Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Tweede weergawe van "Een in ’n miljoen"

  • 0

Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.

 


Een in ’n miljoen

Die strale van die laatmiddagson stroom deur die Moederstad se reuse-torings en in ’n enkele oomblik is die wêreld bedek met bloed en goud. Vanaf my geïsoleerde posisie op Tafelberg, sien ek hoe motors soos ’n lang stoet deur die betondoolhof kruip, elkeen doelgerig op pad na die uitgang van die stad, na woordelose huwelike, die roetines van die huis en aande voor die televisie op soek na ontvlugting – na vryheid.

Hoeveel mense sien ek voor my? Honderde? Duisende? ’n Miljoen? Ek probeer my die lewe van slegs een van hierdie mense indink en die beeld is hol – een van ’n soeke na iets uniek en betekenisvol, omring deur die homogene pogings van soveel ander. Die gedagte is oorweldigend en selfs hier, hoog bo die stad, maak dit my benoud en laat my vasgevang voel. Ek kyk uit oor die treurige toneel voor my en voel ’n jammerte vir dié wat ek sien, dié mense wat so hunker na iets wat hul doellose voetspore sal verewig. Op watter manier sou die res van die samelewing verander as slegs één so ‘n persoon nie meer deel daarvan sou vorm nie? In die niksseggende, gejaagde lewe van die middestad, hoeveel is die lewe van een persoon werklik werd?

Dit gebeur stadig. Soos ’n gefluisterde, geheime waarheid, dring die besef tot my deur en kruis die drumpel van my gedagtes – niks nie. Die lewe van een mens is die ekwivalent van ’n enkele druppel in die dreigende blou duisternis van die Atlantiese Oseaan wat die stad omring, en die begeerte vir ’n unieke, betekenisvolle bestaan ’n naïewe oorblyfsel van die jeug.

Dieselfde gevolgtrekking as altyd. ’n Finaliteit waarvan geen mens kan ontsnap nie – nie eens ek nie. In die ewige status quo is ons almal maar net gevangenes wat by die afwesigheid van enige ware, suiwer doel hunker na iets om ons bestaan te regverdig. Die enigste verskil tussen my en hulle is dat ék dit raaksien. Met elke sonsondergang wat ek hierbo beleef, word ek meer daarrvan bewus, van die onbenulligheid van alles. En elke keer dink ek aan haar.

Die son verdwyn stadig oor die rand van die kalm see, en soos die laaste helder strale verdwyn, sak ek van my alomteenwoordige troon aan die rand van die wêreld en daal terug grond toe in die laaste kabelkar van die dag. Een vir een flikker die ligte van die stad aan soos skitterende sterre – ’n fantasiebeeld wat veel belowe. Hul helder gloed dans spottend in die moeë oë van die mense rondom my, en ek kom agter dat selfs in die middel van die stad is ek steeds ’n onsigbare figuur aan die rand van hul uitsiglose wêreld. Nie een van hulle beskou die stad nie, maar kyk liewer met ’n blik van verlange na die berg wat saamsmelt met die skemerte. Maar soos die aand die hemel insluk, verdwyn dié beeld al hoe meer, totdat hul yl weerkaatsings in die glas al is wat hulle kan sien. Dit is asof hulle weet dat hulle nooit so vry sal voel as bo-op daardie berg nie, hul lewens vir ewig afhanklik van ’n dooie roetine van studeer en werk en ’n ewige begeerte vir meer – meer populariteit, meer geld, meer tyd en alles anders wat verweerde advertensieborde hulle oortuig hulle nodig het om ’n vol, verrykte lewe te lei. Hul begeerte vir ’n lewe waaroor hulle kan trots voel, is een waarin vervulling nooit ’n tasbare realiteit word nie. Dit bly slegs ’n vae illusie van iets wat hulle nie kan begryp nie – betekenis. Enige toekoms moet tog beter wees as dié wat vir hulle voorlê – selfs een diep onder die grond, bedek met koue klip en gawe woorde.

