Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Tweede weergawe van "Pik"

  • 0

Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


Pik

Swart. Dis die eerste ding wat Pieter sien. Hy hoor ’n dringende stem van ver af aankom, asof deur ’n tonnel. Skielik is die stem nader, dringend. “Pieter!” Hy herken haar stem. “Pieter, word wakker! Asseblief, Here! Pieter, alles gaan fine wees. Here, asseblief kom net by.” Hy beweeg sy arm, eers net sy polse en later begin hy sy oë knip. Fok, dink Pieter, wat de moer hamer teen sy slape? Hy kan nie met die hoofpyn fokus nie, naarheid neem oor. Hy sak weer weg in die warm donker. “Pieter! Kan jy my hoor?”

Hy is weer bewus van die swart. Dank die Vader, hy is bewus. Is hy blind? Hy weet sy ore werk, want hy hoor ’n gesnik. ’n Vrou wat huil. Ken hy haar? Pieter Vermaak, ruk jouself reg. Hy probeer sy oë oopmaak. Net die regteroog werk saam, hy vat-vat met sy arm aan die linkeroogbank. Dik, geswel. Sy sintuie begin bykom. Hy ruik reën, of water, hy is nie seker nie. Daar is ’n bloed smaak in sy mond. Yster. Sy maag voel … vêr. Hy probeer orent kom, iets pen hom vas. Sy regteroog begin fokus. Hy sien haar bruin arm oor sy heup. Haar kopdoek in sy maag gedruk. Sarah. Hy wil praat, maar daar kom droë wind by sy keel uit. Dit krap. Bliksem. Dis donker in die huis. Hoe laat is dit? Hy probeer weer, die keer trek hy haar arm. Sy skrik vir die beweging. Toe sy opkyk, is haar gesig gefrommel maar die amandels in haar oë verlig. “Pieter?” Sarah draai haar kop skuins. Die verlengings (egte mens-hare, het sy gespog) lyk nou soos ou seewier waar daar stukke uit haar kop getrek is. “Dankie Here! Liefie!” Sy omhels hom, haar borste druk teen sy gesig. Normaalweg een van sy gunsteling posisies maar dit voel nou of hy versmoor. Hy trek haar weg. “Wat de donner …” probeer hy met die krap keel. “Water …” besluit hy dan.

Dit voel soos ’n ewigheid voor Sarah terug steier met die glas water. Kon nie langer as twintig sekondes gewees het nie, besef hy. Wel, goddank sy brein werk nog. Hy probeer onthou wat gebeur het. Hy suig die water uit die glas, en beduie vir nog. Na die derde glas is sy kop en gedagtes skoner gespoel. Hy knip-knip sy oë om van die swart spikkels in sy visie ontslae te raak. Sarah se verinneweerde liggaam swem tussen kolle in sy pupille, sy is vol snye, sien hy nou. Droë bloed kleef aan haar nek en ’n donkerrooi vlinder sprei vlerke van marteling oor haar bors. Die bra hang halfdood uit haar een mou. Die aanval. Hy beur orent. Sarah se hande stut hom onder sy blad, fok, die pyn. “Wat de donner?” Kan net ’n moerse blou kol wees. “Dis net ons hier” fluister sy, “ek het klaar om die huis geloop om te gaan kyk.”

Hy kyk om hom in die sitkamer rond. Dis ’n slagveld. Sy ma se Tretchikoff print in flardes. Sy ma ook. Die strykyster lê half vergete op haar rug, die koord om haar nek gevleg. “Waar is my Pa?” vra hy skielik. Sarah skud haar kop. “Die Baas …” Verbeel hy hom of het sy ’n skadu van verligting om haar mondhoeke? Dowwe herinneringe prikkel iewers in sy brein. Prente vorm, die piksteel, die geroeste pyp, die aanval. Beelde flits onsamehangend agter sy ooglede, sy brein wil-wil begin sin maak. ’n Skerp pyn klop agter in sy skedel, hy is naar, dan is dit weer swart.

