Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.
Binnekort
Sy skud haar grys kop. Die toekniphandsak is op haar skoot en haar kierie leun teen die toonbank. Sy dra ’n blou blommerok, ’n string pêrels om haar nek en die hele outfit sit eksieperfeksie.
“Nee. Ek wil nie hê jy moet dit korter sny nie. Ek wil net hê dat jy dit perm.”
“Is mevrou seker?” Haar oë is wakker, skerp. Maar die plooie teken diep paaie rondom haar oë.
“Ja, hartjie.” Sy glimlag vir my in die spieël. Haar grys hare is plat teen haar kopvel, daar is geen orde en sy sê dit pla haar.
“Só kan ek nie aangaan nie. Wat sal die kinders sê? Hulle kom kuier binnekort, jy sien. Ek kan nie só lyk nie.”
“Reg, mevrou. Vandag maak ons vir mevrou mooi! Kom ek help, dan gaan was ons die hare.”
Ek kyk na my horlosie. Drie-uur. Ek moet op die laatste half vyf ry om vyfuur by die huis te wees. Sesuur moet ek en my verloofde by sy ouers wees. Sondag is Moedersdag en ons moet gaan hallo sê. Hulle bly al die pad aan die oostekant van Pretoria en dit is spitsverkeer daardie tyd.
Sy neem my hand en met die kierie in die ander stap ons oor die teëlvloere na die wasbak. Terwyl sy loop kyk sy na die wit mure met spieëls en plakkate van vrouens. Wella. Tresemmé. L’Oréal. Pureology. Blondekoppe, donkerkoppe en rooikoppe met elke moontlike haarstyl en onmoontlike glansende hare glimlag vir ons. Ek help haar by die trap op tot by die wasbakke en laat sak ’n stoel sodat sy gemaklik kan gaan sit. Sy draai om en mik. Met ’n klein sprongetjie is sy op die stoel. Dan wikkel sy haarself agtertoe. Haar voete wip onder haar rok uit. Stadig sit sy agteroor en leun haar kop teen die wasbak. Haar kierie bly in haar linkerhand en haar handsak lê op haar skoot.
“Nou kan jy maar wegspring.” Ek voel met my hand dat die water nie te warm is nie. Dan maak ek haar hare nat. Ek spuit L’Oréal-sjampoe in my hande, vryf dit en begin om haar kop te masseer. Slierte hare begin in die drein afloop. Hierdie hare sal nie hierna nóg ’n perm kan oorleef nie. Ek werk sagter.
“Oeeee, dit is lekker,” sê sy en maak haar oë toe. “Is jy getroud, hartjie?”
“Nee, mevrou. Maar ek is verloof!” Haar gesig helder op. Sy glimlag, maar haar oë bly toe.
“Vertel vir my.”
“Ons het op ’n vriendin se troue ontmoet. Agt maande gelede. Hy is ’n korterige mannetjie. Groen oë. Swart hare. Hy het die mooiste geaardheid. Ons het begin uitgaan en mekaar beter leer ken. Hy het my twee weke gelede gevra om te trou.”
Aai, pragtig,” sê sy met ’n glimlag.
“Ek is baie opgewonde, mevrou.”
“Ek kan daardie opgewondenheid onthou.”
Ek spoel die seep uit haar hare en vryf ’n treatment in. Sy glimlag, maar hartseer.
Kwart oor drie.
“Hoeveel kinders het tannie?”
“Vier. Ek het vier kinders,” sê sy trots.
“Sjoe! Ek en Petrus wil self kinders hê. Die oudste moet ’n seun wees. Dit sal ideaal wees. En definitief ’n meisiekind.
“My oudste is ’n seun,” vertel die tannie. “Hy is in Australië. Hy en sy vrou en twee kinders. Ek het hulle so twee jaar gelede gesien. Australië is maar baie ver, jy weet.”
“Dit is so, mevrou.”
Twintig oor drie.
Ek spoel die treatment uit haar hare en draai ’n swart handdoek om haar kop.
“Ons kan nou maar gaan sit, mevrou. Dan begin ek met die perm.” Sy wikkel haarself vorentoe, dan gee sy weer ’n sprong. Ek help haar tot by ’n stoel voor ’n spieël. Sy sit haar handsak voor haar op die toonbank neer en sit. Ek maak my trollie met gereedskap bymekaar. Sy krap in haar beursie en wys vir my ’n ou foto.
“Kyk. Hier is my oudste, Johannes. En hier is my enigste meisiekind, Karen. Sy is my tweede oudste. En hierdie enetjie is die jongste, Albert. Die is Regardt, my tweede jongste.” Sy wys met ’n artritisvinger na elkeen van haar kinders. Dit is ’n ou foto. Die modes dateer vanuit die tagtigs en die kinders is almal in hulle twintigs of vroeë dertigs.
Sy bêre die foto in haar beursie en terug in haar handsak. Dan sit sy agtertoe. Ek hang die mantel oor haar lyf. Die ou ineengekrimpte lyf verdwyn onder die mantel en dit lyk soos ’n kind wat daar sit. Sy kyk na haarself in die spieël. Met haar hand vryf sy saggies teen haar wang. Haar kromgetrekte vinger vryf al langs die plooie af. Sy teken die paaie oor haar gesig.
Half vier.
Ek kam haar hare. Vryf die perm lotion in. Dan smeer ek ’n oplossing aan wat dit moet beskerm. Volgende verdeel ek die hare in agt dele. Ek begin om die hare in te draai. Kruller vir kruller.