Onder word die mense in die kabelkar onvermydelik weer deel van die werklikheid, en soos die deur oopgaan, sien ek ’n huiwerigheid in hul tree buitentoe. Maar ék wag nie. Ek klim in my motor en ry al langs Tafelbergpad voordat ek terugkeer stad toe. Hoog bo my voorruit kan ek net-net die swart silhoeët van ’n voël sien wat met sekerheid deur die vroeëaand se lig sweef – doelgerig. Só ken ons nie die lewe nie. Die suiwerheid van ons wilde instink is lank terug oorheers deur die onsekerheid van beskawing.

Ek ry met Langstraat af en die kar kruip stadig deur die toneel voordat dit onder ’n dooie straatlig tot stilstand kom. Ek weet sy gaan hier wees – ek moet net wag.

Dit is Vrydagaand en die sekelmaan se lig toon aan dat die naweek se hemel uiteindelik hier is. Links en regs van my bars kroeë en dansklubs se deure oop vir hul gereelde besoekers, en van voor en agter my vul die strate met jong, opgewonde voetgangers. Maar agter hul glinsterende oë en gemaak-onbesorgde glimlagte sit daar siele wat suf gelewe is en soek na ontvlugting. Dié wat my raaksien se blik skiet reg deur my, asof niks van waarde agter my vreemde oë hul aandag roep nie. Die massa mense versprei in hul verskillende groepe – hulle het meer in gemeen as wat hulle dink – en kies met bulderende stemme hul gif. Die hoeveelheid beplanning en ondersoek wat so ’n aand behels is amper komies. Die eindresultaat is steeds dieselfde – ’n skuilplek van die alledaagse wêreld wat teen Sondag se pynlike herstel weer ’n onaangename realiteit word.

Tyd flits verby met ’n onduidelike dynserigheid vol botsende, veelkleurige neonligte en oorverdowende musiek wat na ’n ruk slegs deel van die agtergrond word – een wat min doen om die dooie siele weer by te bring, al dans hulle hoé hard.

En dan sien ek haar. Van haar gunstelingklub, Cheetah, se trappe kom sy afgeloop – stadig, ellendig. Ek het geweet sy sal hier wees, en selfs van my pikswart kol skaduwee oorkant die straat herken ek haar. Haar hare is kortgesny, maar behou die natuurlike swart kleur, en alhoewel sy merkbaar dunner geword het, is sy steeds jonk en mooi, haar blou oë so diep en haar rooi lippe so fyn dat ek soms myself moet herinner dat sy net soos al die ander is – niks nie.

Sy begin nou met die pad af stap en ek bring die motor stadig weer aan die lewe om haar in te haal. Soos altyd, kom sy nie agter dat ek reg agter haar is nie. Ek is amper parallel met haar wanneer ek liggies my toeter druk en die venster afrol.

“Ekskuus, mevrou. Soek jy ’n taxi huis toe?” vra ek met ’n glimlag wat my wange seermaak.

Sy bestudeer vir ’n oomblik my kar, maar klim sonder veel aarseling in nadat sy met ’n moedelose blik die lang straat af gekyk het. Die deur klap suutjies toe en ek draai om om te vra:

“Waar gaan ons vanaand?”

Dit lyk asof sy net half luister en sy prewel saggies ’n antwoord sonder om veel meer aandag aan my te gee. Sy herken my glad nie.

Ek onthou nog die eerste keer toe ek haar gesien het. Ek het gewag in dieselfde straat, voor dieselfde klubs, soos ek altyd doen oor naweke per my roete, toe sy in die asiel van ’n vreemde man se arms by die agterste sitplek ingeklim het. Smoordronk. Sy kon skaars lank genoeg van hom af wegbreek om vir my haar adres af te rammel. En ek het dit nie vergeet nie.

Ek het hulle afgelaai by haar woonstelblok, gehoor hoe sy gretig die hek se kode aan hom uitroep, desperaat vir die lyf van ’n man wie se naam sy nie ken nie, sodat hy vir hulle kon oopmaak. En toe, binne die verloop van ’n paar sekondes, is sy weg. Maar ek het geweet dat ek die volgende oggend sou teruggaan. En die dae daarna.

