Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Pik"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


 

Pik

Swart. Dis die eerste ding wat hy sien. Hy hoor ’n dringende stem van ver af aankom, asof deur ’n tonnel. As hy net kan sien. Skielik is die stem nader, meer dringend. “Pieter!” Hy herken die stem. “Pieter, word wakker! Asseblief, Here! Pieter, alles gaan fine wees. Here, asseblief kom net by.” Hy beweeg sy arm, eers net die polse en later begin hy sy oë knip. Fok, dink Pieter, hoe de moer kan een mens se kop so klop, ’n hamer teen sy slape. Hy kan nie nou fokus nie, naarheid neem oor. Hy sak weer weg in die donker. “Pieter! Asseblief!”

Hy is weer bewus van die swart. Dank die Vader, hy is bewus. Hy weet sy oë is toe. Hy weet sy ore werk, want hy hoor ’n gesnik in sy oordrom weergalm. Iemand huil, soos ’n kind se laaste snikke na ’n moerse pak slae. Hy probeer sy oë oopmaak. Net die regteroog werk saam, hy vat-vat met sy arm aan die linkeroogbank. Dik, geswel. Sy sintuie begin een vir een bykom. Hy ruik eers die reën, of water, hy is nie seker nie. Daar is ’n bloedsmaak in sy mond. Yster. Sleg. Sy maag voel … vêr. Hy probeer orent kom, iets druk hom vas. Hy probeer sy regteroog fokus. Dan sien hy haar bruin arm oor sy heup. Haar kopdoek in sy maag gedruk. Sarah. Hy besef skielik dat hy baie dors is. Hy probeer praat, maar daar kom net droë wind by sy keel uit. Dit krap. Bliksem. Dis nog donker in die huis. Hoe laat is dit? Hy probeer weer, die keer trek hy sy arm saam sodat sy moet besef dat hy wakker is en tog net moet ophou sanik. Hy sien hoe sy skrik vir die beweging. Toe sy opkyk, is haar gesig gefrommel van die gehuil maar die vreemde groen amandels in haar oë is steeds verruklik. “Pieter?” Sy draai haar kop skuins. Die verlengings (egte menshare, het sy gespog) lyk nou soos ou seewier waar daar stukke uit haar kop getrek is. “Dankie Here! Pieter!” Sy omhels hom, haar borste druk teen sy gesig. Normaalweg een van sy gunstelingposisies, maar dit voel nou of hy versmoor. Hy trek haar liggies weg. “Wat de donner …” probeer hy met die krapkeel. “Water …” besluit hy dan.

Dit voel soos ’n ewigheid voor Sarah terugsteier met die glas water. Kon nie langer as twintig sekondes gewees het nie, besef Pieter. Wel, goddank sy brein werk nog. Hy probeer onthou wat gebeur het. Hy suig die water uit die glas, en beduie vir nog. Na die derde glas is sy kop en gedagtes effens skoner gespoel. Hy knip-knip vergeefs sy oë om van die swart spikkels in sy visie ontslae te probeer raak. Sarah se verrinneweerde liggaam swem tussen swart kolle in sy pupille, sy is vol snye, sien hy nou. Droë bloed kleef soos slym aan haar nek en ’n enorme donkerrooi vlinder sprei wrede vlerke van marteling oor haar bors. Die bra hang halfdood uit haar een mou. Die aanval. Hy beur orent. Sarah se hande stut hom onder sy blad, fok, die dowwe pyn. Kan net ’n moerse blou kol wees. “Dis net ons hier,” fluister sy, moeg, “ek het gekyk.” Hy kyk om hom in die sitkamer rond. Sy ma se ou Tretchikoff print in flardes geskeur. Sy ma ook. Die strykyster lê half vergete op haar rug, die koord om haar nek gevleg. “Pa?” vra hy skielik. Sarah skud haar kop. “Die Baas …” Verbeel hy hom of het sy ’n skadu van verligting om haar mondhoeke? Die piksteel, die geroeste pyp, die aanval.

