Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Tweede weergawe van "Duimgooi na nêrens"

  • 0

Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


Duimgooi na nêrens

Die koue oggendbries groet my, dis herfs in die Groot-Karoo. Ek haal diep asem. En so skielik soos deur ’n weerligstraal word my sintuie getref deur geraas en vrot uitlaatgasse. Dís my lewe langs die nasionale pad - die lewe van ’n professionele duimgooier. Maar ek is regtig nêrens heen op pad nie. Ek klim in by wie ook al my wil oplaai, doen wat ek moet doen en klim weer uit op een of ander godverlate plek. Party dae is goed, ander slegter, maar ek kan darem oorleef. As ek gelukkig is, ry ons nie eers so ver nie, dan kan ek sommer terugloop hier na my spot toe. Maak nie saak waar ek opeindig nie, die pad lei my altyd terug hierheen.

Die mense van Beaufort-Wes ken my al – party ry net verby, ander ‘‘groet’’ sarkasties, en nog ander gooi my met enigiets van eiers tot skelname, so in die verbyry: “Jou fokken hoer! Kry ’n regte job! Jy’s die fokken rede dat mense so baie skei!” Ek dink nie dis fair nie, maar wat kan ek doen? Dis al wat ek ken, al waarvoor ek goed is. Dis al wat ek nog altyd gedoen het. En dis wat ek sal doen tot ek dood neerslaan.

My customers noem my Angie, maar my regte naam is Andries, en ek is ’n fopdosser. ’n Transvestiet. Of dan, ’n cross-dresser. Mens sou dit nooit sê nie, maar ek is gebore en getoë in die Vrystaat. Enigste seun van mielieboere Frans en Anna le Roux. Grootgeword saam met twee susters - die twee tewe. Hulle was tog altyd so vreeslik voorbeeldig. Slimste in die klas, eerste netbalspan, prefek en hoofmeisie. Nou is hulle albei getroud met suiwer, volbloed Afrikanermans – direkte afstammelinge van generaal De la Rey en Piet Retief onderskeidelik, as ek dit nie mis het nie. Twee kinders elk. Een woon saam met haar gesin in Bloemfontein en die ander een in Pretoria. Perfekte stereotipes, en my ouers se trots!

Ek? Ek is vas oortuig dat ek omgeruil is in die hospitaal. Ek was nog altyd anders – ek wou nie inval by die res nie. Dit was nog altyd my lewensdoel om anders te wees. Al wat ek nog altyd wou doen, was om my lippe rooi te maak en in ’n paar hoëhakskoene op en af te paradeer . . . Ek het altyd my ma s’n skelm gedra, toe ek nog op skool was.

Hoekom is die pad so stil vandag? Is hier geen eensame, gefrustreerde, jagse trokdrywers wat ’n blow job soek nie? Jissis! Die son is warm en hierdie make-up is te duur om heeltyd te reapply!

Jy weet, Sara, ek het nooit rugby gespeel of eintlik seunsvriende op skool gehad nie. Tolgooi en albasters het my nie aangestaan nie. Ek was maar altyd op my eie stasie – een groot misverstand. Ek het altyd geweet ek is anders, maar ek kon nooit my vinger daarop sit nie. Ek bedoel, al wat ek en die ander seuns in gemeen gehad het, was die anatomie tussen ons bene. Genadiglik gaan skool ook darem verby en toe ek my kom kry, gaan ek ook matriekafskeid toe. My ma moes net keer dat my outfit nie meer extravagant as my date s’n was nie. Ek was beslis nie van plan om ’n vaal pak te dra nie.

Na baie redenasies, smeking, gebede, konflik en slapelose nagte het my ouers ingestem dat ek argitektuur kon gaan swot. My punte was goed genoeg, en dit was die mees “ongewone’’ werk waarmee hulle tevrede sou wees. Enigiets wat nie trekker ry of mielies oes behels het nie, was vir moffies. Ek het nie omgegee nie – ek moes net uit die huis uitkom.