Sy liggaam druk die laaste van wat in sy maag oor was met rukkings by sy keel uit. Bliksem, die brandpyn skiet deur sy skelet. Sarah vee sy mond met haar voorskoot af. Uitgeput lê hy met sy kop op haar skoot, sy draai sy nek in die rigting van die kaggel. Sy pa se voete steek onder die koffietafel uit. Daar is iets verwronge aan die manier waarop die linkervoet gebuig is. Hy sien derms, of wat hy dink moet ingewande wees op sy ma se geërfde tapyt, maar dis asof hy sy maag en sy emosies leeggemaak het. Daar is niks, net ’n dowwe swart. Die pik se skerp kant het ’n gat in sy pa se kuit geslaan asof iemand hom wou vaspen. Pieter sluit sy oë, hy moet dink.

Daar was twee van hulle onthou hy. Die een met die groen trui het na drank geruik. Goedkoop wyn en iets anders, chemikalieë of oond skoonmaakmiddel. Die ander een het ’n merk oor sy wang gehad, dalk gelem in een of ander geveg in die statte. Hulle oë was geel, hulle are vol gif. Moes bottelnek gerook het, dis waaroor Sarah altyd kla wanner hy skelm tussen die taai lakens van haar buitekamer lê. Die jonge in die statte met hul bottelnekke. Hulle was net skielik in die huis. Na jare se boer saam met sy pa is Pieter se Tswana steeds nie die beste nie maar hulle het gisteraand vir Sarah in haar eie taal gevloek, daarvan is hy seker. Hulle wou haar ’n les leer, “Meid wat dink sy is wit”. Lê mos by die Oubaas se seun, Pieter, die wit man met die swart hart. Dink sy is verhewe bo die res van die volk! Gemors! Dis asof hy alles weer sien. Met Groentrui se eerste swaai het ’n vuishou vir Sarah teen haar slaap getref. Sy het stil inmekaargesak. Hy onthou hoe hy agter die deur in ’n verskuilde hoek bly staan het, sonder bravade, sonder om te help, geskok. Bliksem, hy was bang.

Die laaste note van die nuusbulletin se inleiding het hulle na die sitkamer gelok. Hy het gevolg, op sy sokkies, geluidloos. Hy kon sien pa was in ’n bui. Die Oubaas is altyd bedonderd tydens die nuus. Mielieprys is af, die plaaswerkers staak, die petrolprys is op. Die beelde kom nou duideliker by Pieter op. Die nuwe landsvlag wat skynheilig en verlep langs sy pa se grens foto’s hang en die kommando-lid trofee op die TV-kas, ’n glasraam met Patricia Lewis se gesig en handtekening … Die een met die gesnyde wang se geel oë skielik in die weerkaatsing. Hy’t geskrik, afgebuk. Het hy hom gesien? Die pyp skielik in die lug.

Sarah vryf sy voorkop met iets klams waar hy kruisbeen voor haar sit. “Kan jy opstaan?” Hy is te moeg om te antwoord. Sy is nou ’n verpleegster met ’n missie. Pieter se hande brand van die asynwater waarin sy haar kopdoek doop voor sy hom skoonvee. Sy krap splinters uit sy duim en vryf salf oor die skaaf merke aan sy polse. Hulle het ’n nylon tou gehad, seker in die stoor gekry, saam met die pik en die pyp. Dit sou nie maklik gewees het nie. Sy pa sluit alles, meen die volk ken nie van koop nie, net van steel. Pieter knyp sy oë toe teen die brand en die spikkels wat sy visie oorneem.

Die pyp se eerste swaai was mis, net ’n stofwolk bo die bank. Die Oubaas het verbasend vinnig opgespring, “Wat de moer dink julle k…” Die eerste trefhou het die woord onder sy pa se snor gestil. Harder as wat mens dink die klank sou wees, bene wat kraak, katswink. Pieter het weggekyk, die walg in sy keel terug gesluk. Sy ma was in die kombuis, besig om uit te skep vir môre se middagete. Tant Lena se stem wat kla oor die luidspreker van die foon, haar bediende is al weer swanger, “leer hulle dan nie”? Die TV se volume was skielik te hard in sy ore maar hy het geweet dis sodat sy ma geen onraad sal merk nie. Hy wou vooruit hardloop en om haar te gaan waarsku. “Ma, hardloop, kry die polisie, bel die bure, ons word fokken aangeval!” Maar Suster Lena se stem was die laaste klank om sy ma se ore bereik voor hulle haar om die keel gegryp het. Alles het stadiger begin gebeur, asof iemand die prentjies elke tweede sekonde wou vries. Die roes op die pyp het sy ma oor haar tande getref, stop, haar mondhoeke geskeur, stop, Groentrui, stop, arms wat spartel, stop. Die gille het geklink of dit onderwater gebeur soos die bloed gevloei het. Pieter het die eienaardigste gevoel gekry dat hy wil lag. Hulle was nou ’n statistiek in die koerant. “Plaasmoord - Boervrou in kombuis aangeval”, het hy gedink. Hy het homself gehaat vir sy lafhartigheid. Watter tipe seun kruip weg terwyl hy sien hoe sy ma gemartel word? Pieter het sy arm bewerig uitgesteek na waar die pik teen die muur gestaan het, maar die vrees het hom gevange gehou. Hy het toe al spikkels gesien, hulle het van die kant af inbeweeg. Swart, stop.

