
Binnekort: Die eerste keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh
Die sterk punt van jou skryfstyl is fyn waarneming en noukeurige beskrywing: die leser kry ’n duidelike beeld van die uiterlike gebeure. Ook die dialoog word oor die algemeen goed hanteer. Die storie het beslis potensiaal, maar dit moet nog deeglik deurdink word, spesifiek die slot.
Die leser kan nie agterkom waarheen die storie lei nie, en kan gevolglik nie uitmaak wat in die slot gebeur nie. Daar kom ’n wending, maar dis nie duidelik hoe dit gebeur en wat die belangrikheid (significance) daarvan is nie.
Oorweeg die volgende vrae om vas te stel watter inligting in die verhaal ontbreek en watter aspekte verhelder moet word:
- Bladsy 7: Stilte. Ek wil nie meer vrae vra nie. Hoekom nie? Wat gaan deur die haarkapper se kop? Of is dit bloot ’n geval van telling ? Die skrywer vertel vir die leser die voor die hand liggende, wat onnodig is – as die haarkapper net stilbly (uitbeelding of showing), spreek dit vanself dat sy nie meer vrae wil vra nie.
- Bladsy 7: Wat is die betekenis (significance) daarvan dat die tannie uitwei oor Pieter, “die moffie”, sy en haar man se geskiedenis met hom en hoe graag sy weer met hom kontak wil hê?
· Hoekom besluit die haarkapper dat haar diens aan die tannie gratis was?
· Watter besef daag by die tannie as sy deur toe stap? Waarom lyk sy skielik soos ’n jongmens? Waarom is daar hoop in haar oë?
- Hoekom noem sy die haarkapper uit die bloute “Liefie”?
· Wat gee haar die sekerheid dat ál haar kinders binnekort gaan kom kuier?
Voordat ek die verdere verbeterings bespreek wat nodig is, moet die verhaalopset eers uitgeklaar word aan hand van die bostaande vrae. Verdere aanbevelings sal dus in die tweede verslag volg.
Lees die eerste weergawe van Binnekort
Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