“My tweede oudste is in Engeland. Sy werk daar. ’n Kopdokter. Sy is nog steeds nie getroud nie. Ek raas alewig met haar daaroor. Ek sê vir haar sy moet terugkom en met ’n oulike boeremannetjie kom trou. Maar sy wil nie luister nie. Sy is alreeds amper te oud om kinders te kry. Hierdie kinders van my het ook almal hulle eie idees.” Sy sug. “Sy kom kuier so eenkeer ’n jaar.”
Met my konsentrasie op haar hare, hou ek haar dop in die spieël. Sy sien my oë op haar en glimlag dan helder. Dan kry haar oë weer ’n vaagheid.
“My man is al so vyf jaar terug oorlede. Die longkanker.”
“Ek is jammer om dit te hoor.” Ek werk verder.
Twintig voor vier.
“Hy was ’n vlieënier. Jy sien, meisiekind, ek was ’n lugwaardin in my jongdae. Ons het die wêreld saam gesien. Ons het internasionale vlugte gedoen. Ja. So het ons ontmoet. Die ander lugwaardinne was baie jaloers. Die lugwaardinne het mos altyd hulle ogie op die vlieënier. Maar ek het met hom weggestap.” Sy knip haar oog vir my en ek lag.
“Dit is so, mevrou.”
“Toe trou ons en ek raak swanger binne die eerste jaar. In daardie dae het ons mos nie voorbehoedmiddels en sulke goete gehad nie. Ons kon nie sulke dinge beplan soos vandag se kinders nie. En so mag ek toe nie verder vlieg nie. Oor die swangerskap. Ja. Ek het kinders grootgemaak terwyl hy verder gevlieg het.”
“Was mevrou hartseer daaroor?”
“Ja. Eers was ek hartseer. Met die eerste swangerskap was ek baie allenig. Jy weet nie wat om te verwag nie en jy is bang omdat jy nie al die dinge weet van kind kry nie. Jy sal self eendag sien. Maar toe my seunskind kom, toe is ek nie meer hartseer nie. Om ma te word het ’n ander wêreld oopgemaak en vir my oneindig baie vreugde gebring.”
Ek sit die groot haardroeër oor haar kop en stel die hitte. Ek gee vir haar tydskrifte en ek maak vir haar tee. ’n Tydskrif word met moeë hande opgetel en oopgemaak. Sy lees hier en daar. Soms trek sy haar neus op en blaai vinnig verder. Die realiteite van hierdie wêreld is te veel vir haar.
Twintig minute oor vier haal ek die haardroeër van haar kop af.
“Dankie hartjie. Daardie ding het nou beginne te erg raak.”
Ek begin om die krullers uit te haal. Een vir een. Dan is dit weer terug wasbak toe. Ek spoel die perm lotion uit. Die tyd raak nou min. Dan is dit weer terug stoel toe.
Twintig voor vyf.
“Die siekte kom haal ons almal maar. Ons kan nie vir hom weghardloop nie. Op die einde word ons siek.” Haar hande draai in mekaar. Stil staar sy voor haar.
“Reghardt, my derde oudste sit in Johannesburg. Maar hy vlieg heeltyd regoor die wêreld. Besig, besig, besig. Altyd aan die gang! Hy is die baas van die een of ander spoggerige maatskappy. Ek kry hom nie gebel nie en ons praat maar min. Ek sien hom die minste. Ek het hom met sy pa se begrafnis laas gesien.”
Ek haal ’n bottel treatment uit en vryf dit haastig in my hande voor ek dit deur haar hare vee.
“Die jongste bly in Suid-Korea. Hy gee Engelse klasse. Hy is my trots. Op skool het hy altyd eerste gestaan in sy klas. Ek en sy pa het gedink hy moet vir dokter studeer, maar hy het gesê nee. Hy is so lief vir kinders, toe besluit hy om ’n onderwyser te word. So ’n maand gelede was hy hier vir Kersfees. Ek sien hom gewoonlik maar net vir Kersfees.”
My hande bly doenig met haar hare en ek maak asof ek nie die trane raaksien nie. Ek spuit haarsproei.
Kwart voor. Vyf.
Ek sluk diep en plak ’n glimlag op my gesig.
“Kyk daar. Mevrou lyk pragtig!” Ek haal ’n spieël uit ’n laai en hou dit agter haar kop sodat sy kan sien.
“Ag, hartjie. Dankie. Nou hoef ek nie skaam te wees as my kinders kom kuier nie. Hoe sal dit dan nou wees as hulle huistoe gaan en ’n bossiekop-ma onthou?”
Ek lag saam met haar.
Sy staan op en ek help haar. Dan lig sy haar handsak van die spieëlkas af en haal haar beursie uit.
“Hoeveel skuld ek jou, hartjie?”
“Vandag skuld mevrou my niks. Sondag is mos Moedersdag.”
Sy neem my hand en druk hom styf. “Dankie.”
Stadig stap sy na die voordeur. By die deur stop sy. Sy staan ’n oomblik en draai dan om. Haar oë is soos díé van ’n jongmens. En daar is hoop.
“Hartjie. Hulle almal gaan binnekort móét kom kuier.”
Dan draai sy om en stap by die deur uit.
Lees die eerste weergawe van "Binnekort"
Lees die eerste keurverslag oor "Binnekort"
Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.