 

Sarah maak hom op ’n stoel sit, langs die telefoon. Die boonste rooi knoppie direk gekoppel met die kommando. Die ander knoppies nou ook bloedrooi gespat. “Pieter, jy moet iemand bel” por sy hom saggies aan. Hy tel die gehoorbuis op, druk die kommando knop. Een lui, antwoord. “Hallo, dis Pieter Vermaak. Ons is aangeval op Tweefontein. Bring vir Kobus Viljoen en die manne. My pa is dood. My ma ook. Ek dink die bliksems het weggekom.” Hy laat val die gehoorstuk. Sarah het intussen haar gesig met ’n vadoek begin afvee. Haar dye met die verskeurde rokspant probeer vee. “Los dit net,” sug hy. “Hulle soek altyd DNA vir die forensies. Die polisie het bewyse nodig. Ek gaan voor wag, bly jy net in die kombuis.” Sy sak snikkend op die koue teëls van die kombuisvloer neer, ’n bloed streep volg haar teen sy ma se Biggie Best-muurpapier af. Hy stop in die deur. “Ek is lief vir jou Sarah, onthou dit.” Buite knip hy sy oë stadig teen die eerste sonlig van die dag, hy soek nog na die waarheid in die swart.

Sarah het gisteraand op die kombuistafel so gehuil, vir wat gevoel het soos ure. Hy het later sy ore toegedruk, toe haar keel rou was, het daar nog roggelklanke uitgekom. Soos ’n gans wie se vlerke gebreek is. Groentrui het haar arms agter haar rug omgebuig en oor haar kop probeer trek, om haar “beter by te kom”, het hy gesê. Sy ma se beurt was verby. Dit was voorgereg. Hulle het ander planne vir die Oubaas gehad. Sy pa se voete was aan die koffietafel vasgebind, sy hande agter sy rug. Hulle het hom eers om die beurt met die pyp geslaan, om te kyk hoe hy ly. Maar die Oubaas was sterk, hy’t gebid en nooit geskree nie. Dit het vir hulle mal gehad. Asof hulle die lyding deur hul ore wou inneem. Toe die pik uitkom, het die Oubaas geskrik, hy kon dit aan die sweet sien wat oor sy pa se voorkop en hande uitgeslaan het. Met die eerste kraak van die beentjies in sy hande en die oopbars van sy vel het sy pa geskree. Hy het weer afgebuk, die skande saam met die trane uit sy oë gevee. Daarna het die Oubaas op sy tande gebyt. Hy sou nie vir hulle die satisfaksie gee nie. Die bloed het later by sy pa mond begin borrels vorm soos hy sy tong half afgebyt het. Pieter het gewonder of hy die krete sou kon hoor as die borrels sou bars. Helfte van die sitkamer was bevlek, spatsels, soos ’n siek moderne kunswerk teen die muur. Die rooi poel op die teëls het met elke hou nader gevloei aan sy wit sokkies. Slae het neergereën op die Oubaas se rug, hande, arms, bene en die pik het finaal in sy kuit gerus. Dis toe Pieter sy eie stem hoor, hard en luid soos ’n sirene, die gil. Geel oë op hom. Voete in bevlekte skoene kom nader, sy arms het lam gevoel en toe skielik, swart.