Daardie aand het ek vir die eerste keer begin dink: waarom verkies sy om haar vrye tyd deur te bring met ’n lyf vol alkohol, asof in ’n poging om in daardie paar ure so min as moontlik van die ware lewe te onthou? Hoe meer ek haar begin dophou het, hoe beter kon ek my vraag beantwoord. Hoe meer het ek verstaan.

Oorlewing is nog nooit vir haar ’n stryd nie. Elke dag staan sy op, wetende dat sy die dag sal oorleef sonder moeite. Sonder dié instinktiewe dryfkrag aan haar lewe, wat anders het sy om werklik voor te leef? Haar geslag se stryd is nie een teen oorlog, rasisme of vir vroueregte nie, maar ’n geestelike een sonder oorwinning. Sonder enige egte, tasbare doel aan haar bestaan, dool sy rond met ’n konstante, vae gevoel van waardeloosheid.

Dis snaaks om te erken dat ek op ’n stadium gedink het sy is uniek. Maar selfs nou, wetende dat haar stryd nie veel anders is as dié van die res van die stad nie, is daar iets omtrent haar wat my aanlok. Asof sy die hele stad verteenwoordig in sy onbenullige bestaan.

Vanaand het sy gedrink – nie ongewoon nie – maar nie soos al die ander aande nie. Nee, vanaand het sy net te min gedrink om te kan vergeet – om haar ellende van haarself weg te steek – en bly sy pynlik bewus van die einde van slegs nog ’n onuitsonderlike dag. In my agterspieël kan ek haar sien, en ek voel ’n jammerte vir haar wat soos ’n weerlose, gekweste dier hier agter sit. Sy – soos al die ander wat ek vanaand gesien het – soek vir ’n enkele oomblik waarin sy sal voel asof sy in beheer van haar lewe is. Waarin sy kan wegbreek van die werk-slaap-roetine waaruit haar lewe bestaan. Vir haar kom hemel een keer ’n week, en al is dit kort en gereeld teleurstellend, is dit steeds ’n oomblik van vryheid, waarin sy haar lyf kan misbruik soos sy wil en vergeet van die strewe na iets meer betekenisvol wat haar bestaan treiter. Maar haar lewe sal nóóit enigiets meer as dit wees nie. Hoe kan dit? Sou dit nie ’n guns wees om haar eens en vir altyd te bevry nie?

Die rit vat nie lank nie en binne ’n paar minute stop ek die motor voor haar woonstelblok in Vredehoek. Dit is amper tyd. Sy klim uit sonder ’n woord en los my in die donkerte voor die hek.

“Goeie nag!” roep ek agterna en wag.

Binne ’n minuut flikker die warm lig van haar slaapkamer aan, heeltemal sigbaar op die tweede verdieping. So het ek haar altyd gesien, in die mees private tye van haar lewe. Die enigste oomblike van waarheid. Ek het gesien hoe sy in die oggende haarself regmaak vir die dag wat kom, gegrimeer tot die punt dat haar onsekerheid nie meer in haar gesigsuitdrukkings wys nie. Ek het gesien hoe sy laat in die middae by huis aankom en vraend deur haar venster oor die stad uitkyk en wonder of dit enige verskil sou maak as sy nie die volgende dag by die werk opdaag nie. Ek het gesien hoe sy teen die einde van elke week nuwe klere aanpas en later in die aand ’n nuwe man ook kans gee in die hoop dat hy ’n holte êrens in haar sou vul. Maar hierdie keer is dit anders. Want hierdie keer, soos ek uit die kar klim, na die hek toe stap en een vir een die knoppies van die viersyferkode indruk, word ek deel van haar beskermde wêreld.

