
Maslow: Die eerste keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh
Ek is beïndruk deur die baie oorspronklike tema van hierdie omgekeerde paradysverhaal – welgedaan. Die verhaal is ook ’n ondersoek na taal en ’n besinning oor kommunikasie, maar dit word enigsins oppervlakkig hanteer. Gaan dink verder oor die implikasies van bogenoemde en bou dit uit.
Die keuse van titel is uitstekend – die perfekte voorbeeld van hoe ’n skrywer ’n eenwoordtitel kan gebruik om ’n hele kenniswêreld en tydperk (die twintigste eeuse sielkunde) op te roep. Jy benut egter nie genoeg die betekenismoontlikhede van die titel nie – jy moet dit inderwaarheid nog gaan ontwikkel en by die verhaal inwerk om die verhaaltema werklik tot sy reg te laat kom. Anders is “Maslow” net ’n aangelaste woord sonder direkte aansluiting by die verhaal (daar is wel indirekte aansluiting).
Ek stel voor dat jy van Maslow se leerstellings by die verhaal inwerk sonder om hom by die naam te noem of na die sielkunde te verwys. Jy moet ook aantoon uit watter wêreldbeskouing die verteller kom en watter soort samelewing hierdie sosiale eksperiment bedink het. Die leser moet kan verstaan hoe Ou Testamentiese geloof (dus van meer as 2 000 jaar gelede) geïntegreer is met moderne idees soos dié van Maslow (1908-1970) tot die spesifieke lewensbeskouing van die verteller se samelewing.
’n Verdere element is die baie wrede en primitiewe fondament waarop die eksperiment berus: die verteller moet haar babas afgee en haar tong word uitgesny. Dit moet verantwoord word, want dit druis heeltemal in teen die norme van vandag se samelewing.
Plasing in tyd:
In watter tydvak speel die verhaal af? Futuristies? Ons samelewing is sedert die 1990’s hoofsaaklik ’n tegnologiese samelewing, dus moet jy (onder meer) tegnologie gebruik vir die plasing in tyd (dit kan ook die verval van tegnologie uit ’n tydvak ver die toekoms in wees). Byvoorbeeld die verteller se tong wat uitgesny is: met inagneming van bostaande stelling kan dit dalk met behulp van gevorderde tegnologie op ’n manier gedoen word wat die minimum pyn veroorsaak terwyl die wond vinnig genees. Kyk ook na die skip waarmee hulle eiland toe kom. Dit lyk of dit ’n outydse seilskip is – hoekom? Of is die skip futuristies en tegnologies gevorderd? Gebruik die plasing in tyd saam met die plasing in ruimte (vervolgens bespreek) om vir die leser ’n aanduiding te gee in watter tydvak die verhaal afspeel.
Plasing in ruimte:
Die verhaal roep twee ruimtes op: die eiland en die wêreld waaruit die verteller kom (die kinders kom natuurlik ook daarvandaan, maar hulle het geen bewussyn daarvan nie). Die eilandwêreld word duidelik genoeg uitgebeeld, gee net so ’n bietjie detail oor die plantegroei en klimaat. Is die droogheid en stowwerigheid van die eiland ’n aanduiding van klimaatsverandering, met ander woorde is die tydvak futuristies? (’n Mens assosieer nie ’n eiland met woestyntoestande nie.)
Die ander ruimte, die wêreld waaruit die verteller kom, word heeltemal te vaag voorgestel. ’n Mens wil juis die kontras (en dus ook spanning) tussen die twee wêrelde sien. Daarom moet jy goed dink oor die ruimte waaruit die verteller kom en dit met duidelike hale vir die leser skets. Hoe was dit? Hi-tech? Post-tegnologie? Waarna verlang die verteller terug of het sy terugverlang wat betref die wêreld waaruit sy gekom het? Wees spesifiek, gebruik detail – die leser moet dit sién, en veral glo.
Jou skryfstyl is nie so sterk soos jou verhaalidee nie en het taamlike skaafwerk nodig. In die geheel gesien is die styl ’n bietjie styf en stokkerig, nie gemaklik en spontaan nie. Dis ’n prosaïese styl, gelaai met te veel “hoë” woorde, ontoereikende woordkeuses, steurende Engelse invloed en clichés.
Ons kan in die tweede verslag daarna kyk, maar nou is dit eers nodig dat jy op die inhoud konsentreer en die agtergrond van die verhaal behoorlik uitwerk. Onthou, in ’n kortverhaal is ruimte beperk en tel elke woord, so jy sal ekonomiese maniere moet vind om hierdie agtergrondinligting by te voeg.
Ek wil graag die boek Cloud Atlas aanbeveel, of ten minste die fliek. Dit sal jou ’n idee gee van hoe verskillende tydvakke op mekaar inspeel, tot ver die toekoms in.
Lees die eerste weergawe van Maslow
Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