Beelde flits onsamehangend agter sy ooglede, sy brein wil-wil begin sin maak. Dan volg ’n dowwe pyn agter in sy skedel, hy voel naar, skielik is dit weer swart. Sy liggaam druk die laaste van wat ook al in sy maag oor was met kragtige rukkings by sy keel uit. Bliksem, die pyn skiet deur sy hele skelet. Sarah vee sy mond met haar voorskoot af. Uitgeput lê hy met sy kop op haar skoot, sy draai sy nek in die rigting van die kaggel. Die Oubaas se voete steek onder die koffietafel uit. Daar is iets verwronge aan die manier waarop sy pa se linkervoet gebuig is. Sarah trek hom op, die skade moet ingeneem word. Hy sien derms, of wat hy dink moet ingewande wees op sy ma se geërfde tapyt, maar dis asof hy sy maag en sy emosies uitgegooi het. Daar is niks, net ’n leemte, leeg, swart. Die pik se skerp kant het ’n gat in sy pa se kuit geslaan asof iemand hom daar wou vaspen. Pieter sluit sy oë, hy moet dink.

Daar was twee van hulle. Die een met die groen trui het na drank geruik. Goedkoop wyn en iets anders, chemikalieë of oondskoonmaakmiddel. Die ouer een het ’n merk oor sy wang gehad, seker gelem in een van die gevegte in die statte. Hulle oë was geel, hulle are vol gif. Moes bottelnek gerook het, dis waaroor Sarah altyd kla wanner hulle saans tussen die taai lakens van haar buitekamer lê. Die jonge in die statte met hul bottelnekke. Na jare se boer saam met sy pa is sy Tswana steeds nie die beste nie, maar hulle het vir Sarah in haar eie taal gevloek, daarvan is hy seker. Hulle sou haar ’n les leer, sy wat dink sy is wit. Lê mos by die Oubaas se seun, Kleinbaas Pieter, die wit man met die swart hart. Dink sy is verhewe bo die res van die volk! Gemors! Die piksteel het vir Sarah regoor haar bors getref, sewe slae, op die maat van die ou staanklok in die gang. Hy het agter die deur in ’n verskuilde hoek bly staan, lam, sonder bravade, sonder om te help, geskok. Bliksem, hy’t gekots.

Die laaste note van die nuusbulletin se inleiding het hulle na die sitkamer gelok. Hy het gevolg, op sy sokkies, geluidloos. Sy pa was in ’n bui. Die Oubaas is altyd bedonderd tydens die nuus. Mielieprys is af, die plaaswerkers staak, die petrolprys is op. Die beelde kom nou duideliker by hom op. Die nuwe landsvlag wat verlep hang langs sy pa se grensfoto’s, nog aan ’n plastiekvlagpaaltjie wat hy by ’n straatsmous gekoop het tydens die Sokkerwêreldbeker. Pieter voel weer ’n onderdrukte woede in hom prut soos elke keer wat hy daardie skynheiligheid raaksien. In ’n raam op die TV-kas, Patricia Lewis se gesig en handtekening … Die een met die gesnyde wang se geel oë skielik in die weerkaatsing. Hy’t geskrik, afgebuk, weggekruip. Het hy hom gesien?

Sarah vryf sy voorkop met iets klams waar hy kruisbeen voor haar sit. “Kan jy opstaan?” Hy is te moeg om te antwoord. Haar hande sag en sterk, soos ’n verpleegster met ’n missie. Sy eie hande brand van die asynwater waarin sy haar kopdoek doop voor sy hom skoonvee. Sy krap splinters uit sy duim en vryf pienk salf oor die skaafmerke aan sy polse. Hulle het ’n nylontou gehad, seker in die stoor gekry, saam met die pik en die pyp. Hy knyp sy oë toe teen die brand en die spikkels wat oorneem.

