
Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.
Een in ’n Miljoen
Die strale van die laatmiddagson stroom deur die Moederstad se reusetorings en in ’n enkele oomblik is die wêreld bedek met bloed en goud. Vanaf my geïsoleerde posisie op die bokant van Tafelberg, sien ek hoe motors soos ’n lang stoet deur die betondoolhof kruip, elkeen doelgerig op pad na die uitgang van die stad – na vryheid.
Hoeveel mense sien ek voor my? Honderde? Duisende? ’n Miljoen? Ek probeer my die lewe van slegs een van hierdie mense indink en die beeld is hol – een van ’n soeke na iets unieks en betekenisvol, omring deur die homogeniese pogings van soveel ander. Die gedagte is oorweldigend en selfs hier, hoog bo die stad, maak dit my benoud en laat my vasgevang voel. Ek kyk uit oor die treurige toneel voor my en voel ’n jammerte vir dié wat ek sien, dié mense wat so hunker na iets wat hul doellose voetspore sal verewig. Op watter manier sou die res van die samelewing verander as slegs één so ’n persoon nie meer deel daarvan sou vorm nie? In die niksseggende, gejaagde lewe van die middestad, hoeveel is die lewe van een person werklik werd?
Dit gebeur stadig. Soos ’n gefluisterde, geheime waarheid, dring die besef tot my deur en kruis die drumpel van my gedagtes – niks nie. Die lewe van een mens is die ekwivalent van ’n enkele druppel in ’n oseaan, en die begeerte vir ’n unieke, betekenisvolle bestaan’n naïewe oorblyfsel van mens se tere jeug.
Ek wonder by myself of die wêreld voor my weet hoe klein en onbenullig dit werklik is. Is sy prooi bewus dat die oënskynlik oorvloeiende geleenthede wat deur advertensieborde en mense in swart pakke vir hulle aangebied word, slegs ’n dowwe illusie is? ’n Giftige stuk aas wat kwansuis as die rede vir hul bestaan uit die hemel sak – ’n fraksie te hoog om ooit beet te kry. Sou dit nie ’n seëning wees om so ’n mens van sy nietige bestaan te bevry nie? Enige toekoms moet tog beter wees as dié – of die afwesigheid van een – wat vir hulle aangebied word. Selfs een twee meter onder die grond, bedek met koue klip en gawe woorde.
Die son sak stadig oor die rand van die kalm see en soos die laaste helder strale van sy stille, waaksame blik verdwyn, sak ek van my alomteenwoordige troon aan die rand van die wêreld en daal terug grond toe in die laaste kabelkar van die dag. Een vir een flikker die ligte van die stad aan soos skitterende sterre – ’n fantasiebeeld wat veel belowe. Hul helder gloed laat my vir die eerste keer besef net hoe leweloos die oë van dié langs my is. Dit is asof hulle weet dat hulle nooit so vry sal voel as bo op daardie berg nie, hul lewens vir ewig afhanklik van ’n roetine van swoeg en sweet en ’n alomteenwoordige begeerte vir meer – meer populariteit, meer geld, meer tyd.
Onder word die mense in die kabelkar onvermydelik weer deur die werklikheid met dieselfde grynslag begroet, en soos die deur oopgaan, sien ek ’n huiwerigheid in hul tree buitentoe. Maar ek wag nie. Ek klim in my motor en sweef soos ’n spook deur die stad se bulte en wentelende strate. Dié wat my raaksien se blik skiet reg deur my, asof niks van waarde agter my vreemde oë hul aandag roep nie.
Ek kom by Langstraat af en die kar kruip stadig deur die toneel voordat dit tot stilstand kom. Dit is Vrydagaand en die maan se teenwoordigheid toon aan dat die weeklikse hemel uiteindelik hier is. Links en regs van my bars kroeë en dansklubs se deure oop vir hul gereelde besoekers, en van voor en agter my vul die strate met opgewonde, opgetoë voetgangers. Maar agter hul glinsterende oë en gemaak-onbesorgde glimlagte sit daar siele wat suf gelewe is en wat soek na ontvlugting.Die massa mense versprei in hul verskillende groepe – hulle het meer in gemeen as wat hulle dink – en kies met bulderende stemme hul gif. Die hoeveelheid beplanning en ondersoek wat so ’n aand behels, is amper komies. Die eindresultaat is steeds dieselfde – ’n skuilplek van die wêreld wat teen Sondag se pynlike herstel weer ’n onaangename realiteit word.
Die ure flits verby met ’n onduidelike dynserigheid vol botsende, veelkleurige neonligte en oordowende musiek wat na ’n ruk slegs deel van die agtergrond word – een wat min doen om die dooie siele weer by te bring, al dans hulle hóé hard. Van ’n klub se trappe (ek dink die naam is Jagluiperd) kom ’n vrou vinnig afgedraf met ’n man agterna. Dit blyk nie dat sy veel met hom te doen wil hê nie en na ’n reeks heel onbeskofte handgebare besluit die man dat daar oorgenoeg ander prooi binne vir hom wag en vind weer asiel in Jagluiperd se arms. Die vrou slenter deur die straat en selfs al is sy amper te ver weg om mooi te sien, kan ek nie van haar wegkyk nie. Daar is iets onverklaarbaar omtrent haar wat my lok en ek weet dat sy die regte een is. Ek draai my kar se sleutel en haal haar stadig in.
