Pêrels voor die swyne (Om ’n bok se hart te plant): Die tweede keurverslag deur Leti Kleyn
Pêrels voor die swyne (Om ’n bok se hart te plant)
Ek dink die skrywer het ’n redelike poging aangewend om die verhaal vaartbelyn te maak en die sterker elemente in die verhaal te ontwikkel.
Die grootste knelpunt in die verhaal op die oomblik is steeds vir my die integrasie van die verskillende verhaallyne. Die eerste deel van die verhaal (die besoek aan die ouma) is steeds te veel van ’n verslagdoening van die ouma se omstandighede. ’n Vaardige skrywer moet hierdie gegewens op ’n literêre wyse aanbied, nie bloot aan die leser vertel nie. Ek is steeds oortuig dat dit die vertelperspektief is wat hierdie probleem voorlopig onoorkombaar maak. Die twee karakters (die ouman en die kleindogter) moet tot volronde karakters ontwikkel word – soos dit nou daarna uitsien is dit ’n baie eensydige vertelling van presies dit wat die leser reeds van die versorging van bejaardes in ’n groot aantal Suid-Afrikaanse versorgingsoorde weet.
Ek sal graag wil sien dat die skrywer nog aandag skenk aan die afwerking en taalgebruik en stelwyses soos “lyk of dit wil bars”, “T-hemp wat sê”, “vinnige teetjie”, “mors ’n mens”, ens. Ek sal nie die term “hangtiete” vir die ouma gebruik nie, en ek is nie oortuig van die beeld van die hoenderkuiken nie. Kyk ook na die toeligting oor die hart in die beskrywing van die dominee en die “allerhande dinge” wat oor harte geskryf is – beweeg weg van algemene geykte beskrywings. Stroop die verhaal van alle onnodige inligting.
Verskillende karakters “mompel” voortdurend, eerder as om te praat of deur hulle handeling te wys. Dialoog kan effektiewer aangewend en meer oortuigend gebruik word.
Ek hou steeds meer van die oorspronklike titel as die nuwe voorstel.
• Lees die tweede weergawe: "Om ’n bok se hart te plant (Pêrels voor die swyne)"
• Lees die eerste weergawe: "Om ’n bok se hart te plant (Pêrels voor die swyne)"
• Lees die eerste keurverslag oor "Om ’n bok se hart te plant (Pêrels voor die swyne)"
• Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter