Nuwe Stories 3: Onderhoud met Susan Gaigher

  • 0
Susan Gaigher

Nuwe Stories 3

Saamgestel deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn
Uitgewer: Human & Rousseau 
ISSN: 9780798167987

Koop Nuwe Stories 3 by Kalahari.com

Koop Do androids dream of electric sheep by Kalahari.com

Nuwe Stories 3 is pas gepubliseer as eindresultaat van die Nuwe Stories-skryfkompetisie wat deur Human & Rousseau in samewerking met LitNet aangebied is. Al die kortlysverhale is op LitNet gepubliseer saam met die keurverslae deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn. Die skrywers kon skaaf aan hulle verhale terwyl lesers ook kon baat uit die wenke en raad. Die finale weergawe is opgeneem in Nuwe Stories 3. LitNet het aan die skrywers wat in die bundel opgeneem is 'n paar vrae gevra.

Susan Gaigher het eervolle vermelding ontvang vir haar kortverhaal "Maslow".

Wat was die inspirasie agter jou verhaal wat in Nuwe Stories 3 opgeneem is?

Die idee vir Maslow broei al 'n tydjie in my kop vandat ek 'n verhaal oor Koning James IV raakgelees het. Die koning was 'n voorstaander van die Renaissance en het sy hof gevul met geleerdes en wetenskaplikes van die tyd. Hy het glo in die vroeë 1500's 'n eksperiment gewerf om vas te stel of die mens geprogrammeer is met 'n ingebore, goddelike taal. Die eksperiment het behels dat hy twee babas saam met 'n doofstom soogmoeder op die eiland Inchkeith laat aflaai het. Daar is geen bevestigde rekord van wat van die kinders geword het nie. Die konsep het my baie interesseer.

Martine se teepot is eenvoudig gebore uit my frustrasie met indoktrinasie en die arrogansie van geïndoktrineerdes.

Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhale persgereed te kry met die hulp van keurverslae en 'n werkswinkel. Hoe het jy hierdie proses vanjaar ervaar?

Dit was openbarend om direkte kritiek en advies so openlik vanaf die keurders te kry. Suzette en Janita se insette was altyd taktvol en verrykend, en het ongetwyfeld die verhale tematies en stilisties verbeter.

Wat is vir jou die moeilikste aspek as dit kom by die skryf van 'n kortverhaal? 

Pas en tydsverloop. Dit is uitdagend om met so min woorde 'n geloofwaardige wêreld te skep, en dan nog 'n plot doeltreffend bymekaar te sit sonder dat dit gejaagd en swaarwigtig oorkom.

Het die omgewing waar jy tans woon en werk, 'n invloed op jou skryfwerk of put jy inspirasie uit ander bronne?

My fisiese omgewing, nie regtig nie. Maar die mense wat my omring en persoonlike ervaring, natuurlik. Verder raak ek heel opgewonde oor wetenskapfiksie. Ek sou sê die boeke wat ek lees inspireer waaroor ek skryf, maar my omgewing bepaal hoe ek dit benader.

Wat is jou gunsteling-aanhaling deur 'n skrywer?

"The trouble with having an open mind, of course, is that people will insist on coming along and trying to put things in it." – Terry Pratchett.

As daar een boek is wat jy wens jý het geskryf, wat sal dit wees?

Do androids dream of electric sheep deur Philip K Dick.

Wat lees jy op die oomblik en wat is jou gunsteling- Suid-Afrikaanse boek wat die afgelope jaar of twee verskyn het?

Ek lees op die oomblik Gödel, Escher, Bach van Douglas Hofstadter. Dit vat lank. Ek het nie 'n gunsteling Suid-Afrikaanse boek van die afgelope twee jaar nie.

Wat is jou skryfplanne vorentoe?

Ek gaan probeer om 'n gewoonte daarvan te maak en kyk wat gebeur.

 

Lees die tweede weergawe van "Martine se teepot"

Lees die tweede weergawe van "Maslow"

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top