Die pyp se eerste swaai was mis, net ’n stofwolk bo die bank. Die Oubaas het opgespring, “Wat de moer dink julle f…” Die eerste trefhou het die vloekwoord onder sy pa se snor gestil. Harder as wat mens dink die klank sou wees, bene wat kraak, baie bloed, hy’t weggekyk, die walg in sy keel teruggesluk. Sy ma was in die kombuis, besig om kerrie-en-rys uit te skep vir môre se middagete. Tant Lena se stem oor die luidspreker van die foon, reëlings vir die boeremark in Sannieshof. Die TV se volume was te hard gestel vir haar om onraad te merk. Suster Lena se stem was skaars doodgedruk toe hulle sy ma om die keel gryp. Die roes op die pyp het haar oor die tande getref, mondhoeke geskeur. Haar gille het geklink of dit onderwater gebeur soos die bloed gevloei het. “Plaasmoord – Boervrou wreed in kombuis aangeval,” het hy nog gedink. Hy het homself gehaat vir sy lafhartigheid. Watter tipe seun kruip weg terwyl hy sien hoe sy ma gemartel word? Hy het sy arm bewerig uitgesteek na die pik teen die muur, maar die vrees het hom gevange gehou. Hy het toe al spikkels gesien, hulle het van die kant af inbeweeg oor sy oë. Swart.

Sarah maak hom op ’n stoel sit, langs die telefoon met die groot knoppies. Die boonste rooi knoppie direk gekoppel met die kommando. Die ander knoppies nou ook bloedrooi gespat. “Bel,” por sy hom saggies aan. Hy tel die gehoorbuis op, druk die kommando-knop. Een lui, antwoord. “Ons is aangeval op Tweefontein. Bring vir Kobus Viljoen en die manne. My pa is dood. Ma ook.” Hy laat val die gehoorstuk. Sarah het intussen haar gesig met ’n vadoek begin afvee. Haar dye met die verskeurde rokspant probeer vee. “Los,” sug hy. “DNA, forensies, bewyse. Die polisie het dit nodig.” Sy sak op die koue teëls van die kombuisvloer neer, ’n bloedstreep volg haar teen sy ma se Biggie Best-muurpapier af. Sarah huil en hy wag. Hy knip sy oë stadig teen die eerste sonlig, hy soek die waarheid in die swart.

Sarah het gisteraand ook gehuil, vir wat gevoel het soos ure. Hy het later sy ore begin toedruk, maar toe haar keel rou was, het daar net sulke leë roggelklanke uitgekom. Soos ’n gans. ’n Gans wie se vlerke gebreek is. Groentrui het haar arms agter haar rug omgebuig en oor haar kop probeer trek, om haar “beter by te kom”, het hy gesê. Sy ma en die strykyster se beurt was verby. Hulle het Sarah se rok in die voorkamer afgeruk en haar na die kombuis gesleep, albei slagoffers op een tafel verkrag. Dit was die voorgereg. Hulle het ander planne vir die Oubaas gehad. Die Oubaas se voete was aan die koffietafel vasgebind, sy hande agter sy rug. Hulle het hom eers om die beurt met die pyp geslaan, om te kyk hoe hy ly. Maar die ouman is sterk, hy’t gebid en nooit geskree nie. Dit het vir Groentrui mal gehad. Hy wou die pyn hoor, hy wou die lyding deur sy ore inneem. Toe die pik uitkom, het die Oubaas geskrik, jy kon dit aan die sweet sien wat oor sy voorkop en sy hande uitgeslaan het. Sy hande is uitgehou en Groentrui het hulle in die mat probeer inslaan. Met die eerste kraak van die beentjies in sy hande en die oopbars van sy vel het sy pa geskree. Daarna het die Oubaas op sy tande gebyt. Hy sou nie vir hulle die satisfaksie gee nie. Die bloed het later by sy pa mond begin borrels vorm soos hy sy tong half afgebyt het. Hy’t gewonder of mens die krete sou hoor as die borrels sou bars. Helfte van die sitkamer was bevlek, spatsels, soos ’n siek dog moderne kunswerk teen die muurpapier. Die poel op die teëls het met elke slag nader gevloei aan Pieter se sokkies. Houe het neergereën op die Oubaas se rug, hande, arms, bene en die pik het finaal in sy skedel gerus. Dis toe Pieter sy eie stem hoor, hard en luid soos ’n sirene, die gil. Groentrui se geel oë op hom. Voete in bevlekte skoene kom nader, sy arms het lam gevoel en toe skielik, swart.

