Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2014: Tweede keurverslag van "Een in ’n miljoen"

  • 0

Een in ’n miljoen: Die tweede keurverslag deur Leti Kleyn

 


 

Een in ’n miljoen

Meeste van my oorspronklike kritiek staan ongelukkig ook in hierdie rondte steeds. Die aanvanklike filosofiese betoog oortuig my nie van die binnewêreld van die verteller/karakter nie. Die skrywer gebruik ’n ek-vertelperspektief wat nie deur die hele verhaal oortuig nie. Sou die hoofkarakter/verteller byvoorbeeld na sy “geïsoleerde posisie” kan verwys? Is hierdie ’n oortuigende motivering/karakterskets van die binnewêreld van ’n moordenaar?

Veral die perspektiefwisseling tussen die twee afdelings pla my. As daar van ’n eerste- na derdepersoonsperspektief gewissel word, sal die toonaard van die teks ook verander. Dele een en twee sien (ongeag die verandering in perspektief, veral wat atmosfeer betref) dieselfde daarna uit.

Ek sal graag wil sien dat die verhaal gestroop word van alle onnodige inligting, moralisering en oordadige beskrywings. Kyk byvoorbeeld na stelwyses soos “geen mens kan ontsnap nie – nie eers ek nie”. Waarom nie eerder: “geen mens kan ontsnap nie, ook nie ek nie”. Die eerste weergawe veronderstel dat die karakter/verteller bo menslike uitlewering verhewe is. Die tweede stelling dui aan dat die persoon (soos almal) nie aan die noodlot kan ontsnap nie. Dit is ’n klein wysiging, maar het ’n besliste betekenisverskil. Voorbeeld 2: Iemand kan nie merkbaar dunner word nie. Wel merkbaar maerder ... Jy kan nie “half luister” nie ... of jy luister of jy luister nie.  Mens kan nie glimlag dat jou wange seer raak nie. Ek is nie seker die moordenaar gaan die slagoffer as “Mevrou” aanspreek nie. Mens word nie na iemand “aangelok” nie, wel aangetrek. Daar is ook heelwat tikfoute wat nog in die teks agtergebly het.

Let veral daarop dat die verhaal (veral deur die gebeure) die immorele situasie moet uitspel. Die skrywer moet die leser nie dwing om in die situasie en die gebeure in te lees wat die skrywer vir hom as morele les voorhou nie.

 


 

Lees die tweede weergawe: "Een in ’n miljoen"

Lees die eerste weergawe: "Een in ’n miljoen"

Lees die eerste keurverslag oor "Een in ’n miljoen"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top