Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Tweede weergawe van "’n Broekskeur bruilof"

  • 2

Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


’n Broekskeur bruilof
(Vorige titel: "Broekskeur onder ’n kameeldoringboom")

Malinda haal die troumusiekbundel geïrriteerd uit die houtkis langs haar klavier en sit dit in haar handsak. Die netjiese kerk een wat op die bal-en-klou-ingangsportaaltafel staan. Sy sit vir die derde maal ’n smeersel lipstif aan. Koraal om haar dun Gretha Garbo-lippe te beklemtoon. Sy weet reeds dat hy gaan laat wees. Hy is altyd laat as daar enige vorm van rugby gespeel word. Veral WP-rugby.

Om tien voor vier stop sy Mercedes voor hul baksteenhuis. Hy parkeer die motor netjies voor die withouthekkie. Gewoonlik ry hy gedurende die week slegs met die grysgroen Isabella Borgward, maar vanmiddag het hulle blykbaar spoed nodig. Sy klim woordloos in die poskantoorrooi motor en hy swaai die stuurwiel behendig in Sishen se rigting. Die tyd op die troukaartjie was duidelik aangedui as vieruur en daar is nog twintig oorbekende kilometers wat op hulle gewag. Dit is Somer in die Noord-Kaap. Hoogsomer.  Die lug is bedompig en droog. Dit laat Malinda sukkel om diep asem te haal. Sy wens gewoonlik teen laatmiddag se kant vir die Boland se koeltebome.

Hulle ry besonder vinnig.  Elke nou en dan vryf hy ingedagte met sy blink gestrykde sakdoek die sweet van sy slape af. Sorgvuldig, elke druppel. Dit verskyn weer net so vinnig soos wat hy dit afvee. Die hitte is onbedagsaam wreed. Hulle luister die tweede helfte van die rugbywedstryd op die radio. Hy ruik na whiskey. Sy weet al lankal hy drink skelm.  Sy sou ook as sy elke dag na almal se plattelandse kwale moes luister en  dan nog moet maak of sy daaroor omgee. Sy sien hoe hy  stukkies droëwors gulsig afbyt en insluk. Sonder om ordentlik te kou. Dit laat haar gril. Sy groot rugbyore luister aandagtig na Spiekeris se kommentaar. Rugby is die een ding wat haar vervelige man nog opgewonde maak.

Sy kyk uit oor die yl begroeide, pynlike droë wêreld. Die  wag-’n-bietjie- en  kanferbossies loer lui vir haar terug. Hoe de donner het ek op hierdie godverlate plek beland, wonder sy terwyl sy probeer tel hoeveel kameeldoringbome verbyflits. Malinda is Kathu se enigste orrelis. Ook Sishen s’n. Proponent Braam Smith was haar heel eerste liefde op Stellenbosch. Sy was in haar tweede jaar van musiek swot. Met sy groot woorde, blink planne en beloftes van hoe hulle die wêreld gaan plat reis het hy haar oorrompel. Dalk ook omdat sy effens bang was dat sy nie ’n ander man sou kry nie. Haar ma het gesê dat meisies met sulke dun beentjies wat boonop nie eers weet dat vla ’n poeier is nie, maar  tevrede moet wees met wie ook al  na haar kant toe kyk. Nou verwens sy hom (en haar ma) met elke donnerse  melktert, koeksuster of vlakoek wat sy bak. Hulle het Kathu toe getrek sodat hy bevestig kon word as predikant. Die plan was om so paar jaar daar te woon voor hulle die wêreld sou begin oorwin. Toe kom daar kinders, en basaars, begrafnisse, droogtes, kerkkalenders en pannekoeke en toe gaan die kinders en hulle twee is nog steeds daar.   Die naaste wat sy aan musiek kom is om Saterdae die bekende gedeelte uit Mendelssohn se Midsomersnagdroom te speel. Of psalms en gesange op Sondae. Soms droom sy nog van lang fluweelrokke, wêreldverhoë  skemerkelkies en hoe sy en Braam saam droom van reise na vreemde lande.

Dominee Braam Smith was van kleins af  in ’n tweestryd gewikkel as dit by rugby en sy beroep kom. Op universiteit moes hy kies tussen professioneel skrumskakel speel en die bediening. As gevolg van ’n lastige herhalende dyspierbesering het hy homself vir ewig tot die amp verbind.  Hy is nie besonders gelukkig of ongelukkig nie. Kathu is wat hy ken. Hy sien nie kans om iewers van vooraf te gaan begin nie.

Net soos hulle oor die brug ry waarmee mens Sishen binnegaan hoor sy dit. Byna geluidloos, maar die klanke vorm sonder twyfel die woord wat sy vermoed. “Fok.”

“Ekskuus Braam?” (Sy vermoed sy het dalk verkeerd gehoor. Haar man kyk dalk soms te diep in die bottel, maar hy vloek nooit hardop nie.)

