Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Tweede weergawe van "Hond"

  • 0

Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


Hond

Hy was mooi. Blond, met sy blou denim en 'n veraf kyk in die oë waar hy op Pa se bank gesit en sigarette rol het. Altyd dromend by die venster uit. Hy het nie baie gepraat nie, maar jissie, hy kon dans.

Nie moeilike, ingewikkelde danse waarvan jy die passies moet ken en versigtig moet trap om nie jou pienk sykouse te skeur nie.

Nee, nee, nee. Nie hy nie.

Met hom was dit eerder 'n instinktiewe soort dans, soos wanneer jou gunstelingliedjie op die radio begin speel en jou heupe skielik weet, net wéét, dat hulle nou moet beweeg. Anders gee jy dalk een van daardie rare oomblikke prys wanneer jou hart vry is, heeltemal vry, van wat ander mense dink en wat jou ouers gesê het nie behoorlik is nie. Soos die wind in jou hare as jy agterop 'n bakkie sit, of die duiseligheid as jy en jou beste maat rondomtalie swaai tot julle op die gras neerstort, giggelend.

Soos om dolgelukkig dronkverlief te wees, al is jy net sewe jaar oud.

Daardie soort dans.

 

Pa het eenkeer 'n hond gehad. Hy het altyd honde, maar dié een was anders. 'n Groot swart hond met bruin vlekke en gespitste oortjies. Mooi op sy manier, maar ek was bang vir hom.

Pa het hom langs die pad gekry, honger en verwaarloos. Pa het hom opgetel, huis toe gevat en gevoer.

Die hond het verlief geraak. Pa ook.

 

Marthinus kon meer doen as net dans. Soos visvang. Hy het vir my 'n visstok gemaak van riet en vislyn.

"Oukei, sit nou mooi stil, nè" het hy gesê, "anders jaag jy die vis weg."

Dit was vervelig aan die begin, want ons het net daar gesit en kyk hoe die rivier verby vloei, modder tussen my tone. Soms het 'n visarend geroep.

Maar toe vang ek 'n vis. 'n Stekelrige, opgeblaasde dingetjie vol modder en ek was histeries opgewonde oor my skielike sukses. Hy het die vis vir my uitgetrek.

"Wat is dit?" vra ek toe hy met die vis in sy hand staan.

"Blaasoppie," sê hy.

'n Oulike dingetjie, maar hy het bang gelyk.

"Kan ons hom teruggooi?"

"Voel jy dan nou jammer vir hom? Maar jy het hom gevang!"

"Gooi hom terug, seblief?"

Hy het, en ek het vir oulaas die vis se stekeltjies sien flits toe hy verward in die modder spartel. Toe is hy weg, diep die bruin water in.

Dit was seker daardie selfde middag wat Marthinus 'n krap uitgetrek het. Hy moes versigtig vashou om te keer dat die krap se kwaai rooi knypers nie sy vingers beetkry nie. Dit was die grootste krap wat ek al ooit gesien het.

"Wat gaan jy met hom doen?" vra ek.

"Ons gaan hom eet," het hy gesê.

Ek het nie gestry nie. Ek het geweet ek moet sterk wees - ek het al krapvleis geëet, toe Pa se beste vriendin, Sunette, een aand vir ons kom kook het. So ek kon nie kla nie - die krap moes dood.

"Kom ons stap," het hy gesê toe ons die visstokke wegsit.

Ons het 'n nou paadjie gevolg al langs die rivier se modderbank en hy het my gewys waar die krappe bly - die kleiner enetjies, nie dié wat 'n mens eet nie - in hul donker modderhuisies. Ons het gekyk hoe die loopvisse oor die water en tussen die wortelbome deur spring.  Mudskippers is hul regte naam, maar dit het ek eers jare later gehoor.

"Dis die kraphotel!" het ek geskree toe ons by die groot poel in die middel van die bos wortelbome kom.

"Die kraphotel?"

"Ja, Mamma het my vertel. Sy sê naweke kom lê hulle hier aan die kant van die poel in hulle bikini’s."

Hy het gelag. "Ek is seker hulle doen."