Die flitse van die polisie se ligte bons teen die kombuisteëls oor sy ma se lyk, soos ’n wrede disco. Swart, blou, swart, rooi, swart, blou … “Gimme, gimme, gimme a murder at midnight.” Pieter staar na Sarah se bruin bene op die ambulansman se trollie. “Al het sy die wonde oor haar bors en seksuele aanranding deurgemaak,” meen die dokter, “sal sy oorleef. Die swart nasie is mos maar sterker.” Pieter voel of hy op die dokter wil kots. Wat weet hy van “swart vroue”? Sekerlik net hoe hulle sy kos kook. Vark. Hy self wil niks weet van hospitaal toe nie. Steke kan hulle sommer hier insit en kneusplekke moet maar met tyd genees. Hy krap nog ’n splinter uit sy vinger. Hulle moet hier bly, hy moet seker maak alles is onder beheer. Hy wil by Sarah wees, sy sterk Sarah, hy wil vanaand in die buitekamer slaap. Hy sal nooit weer in die huis slaap nie.

Konstabel Viljoen kom vra weer oor die gebeure. “Dis beter dat ons praat terwyl alles nog vars in die geheue is, Pieter, ek weet dis moeilik.” Fok, hy sukkel met die hoofpyn. Hy dink weer terug, eers swart en dan kom die prente. Hy vertel van die nuusliedjie, van die tafel, die pyp en die roes, sy ma se gille, sy pa se hardkoppigheid, Sarah se gebreekte vlerke, die pik. “Waar was jy, Pieter?” Die Bic-pen raak stil op die notaboek. “Daar,” wys hy met sy geskraapte hande, “agter die deur.” Die pen rits weer oor die papier. “Ons het toue in die sitkamer gekry, jy was vir ’n wyle vasgemaak maar jy’t wonderbaarlik oorleef. Het hulle met jou gepraat? Was hulle van die statte? Werk hulle hier op die plaas vir jou pa?” Hy skud sy kop, hy weet nie nou nie. “Dwelms, dink ek, geld gesoek.” Sarah se verklaring is kort, die konstabel luister met ’n halwe oor. Twee van hulle, verkrag, Oubaas met die pik, Ouma met die yster. Sy het vir Kleinbaas Pieter aan die einde agter die deur gevind, geslaan en vir die dood gelos.

Die polisie span geel band om die huis, dis al skemer toe die laaste bakkie se stofwolk langs die sementdam sak. Hy draai van waar hy in die buitekamer se deur gestaan het. Sarah se sliert hare wat oorgebly het, is gewas en bo haar kop vasgemaak. Die kamer ruik na kamfer, babaolie en kakao, sy gunstelingreuke. Die stoom borrel oor die kom waarin sy gebad het en nou die pik se steel afwas. “Het jy vir hom betaal?” Hy sug en sak op die bed neer. “Ja,” sy skuif die pik weer agter die hangkas in, “hy’t die geld in die kluis gevat. Daai sleg kind sal enige iets doen vir geld. Is ons veilig?” Haar amandel-oë vol vrae. Pieter druk ’n sak ertjies teen sy kop, die hoofpyn sukkel nog. “Ja, niemand vermoed nie.” Hy stap nader en druk haar teen hom vas. “Ek is jammer oor wat gebeur het,” hy voel weer naar, “met jou, dit was nie deel van die … bliksem.” Sy druk haar wysvinger teen sy mond.

Toe sy die warm waslap saggies oor sy voorkop vee, is sy oë reeds toe en die bottelnek se lafenis soos stroop deur hul are, doepa teen die pyn. Hy het alles onder beheer. Hy weet wanneer om te stop, nie soos daardie ander sleg junkies nie. Môre moet hy die pik begrawe, hy sal die prokureur gaan sien, die boedel, die verkoop van die plaas. Hy begin aan die slaap raak, Sarah neurie vir hom ’n Tswana-wiegelied. Haar vingers gly oor die sny in sy wang waar hy dieper wegsak in die swart.

 


 

Lees Leti Kleyn se keurverslag

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top