“Ek het die boek vergeet.”

“Die boek?” vra sy ongelowig.

“Die kerk behoort tog seker ’n Bybel te hê?”

“Nee man, die trouboek, die register waarin hulle moet teken. Ons sal moet omdraai.”

Hulle draai om. Ry weer dieselfde pad waarmee hulle gekom het. Die keer genadiglik sonder die stuk droëwors.Op die radio speel WP en Noord-Transvaal verbete voort.

Braam hardloop by die huis in, gryp die trou  trouregister in sy studeerkamer en val weer haastig in die pad.

Presies om halfvyf stop hulle by die agterste ingang van die kerk. Kortpad deur die konsistorie na die preekstoel. Malinda stap die kerk binne sonder om rondom haar te kyk. Sy gaan sit by die orrel en begin dadelik speel. Dis eers toe hulle albei gelyk na die ingang kyk dat  hulle  besef dat daar g’n mens in die kerk is nie.

Braam Smith beweeg benoud buitentoe. Die trougaste staan in groepies en gesels. ’n Angstige gedruis hoorbaar in die taai lug.  Dalk het die bruid haar so vervies vir sy laatkommery en besluit om die troue te kanselleer. Sy kon beslis nie ’n ander dominee vind nie, want die naaste ander dominee is meer as 300 kilometer weg.

Hy stap bekommerd in die rigting van die versierde bruidskar wat onder die kameeldoringbome staan.  Hy is selfs gereed om ’n witleun te vertel as dit die bruid sal kalmeer.

Die beweging rondom die bruidskar is ’n chaotiese deurmekaarspul van appelkoos en ligpienk. In die linkerkanste hoek sien hy ook ’n spul duiwe wat vasgekeer  in ’n hok sit.  Hy wil liewers nie weet waarvoor  nie.  Mens sien die wit oorvloed van organza, satyn, taffeta en nagemaakte kristalle voor jy die bruid se gesig sien. Sy sit wydsbeen op ’n bottelgroen plastiekstoel. Die aanhoudende lae is in ’n bondel op haar skoot vasgedruk. Iemand met ’n appelkooskleurige rok is besig om die bruid met ’n nat lappie te lawe. Iemand anders in ligpienk waai die troublaadjie soos ’n franse waaier oor en oor vir koelte oor haar gesig. Die sweet loop in swart strepe maskara onder haar oë af.  Traanmerke duidelik sigbaar op die dik aangeplakte onderlaag op haar wange. Die klein blommemeisies se skoene is uitgeskop en hulle speel uitgelate in die  klipperige sand. Dit voel vir hom of hy eerder in ’n verhoogproduksie stap.Hy is vir ’n oomblik lus om alles net so te los, maar gaan staan tog  voor die bruid.

“Uhm ... jammer dames ... Goeiemiddag ...”

Een van die appelkose beduie dat hy moet stilbly. Wink met haar oë dat hy opsy moet staan. Die blou oogskadu is so donker dat hy vir ’n oomblik wonder of sy nie dalk vir hom knipoog nie, maar hy stap tog ’n entjie verder en wag vir haar om nader te kom.

Sy lyk soos ’n malvalekker, die strooimeisie met die blou oogskadu. Haar gesig is tamatierooi. Mens kan sien sy moes daai waaier al ’n paar keer vanmiddag waai. Sy praat eerste. “Hy is weg dominee. Skoonveld, soos daardie wit sokkie wie se maat mens altyd soek.”

“Ek is hier, suster. Dit is een groot misverstand. Ons was net laat, want ...”

“Nee dominee, die bruidegom. Hy is weg. Die bliksem. Ek het geweet sy voorkop is hopeloos te groot en sy oë te naby aan mekaar.” Sy maak ’n vreeslike spoegklikgeluid met haar tong en plaas haar hande op haar heupe. 

“ Die bruid se ma en pa is solank met die Ford Cortina in die kooperasie se rigting om hom te gaan gaan soek.  Ek dink hulle is bang sy kry nie nog ’n man nie.  Dis mos hul laaste dogter van vier wat tot trou moet kom. Hulle wil nou aftrek see toe en is nie lus om met ’n oujongnooi opgeskeep te sit. Dominee sal seker maar solank in die rigting van die kroeg moet stap om te kyk of hy nie dalk sit en suip nie?”

Hy trap vir ’n oomblik rond in die sand en sug “Dan sal ek seker maar moet gaan kyk.”