 

Die flitse van die polisie se ligte bons teen die kombuisteëls oor sy ma se lyk, soos ’n wrede disco. Swart, blou, swart, rooi, swart, blou … “Gimme, gimme gimme a murder at midnight”. Pieter staar na Sarah se bruin bene op die ambulansman se trollie. “Al het sy die wonde oor haar bors en seksuele aanranding deurgemaak,” meen die dokter, “sal sy oorleef. Die swart nasie is mos maar sterker as ons. Pieter, jy moet medi-kliniek toe.” Pieter voel of hy op die dokter wil kots. Wat weet hy van “swart vroue”? Vark. Hy self wil niks weet van hospitaal toe nie. Steke kan hulle sommer hier insit en kneusplekke moet maar met tyd genees. Hy krap nog ’n splinter uit sy vinger. Hy moet hier bly, hy moet seker maak alles is onder beheer. Hy wil by Sarah wees, sy sterk Sarah, hy wil vanaand veilig in die buitekamer slaap. Hy sal nooit weer in die huis slaap nie.

Konstabel Viljoen kom vra weer oor die gebeure. “Donner, dis ’n gemors. Dis beter dat ons praat terwyl alles nog vars in jou geheue is, Pieter, ek weet dis moeilik swaer.” Fok, hy sukkel nog met die hoofpyn. Hy dink weer terug, heeltyd eers swart en dan kom die prente. Hy vertel van die nuus-liedjie, van die tafel, die pyp en die roes, sy ma se arms, sy pa se hardkoppigheid, Sarah se gebreekte vlerke, die pik. “Waar was jy tydens die aanval, Pieter?” Die Bic pen raak stil op die notaboek. “Daar,” wys hy met sy geskraapte hande, “agter die deur.” Die pen rits weer oor die papier. “Ons het toue in die sitkamer gekry, jy was vir ’n wyle vasgemaak maar jy’t wonderbaarlik oorleef. Het die verdagtes met jou gepraat? Was hulle van die statte? Werk hulle hier op die plaas vir jou pa?” Hy skud sy kop, hy weet nie nou nie. “Dwelms, dink ek, geld gesoek.” Sarah se verklaring is kort, Konstabel Viljoen luister met ’n halwe oor. Twee van hulle, verkrag, Oubaas met die pik, Ouma met die yster. Sy het vir Kleinbaas Pieter aan die einde agter die deur gevind, geslaan en vir die dood gelos.

Die polisie span geel band om die huis, dis al weer skemer toe die laaste bakkie se stofwolk langs die sementdam sak. Pieter draai van waar hy in die buitekamer se deur gestaan het. Sarah se sliert hare wat oorgebly het, is gewas en bo haar kop vasgemaak. Die kamer ruik na kamfer, baba olie en kakao, sy gunsteling reuke. Stoom borrel oor die kom waarin sy gebad het en nou die pik se steel afwas. “Het jy hom toe betaal?” vra hy. Hy sug en sak op die bed neer. “Ja,” sy skuif die pik weer agter die hangkas in, “hy’t meeste van die geld in die kluis gevat. Daai sleg kind sal ook enige iets doen vir geld. Is ons veilig?” Haar amandel-oë vol vrae. Pieter druk ’n sak ertjies teen sy kop, die hoofpyn sukkel nog en hy slaan al koue sweet uit. “Ja, niemand vermoed nie.” Hy stap nader en druk haar teen hom vas. “Ek is jammer oor wat gebeur het,” hy voel weer naar, “met jou, dit was nie deel van die … bliksem.” Sy druk haar wysvinger teen sy mond.

Toe sy die warm waslap saggies oor sy voorkop vee, is sy oë reeds toe en die bottelnek se lafenis soos stroop deur hul are, doepa teen die pyn. Pieter Vermaak het alles onder beheer. Hy weet wanneer om te stop, nie soos ander sleg junkies nie. Môre moet hy die pik begrawe, hy sal die prokureur gaan sien, die boedel, die verkoop van die plaas. Hy begin aan die slaap raak, Sarah neurie vir hom ’n Tswana-wiegelied. Haar vingers gly oor die sny in sy wang waar hy dieper wegsak in die swart.

 


Lees die tweede keurverslag oor "Pik"

Lees die eerste weergawe van "Pik"

Lees die eerste keurverslag oor "Pik"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top