Ons het by die rivier gebly tot dit donker word en die muskiete uitkom. "Kom ons gaan terug. Jou pa is seker al amper by die huis." 

Hy het my oor die modder gedra tot by die bakkie en die son het stil weggesink toe ons huis toe ry. Die bakkie se skud het my aan die slaap gesus.  

 

Die hond was mal oor Pa, maar hy was nie so mal oor ander mense nie. Toe ons die hond gekry het was ek drie jaar oud en Ma het gesê die hond moet agter die huis bly, ek voor. Ma en Pa het 'n heininkie gebou tussen die twee dele van die erf.

Maar die hond het verlang na Pa, en hy wou nie alleen daar agter bly nie. Pa het hom jammer gekry.

"Kom," het Pa vir hom gesê, "kom maar uit."

Die hond het langs Pa op die voorste grasperk gaan lê en Pa het sy kop gevryf. Lang, sagte hale sodat die hond sy oë toegemaak het en op sy rug gedraai het, maag in die son.

Die hond het my nie uit die huis sien kom nie. Maar ek het vir Pa gesien, en ek het na hom gehardloop en geskree: "Pappa!"

Die hond het geskrik en opgespring. Die laaste ding wat ek gesien het, was 'n diep, donker bek vol tande voor dit oor my linkeroog toegemaak het.

"Nee!" het Pa geskree.

 

Die laaste keer wat ek vir Marthinus gesien het, het ons nie gedans nie. Hy en Pa was besig om my en Ma te help om ons goed te trek. Ek onthou hy het by my rooi boekrak gestaan en hy wou my nie in die oë kyk nie. Hy wou nie praat nie, hy wou nie eers lag vir my kindergrappies soos altyd nie.

Hy het maar net die een kant van die boekrak gevat, en Pa die ander kant, en Ma het gesê: "Kom nou liefie, hy voel nie lekker vandag nie. Kom staan hier langs Mamma dat ons nie in hulle pad kom nie."

Hulle het die laaste goed in die trok gelaai en toe het ek en Ma net twee matrasse oor gehad, want die volgende dag sou ons Pretoria toe ry sodat Ma weer kon trou. 

Ek het geweet iets is verkeerd. Iets erg.

 

Die oggend wat ons Pretoria toe moes ry, was ek vroeg wakker. Ek het na Ma se matras toe geloop, en anders as gewoonlik wanneer sy die komberse oor haar kop trek om nog 'n bietjie langer te slaap, het sy dadelik regop gesit.

"Hallo, liefie. Kom hier, kom sit by Mamma."

Buite was dit besig om lig te word. Sy het al twee my hande vasgehou.

"Gaan jy baie sterk wees vandag?" het sy gevra. Ek het geknik.

"Daar is iets wat Mamma vir jou moet vertel, en dis oukei om te huil, maar wees asseblief sterk."

Ek kon sien Ma is ontsteld, so ontsteld dat my hart woes aan die klop gegaan het.

"Marthinus is gisteraand dood."

My mond het oopgegaan, sonder 'n geluid, tot ek dit uiteindelik kon uitkry: "Hoe?"

Ek was in trane, ek het geskree.

 

Ma het my hospitaal toe gevat ná die hond my gebyt het. Sy sê ek het amper my oog verloor.

Vir Pa het sy gesê die hond moet gaan.

Eers het Pa hom weggegee vir 'n vriend in die straat. Maar die hond het teruggekom.

Toe huil Pa al die pad na die dorp toe waar die veearts bly, want hy moes die hond daar los. Die hond moet uitgesit word, het Ma gesê, want hy hou aan met terugkom en hy is gevaarlik.

 

Nadat Ma vir my gesê het Marthinus is dood, ry ek en sy na Pa se klein huisie, waar hy ingetrek het na die egskeiding. Die tuinwoonstel is onlangs aangebou en ek het gereeld daar gespeel, maar dié oggend wou Ma nie toelaat dat ek daar ingaan nie.