Ek is toe Kovsies toe en het gebly in Abraham Fischer – dié manskoshuis op kampus. Wat ’n absoluut sieldodende ervaring! Geesbou se gat! Al wat ek wou bou, was ’n bom om die hele plek moer toe te blaas.

Ek moet sê ek het die argitektuur baie geniet, en om ander kreatiewe siele te ontmoet. Tog was daar nog altyd iets wat geskort het in my lewe. Ek het naarstiglik gesoek, op allerhande plekke, om die leemte te probeer vul.

’n Paar van ons is een naweek Johannesburg toe – Sodom en Gomorra, soos my ma sou sê. Ek het glad nie geweet waarvoor ek my inlaat nie, maar dis nou die ding van student wees: vryheid en min of geen reëls. Ek was nog nooit daar nie en ek het besluit dis hoog tyd. My ma sal nie en hoef nie te weet nie.

So is ons toe na die Goudstad toe. En was dit ’n belewenis! Ha! Alles was so groot – ek het nog nooit so iets gesien nie. En al die liggies! Ek kon nie sê waar die stad begin en waar dit eindig nie. My hart wou by my keel uitspring en my oë kon nie groot genoeg oop om alles in te neem nie. Dit was wonderlik! O, Sara, ek was so opgewonde, maar terselfdertyd so skytbang!

Daardie aand beland ons in een of ander club. ’n Gay-club, sou ek later besef toe ’n mooi man hier teen my verbyskuur. Net té naby en heel opsetlik. En boonop probeer hy die mees verbeeldinglose pickup line op my. Met dié dat ek my oë spierwit omdop vir hom, vang my oog ’n beweging op die verskoning van ’n verhoog. ’n Spotlight gaan aan, die gordyn word oopgetrek en daar voor my verskyn ’n engel – met ’n spierwit pruik, fake eyelashes, sequins, feather boa en glitter stilettoes! Lady Lucille was haar naam. Ek was seker die uur van die oordeel het aangebreek – ek kon nou maar gaan. My lewe was volmaak in daardie enkele oomblik. En skielik, net daar, het ek geweet waarom ek op hierdie aarde geplaas is. Dís hoe ek wou lyk en dís wat ek wou doen!

Dit was die wonderlikste aand van my lewe, Sara! Ek wens jy kon dit beleef het. Die wêreld kon vergaan, ek wou net op daardie verhoog wees. Ongelukkig het die realiteit my hard aan die gat kom byt en ons moes terug Bloem toe.

My lewe was nooit weer dieselfde nie ... Ek kon nie slaap nie en ek kon aan niks anders dink nie. Ek het my hart in Johannesburg verloor en ek moes net terug soontoe. En ek is. Sonder my ouers se goedkeuring, natuurlik. Hulle het dit baie duidelik gemaak dat as ek daar van die plaas af wegry, dit my laaste keer sou wees. Sonder waarborge en sonder ’n plan, maar met baie hoop, het ek in die pad geval.

Die Goudstad was nie dieselfde nie. Die verwondering wat ek beleef het daardie eerste aand was gehijack en oorgeneem deur onsekerheid en angs. Is dít hoe mense voel wat hulle drome najaag? Huh, Saartjie? Het jy ook so gevoel toe jy nog gelewe het?

Ek het by die club aangekom en verslae voor die toe deure gestaan. “Hulle’s weg.” ’n Stem uit die donker. Dis ’n bergie wat praat. “Die plek toegesluit en gefokof Kaap toe. Hie’s te min besigheid virrie moffies hie in Jo’burg.”

Ek kon dit nie glo nie. Ek het net daar gestaan. Kaap toe? Ek het my hele lewe in Bloemfontein gelos om oor te begin hier - en nou? Ek moes iets doen. Ek kon nie bekostig om nie te werk nie, en ek het definitief nie genoeg geld gehad om Kaap toe te piekel nie. Huis toe gaan was nie ’n opsie nie.