“Ek’s ’n taxi, soek jy een?” vra ek met ’n glimlag wat my wange seermaak.
Sy kyk my’n oomblik skeef aan, asof sy die man van vroeër verwag. Wanneer sy sien dat ek ’n ander gesig is, mompel sy iets terwyl sy knik en val ongrasieus op die agterste sitplek sonder om eens te kyk vir enige teken wat my swak leuen kan bevestig. Ek kry nou eers ’n kans om haar behoorlik te bekyk; sy is jonk en aantreklik, maar merkbaar te skraal, haar blonde hare val soos sagte satyn oor haar skouers en haar blou oë is misleidend diep. Sy staar na die verte van die naglig en ek wonder amper wat sy kontempleer, maar haar blik is kenmerkend van ’n persoon wat net halfteenwoordig is. Smoordronk.
Ek voel ’n jammerte vir die weerlose dier wat agter lê. Tot ’n mate kan ek haar ellende verstaan. Sy – soos al die ander wat ek vanaand gesien het – soek vir ’n enkele oomblik waarin sy sal voel asof sy in beheer van haar lewe is. Waarin sy kan wegbreek van die werk-slaap-werk-roetine waarna sy altyd as kind uitgesien het. Vir haar kom hemel een keer ’n week, al is dit kort en gereeld teleurstellend. ’n Oomblik van vryheid waarin sy haar lyf kan misbruik soos sy wil en vergeet van die drome wat haar bestaan treiter. Haar lewe sal moontlik nooit enigiets meer as dit wees nie. Hoe kan dit? Sou dit nie ’n guns wees om haar eens en vir altyd te bevry nie?
Die rit vat nie lank nie en binne ’n paar minute bring ek die motor tot stilstand voor die adres wat sy vir my gegee het. Dit is amper tyd. Ek help haar na haar woonstel se voordeur toe – dit is duidelik dat sy nie meer as twee treë reguit kan loop nie – en, asof sy heeltemal vergeet het van my teenwoordigheid, los sy die deur wawyd oop terwyl sy vorentoe slinger en soos ’n lewelose sak op haar bank val. Perfek. Ek voel amper sleg oor wat ek beplan om aan haar te doen, maar ek onthou dat net ek die wilskrag het om te doen wat nodig is, en dit maak die res maklik. Uit my broek se sak neem ek twee rubberhandskoene en van my belt ’n vlymskerp mes. Dit sal nie moeilik wees om ’n storie te skep nie. Selfmoord is tog haar enigste manier van ontsnapping.
***
Sondagoggend ontvang Sersant Viljoen en Luitenant Fouché ’n oproep van ’n benoude vrou wie se stem bewe en ’n boodskap van onheil lewer. Binne ’n uur begroet die toneel van ’n jong vrou se lewelose liggaam hulle; haar hare is blond en haar oë blou en roerloos soos die kalm see. Sy is sonder twyfel beeldskoon en die toneel is amper kalmerend, totdat Viljoen agterkom dat die mat nie altyd rooi was nie, en die bloed om haar polse hul aandag trek.
“Lyk soos ’n aand van te veel suip, dronkverdriet en selfmoord,” sê Fouché beslis, voordat hy ’n groot hap van sy Steers-burger neem en dit aggressief uitmekaar skeur. “Wat dink jy, ou seun?”
“Dit kan nie wees nie,” antwoord Viljoen. “Kyk net hoe sy lê . . . Sy is amper té perfek uitgestal. Soos iets wat jy in ’n fliek of iets sou sien. Ek . . .ek weet nie, maar dis definitief iets waarna die forensiese span moet kyk en . . .”
“Luister, Sersant,” onderbreek Fouché hom, “ek weet nie wat jou nou beet het nie, maar ék het nie tyd daarvoor nie; wag maar vir forensies as jy wil. Ek moet oor ’n halfuur my familie by die kerk ontmoet en daarna is daar letterlik duisende ander sake wat nog op my lessenaar lê, en enige een van hulle is veel belangriker as hierdie broad se treurige storie. Wat maak die dood van nog één persoon in hierdie stad nou regtig saak? “Fouché wag nie vir ’n antwoord nie en prop die res van sy kos in sy mond terwyl hy kar toe stap.
Woordeloos bly staan Viljoen in die verlate vertrek. Dit gebeur stadig. Soos die son se helder strale die kamer bedek in ’n goue gloed, dring die besef tot hom deur en kruis die drumpel van sy gedagtes – die lewe van een mens in die Moederstad is net die tyd wat dit neem om ’n enkele Steers-burger te eet werd. Niks meer en niks minder nie. Sonder betekenis. Niksseggend. Een in ’n miljoen.
Lees die eerste keurverslag deur Leti Kleyn
Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae
Klik hier vir die kortlyskandidate
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