Haar voordeur is die laaste versperring tussen my en haar en drie kloppe is al wat dit neem om dit te verwyder. Ek kan haar hoor aankom; elke tree nader versnel my pols. Ek trek my rubberhandskoene versigtig an en hou die handvatsel van my lem stewig in my regterhand vas. Ek berou amper die feit dat ek die rol van haar redder moet speel, maar onthou dat net ék dit kan doen. Ek wíl dit doen. Die dood is tog haar enigste manier van ontsnapping.

* * *

Sondagoggend word ’n lyk gevind en binne ’n uur word die toneel geskep in ’n plek van werk en roetine protokol. Vir konstabel Marshand Steyn lyk die woonstel doodgewoon totdat hy afkyk en haar sien; haar gesig is bleek, haar fyn lippe beroof van kleur en haar oë blou en roerloos soos die kalm see. Sy is amper beeldskoon, behalwe vir die diep rooi poel wat om haar keel gevorm het.

Agter hom stap Luitenant Fouché – die legende – die vertrek binne en skandeer die toneel met gefokusde oë. Slaap klou vas aan hul rande; hy lyk moeg. Vir ’n lang ruk bly hulle net langs mekaar staan, elkeen besig om die moordtoneel in stilte waar te neem. Die pure gewig van Fouché se sukses en jare van ervaring is genoeg om Marshand senuweeagtig te maak, versigtig om nie enige iets te sê wat hom dwaas sal laat voorkom nie – nie voor dié man nie.

Nog ’n minuut gaan verby voordat hy die moed skep om uiteindelik sy mond oop te maak: “Wanneer ek ookal so ’n moord sien, vra ek altyd vir myself hoekom. Vir watter rede is hierdie vrou vermoor? Hoe regverdig ’n mens dit? Ek . . .” Hy huiwer, op soek na woorde, maar kan niks behoorlik formuleer nie. Sy mond voel droog en sy asem min. “Ek dink nie ek sal dit ooit verstaan nie.”

’n Lang stilte volg en hy verwens onmiddelik sy naïewe woorde. Wat moet hierdie man van hom dink? Hy probeer aan iets dink om te sê om die aandag van sy vorige stelling af te trek, maar stop himself wanneer hy Fouché se mond stadig sien oopgaan.

“Ten minste moes sy nie lank die pyn verduur nie; sy is vinnig dood.” Fouché se asem ruik na whisky en tandepasta en die spiere in sy gesig is styfgetrek.

Marshand dink nie eens voor hy praat nie: “Maar sy’s steeds dood, meneer; gee jy nie om nie?”

Fouché asem ontspanne maar uitgeput in en uit. “Ek gee om, Konstabel,” sê hy sag. “Ek gee elke keer om. En die res van die stad gee net soveel om. Moreoggend sal hulle van hierdie vrou se moord in die koerant lees en na hul asems snak van skok. Dit sal in hul gedagtes bly al die pad werk toe, ’n herinnering aan die dood wat hulle forseer om hul eie lewens te evalueer. Maar teen die aand, na ’n dag se werk en roetine, sal haar moord net nog ’n statistiek word en die lewe sal soos altyd aangaan. Binne ’n dag sal iemand anders êrens in die stad doodlê en haar plek in die nuus neem. Dan begin ons werk van voor af. En as dít die eindpunt van haar lewe is, is ek bly dat sy nie te lank die pyn van daai kennis moes verduur nie.”

’n Dooie stilte.

“Ek gaan buite wag vir forensies,” sê Fouché skielik kortaf. “Kom jy saam?”

Geen woorde vind hul pad na die punt van Marshand se tong nie – hy skud net sy kop en bly staan in die verlate vertrek. Hy kyk af na die vrou wat voor hom lê en wonder hoeveel mense haar dood werklik sal betreur.

Dit gebeur stadig. Soos die son se helder strale die kamer bedek in ‘n goue gloed, dring ’n geheime waarheid tot hom deur en kruis die drumpel van sy gedagtes – en hy verstaan. Sy is maar een in ’n miljoen.

 


 

Lees die eerste weergawe van "Een in ’n miljoen"

Lees die eerste keurverslag oor "Een in ’n miljoen"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top