Ons gaan na Pa se kamer toe. Hy lê in die bed, die ligblou gordyne bol effentjies in die wind, die kamer is donker. Sy oë maak oop en toe. Oop en toe. Hy kyk vir ons, hy kyk weg. Ek leun oor om hom 'n drukkie te gee. Hy sit sy arm om my, slap.

Ma sê: "Kom, liefie, Pappa voel nie lekker nie. Hy gaan 'n rukkie slaap en dan kom ons nou-nou terug en maak vir hom ontbyt."

Ons gaan winkel toe. Ma koop vars broodrolletjies, blaarslaai, tamatie, ham en kaas. Dan gaan ons terug na Pa se huisie toe, waar Ma die brood sny en bordjies uitpak.

Dis die eerste keer vandat hulle geskei is, omtrent drie of vier jaar gelede, dat hulle weer saam om 'n tafel sit. Lief met mekaar, amper asof hulle mekaar nodig het. Hulle baklei nie, hulle stry nie, en dis lekker, al sê Pa nie veel nie.

Toe skielik: "O my genade!" skree Ma.

Pa is besig om deur sy broodjie te hap, met blaarslaai en kaas en alles daarop. Hy kyk op na Ma. 'n Vet groen wurm krul op die punt van die blaar in Ma se hand, woedend dat Ma sy wegkruipplek aan die binnekant van die slaaikop ontdek het. 

Pa se broodjie hang in die lug. "Jig, ek voel nou bietjie siek," sê hy. Dis die eerste volle sin wat hy vandag sê.

Ek kyk vir Ma, bekommerd. Ma kyk vir die wurm. Pa kyk vir sy broodjie, dan terug na die wurm.

Toe glimlag hy. "Shame, arme ding."

Ons kyk vir mekaar en ek begin giggel. En skielik is ons al drie aan die lag.

Net voor ons loop, sê Ma: "Jy moet sterk wees, Nan."

Dis hulle naam vir mekaar. Hulle noem niemand anders Nan nie, net vir my en mekaar. Daar moes seker 'n klomp ander mense gewees het die dag ná Marthinus se dood, maar ek onthou net hierdie stukkie.

 

Die hond het weer teruggekom.

Hy het by die hek opgedaag met 'n gat in sy been. Pa het die veearts, wat dertig kilometer ver van ons woon, gebel.

"Hy het weggekom," sê die veearts. "Ek weet regtig nie hoe nie. Hy moes oor die muur gespring het. Hy was vasgemaak."

Pa is verskriklik kwaad. 

Maar Ma is ernstig. "Dis die hond of dis ons dogter."

 

Die bloed. Die bloed wanneer iets geskiet word. Pa sê hy kry nog steeds nagmerries.

Sunette sê die bloed was orals. In sy mond, terwyl hy probeer asemhaal.

"Ek was daar toe dit gebeur het, al die vriende was. Daar was ’n braai aan die gang toe ons dit hoor. Ek het deur die venster geklim, want hy het hom in daai tuinwoonstel toegesluit," vertel sy my een middag toe ek by haar kuier. Nou is ek al groot – vyftien jaar oud. Sunette is Pa se beste vriendin, van toet af al.

"Ek het sy kop vasgehou, ek het hom gesmeek om uit te hou, om dit te maak, maar hy was besig om te verstik in sy eie bloed."

Sunette het baie gehuil toe sy my vertel het. En dit was verskriklik om te hoor, maar uiteindelik het ek geweet. Selfs al sal ek nooit verstaan nie.

 

"Hoe het Pa hom ontmoet?"

Pa het so hartseer gelyk toe ek vra.

"Ek het hom 'n lift gegee. Hy’t langs die pad gestaan, 'n hitchhiker." Pa het diep gesug. "Maar ten minste was dit sy keuse. Hy kon die lewe net nie meer vat nie, die pyn."

Hy bly lank stil. Hy vryf ’n ander, nuwe hond se kop. Dan sê hy: "Soms is dit te veel, hierdie lewe."

Behalwe vir honde. Hulle sal altyd die lewe kies. As hulle kon.

 


Lees die tweede keurverslag oor "Hond"

Lees die eerste weergawe van "Hond"

Lees die eerste keurverslag oor "Hond"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top