die skrywers op die kortlys sal die geleentheid kry om hul verhale na aanleiding van twee keurverslae en terugvoering van ervare keurders af te rond. Die eerste en tweede weergawe van elke verhaal sowel as die keurverslae sal ook op LitNet geplaas word, sodat skrywers wat nié die kortlys gehaal het nie, ook uit die proses kan leer. Human & Rousseau sal die beste kortverhale in Nuwe Stories 2 publiseer. Die wenners van die kortverhaalwedstryd sal in November 2013 aangekondig word, wanneer Nuwe Stories 2 verskyn. Die prysgeld lyk soos volg:

  • 1ste prys R8 000
  • Twee naaswennerpryse van R3 500 elk
  • Die skrywers wie se verhale gekies word vir publikasie sal elk R1 000 ontvang.

Geen manuskripte sal ná die keuringsproses aan skrywers terugbesorg kan word nie. Suksesvolle skrywers sal deur Human & Rousseau in kennis gestel word, waarna die redigeringsproses in oorleg met die samestellers sal geskied. Insluiting in die finale bundel berus op die suksesvolle voltooiing van die redigeringsproses.

Ongelukkig sal daar nie verslae of kommentaar aan alle deelnemers gelewer kan word nie. Die finale oordeel vir publikasie ná die redigeringsproses berus by die samestellers en geen korrespondensie sal hieroor gevoer word nie.

Lees ook:
Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013: Eerste weergawe van kortverhale
Só lyk die Nuwe Stories 2013-finaliste se skryfstasies
Wenke van Afrikaans se kortverhaalkenners

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top