Hy begin in Kerkstraat afstap. Dit loop parallel met al die ander strate in Sishen. Die dorp is grafstil behalwe vir die klanke van die orrel. “God is hier teenwoordig” se wysie word nou al vir die derde maal herhaal. Hy weet sy doen dit aspris, maar hy hoop tog haar voorgegevoel is reg. Waar gaan hy die man kry? Daar is byna niemand in die strate nie.  Die helfte van die dorp staan en wag buite die kerk vir ’n troue om te begin, die ander helfte lê waarskynlik iewers uitgepass na die WP se slegte verloor. Bleddie Naas Botha met daai oorywerige skopvoet van hom.  Hy wonder of hy nie ook sou weggeloop het as sy bruid op so ’n belangrike wedstryd sou wou trou nie? Vir wat het troues in elk geval deesdae so sirkus geword. Dis duidelik nie meer die rustige, vreugdevolle geleentheid soos toe hy en Malinda jare terug in Villiersdorp se kerksaal afgehaak het nie. Na die die tyd het almal  tevrede saam gekuier rondom koek en tee. Vandag is dit  koepels en kant, satyn en spookasem, duiwe en ’n gedansery.  Hy sal  die jongman moet vind. Anders sit hy tot ounag nog tussen die appelkose en malvalekkers en troos.

Malinda het intussen ophou speel en buite op die kerk se stoeptrappies gaan sit. Langs die strooijonker. Bene lank en reguit voor haar uitgestrek. Hy het vir haar ’n sigaret aangebied wat sy eers van die hand gewys het en toe aanvaar het. Hulle twee sit behaaglik en teug aan die Peter Stuyvesants. Die strooijonker was nie lus om te gaan saam soek nie. Hy het nog altyd ’n ogie op die bruid gehad en sal nie vreeslik spyt wees as die bruidegom nie vandag opdaag nie.

Braam stap oplaas in die rigting van Sishen se enigste kroeg. Verbaas oor hoe vinnig hy deur die hele dorp is. Hy  maak die sifdeur oop. Daar lui ’n  klokkie bo so kop. Een of twee van die die sittendes by die toonbank kyk verveeld op. Sy oë beweeg oor die vertrek. Eenvoudige hout toonbank met ongeveer tien kroeg stoeltjies in ’n ry gepak Verskillende lande se pette hang aan ’n los tou bo die toonbank. Daar is ook ’n swartbord waarop die woorde  kak en betaal is die wet van Transvaal  doodgetrek is. Iemand het dit in blou bordkryt vervang met: In die Noord-Kaap word mens vroeg dors.

Eers dog hy dis net sy verbeelding, maar toe hy weer kyk sien hy wragtig ’n man in ’n ligpienk onderbroek by die verste hoek van die die toonbank sit. Sy wit hemp hang los om sy bobene. Die appelkooskleur strikdas sit skeef om sy nek en hy vroetel met dieselfde kleur kamberband. Hy het die bruidegom gevind.  “En nou jongman ...” Hy kan  nie die bruidegom se naam onthou nie. “Vir wat sit jy dan nou half kaal hier op ’n kroegstoel terwyl jou bruid onder die kameeldoring bome staan en wag.”

“Nee dominee ... die ding staan nou so ...”  Dis toe eers dat hy die vrou agter die toonbank sien staan. Haar perm is vars en haar hemp en broek is van bypassende pers sweetpakmateriaal gemaak. Sy kyk na Braam. “Kom die man mos half deurmekaar hier aan. Dringend opsoek na gare. Swart gare. Broek heeltemal middeldeur geskeur. Van daardie blink kamberband tot by die onderste deel van sy agterstewe. Lyk  vir my na ’n paar stywe boutjies, maar ek sê eerder niks. Die man staan op trou.”  Die bruidegom knik en beaam haar woorde. “Ek het gebuk dominee, om die puntskoene se veter vas te maak en toe hoor ek dit. Een groot skeur. Het geklink of iemand ’n harde wind gelos het. Ek kon mos nie so met ’n halwe broek voor die preekstoel staan nie. En die simpel baadjie hang te kort om my boude toe te maak.” Dominee smith skud sy kop en gaan sit en by een van die kroegstoeltjies. Hy huiwer, maar bestel tog ’n whiskey.

“Ek is klaar,” sê die vrou met die vars pers perm terwyl Braam die laaste sluk van sy whisky vat. “ Jy kan nou loop trou,” sê sy vir die bruidegom en stop die swart broek in sy hand. “Dis nou as jy nog lus het,” knipoog sy vir hom.

Die twee manne begin terug stap Kerk toe. Woordloos. Albei geklee in swart broeke. Die een sin blink gestryk. Die ander een sin duidelik vasgewerk met spierwit gare. ’n Skewe draad wat die gedeelte vanaf die kamberband  tot by die onderste deel van die agterstewe aanmekaar hou.  Watter plattelandse dorpie se kroeg hou in elk geval swart gare aan op ’n Saterdagmiddag ... in die middel van die Somer.

 


Lees die tweede keurverslag oor "’n Broekskeur bruilof"

Lees die eerste weergawe: "Broekskeur onder ’n kameeldoringboom"

Lees die eerste keurverslag oor "Broekskeur onder ’n kameeldoringboom"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top