En dis hoe dit begin het, liewe Sara. ’n Jong, gewillige lyf is ’n waardevolle kommoditeit en as jy weet hoe om dit te gebruik, kan jy genoeg maak om te oorleef.

Terwyl ek dag na dag hier langs die pad staan, tussen Karoobossies, vaal klippe en pofadders, dink ek dikwels: Hoe het alles so vinnig verkeerd geloop? Hel, kyk hoe lyk ek! Wat het van my geword? Hoekom sien net party mense die gatkant van die lewe? Wat van al die ryk mense wat hier verby jaag met hulle slap karre – baie vinniger as 120 kilometer per uur – met hulle neuse so hoog in die lug as hulle my gewaar, asof ’n stinkmuishond iewers georgasm het! Bleddie pretentious!

Hulle dink verniet hulle is so special – hulle is ook net mense. Ek, Andries le Roux, is ook ’n mens. Ons almal is net mense. Hulle was net op die regte tyd op die regte plek. Hulle moenie dink hulle is fokken beter as ek nie, want hulle is nie. Hulle kan net donners dankbaar wees vir wat hulle het, dit kon so maklik anders gewees het. Een verkeerde besluit – net een – en hulle kon hier gestaan het en ek verby gery het.

Ek het ook drome gehad . . . ek wou ook famous wees. Jy weet, Saartjie, daar was ook ’n tyd in my lewe – al lyk dit nie so nie – dat  die wêreld oop voor my gelê het. Dis nou niks meer as ’n vae herinnering nie. Ek raak partykeer so angstig as ek begin dink oor die toekoms. So ek dink maar nie te veel daaroor nie. Ek hou my mind op die job, anders raak ek vreeslik depressed.

Watse toekoms het ek? Ek wil nie vir ewig hier wees nie. Ek wil nie vir altyd dit doen nie. En dan dink ek: Maar watter ander opsies het ek? En dit maak my bang, want niemand soek ’n ou hoer met hangvelle en plooie en takkerige hare nie. Ek het dalk nog vyf jaar oor – maksimum – dan is dit tickets. Elke dag in die son is nie juis goed vir my vel nie. En dis nie asof ek die duurste en beste moisturiser kan bekostig nie. Party maande kan ek nie eers my sinkhokkie se rent betaal nie. Hel, dis nie die lewe wat ek vir myself sou kies nie. En ek wens dit vir niemand toe nie. Maar dis al wat ek ken. Al wat ek kan doen.

Wat sal my ouers sê as hulle hier moet verby ry? Hulle sal my tien teen een nie eers herken nie. Ek is al so lank uit hulle lewe uit, ek kan net sowel dood wees vir hulle. Wat sal eendag op my grafsteen staan? Sal ek ooit ’n grafsteen hê, of sal ek ook net onthou word deur ’n houtkruisie met fake blomme teen ’n geroeste doringdraad? Soos jy, Sara?

Jou familie sal altyd hier verby ry, verby die kruisie met jou naam op, en herinner word aan waar hulle jou verloor het. Maar wat van my? Sal iemand my onthou? Sal iemand omgee? Sal iemand agterkom as ek nie meer hier langs die pad staan nie? “O, ek wonder waar’s daai trassie? Iemand het hom seker in Colesberg afgelaai en nou moet hy weer terug hike.”

O, wag . . . hier kom ’n trok! Laat ek my lippe aansit en bietjie been wys. Daar’s gewoonlik ’n man in wat óf deurnag gery het óf alleen agter in die trok geslaap het. Óf wat ver van die huis af en hoogs jags is. Enige geval is ’n potensiële kliënt.

 


Lees die tweede keurverslag oor "Duimgooi na nêrens"

Lees die eerste weergawe van "Duimgooi na nêrens"

Lees die eerste keurverslag oor "Duimgooi na nêrens"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top