Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Broekskeur onder ’n kameeldoringboom"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


 

Broekskeur onder ’n kameeldoringboom

Malinda haal die troumusiekbundel versigtig uit die houtkis langs haar klavier en gaan sit dit in haar handsak wat klaar regstaan op die bal-en-klou-ingangsportaaltafel. Sy sit vir die derde maal ’n smeersel koraalkleurige lipstif aan om haar dun Gretha Garbo-lippe te beklemtoon. Sy weet reeds dat hy gaan laat wees. Hy is altyd laat as daar enige vorm van rugby gespeel word. Veral Springbok-rugby.

Om tien voor vier stop sy Mercedes voor hul vriendelike baksteenhuis. Hy stop voor die withouthekkie. Gewoonlik ry hy gedurende die week slegs met die grysgroen Isabella Borgward, maar vanmiddag kwalifiseer duidelik as ’n uitsondering wat spoed benodig. Sy klim moeiteloos in die poskantoorrooi motor en hy swaai die stuurwiel behendig in Sishen se rigting. Die tyd op die troukaartjie was duidelik aangedui as vieruur en daar is nog twintig oorbekende kilometers wat op hulle gewag. Op ’n tipiese beginsomer Noordkaapse middag.

Hulle ry besonder vinnig. Elke nou en dan vryf hy ingedagte met sy blink gestrykde sakdoek die sweet van sy slape af. Sorgvuldig, elke druppel. Dit verskyn weer net so vinnig soos wat hy dit afvee. Die Noordkaapse hitte is onbedagsaam wreed. Hulle luister die tweede helfte van die rugbywedstryd op die radio. Sy ruik die afwagting en hoop op ’n drie of ’n skepskop en ook die eindelose lang stuk droëwors en appel waaraan hy om die beurt knibbel soos sy senuwees knaag. Sy het gehoop om nog ’n paar brokkies oor die kinderkrans of nuwe vrouediens met hom te deel, maar vandag is hy nie lus vir geselsies maak nie.

Sy kyk uit oor die dor, pynlike droë vlaktes. Hoe de donner het ek op hierdie godverlate plek beland, wonder sy terwyl sy probeer tel hoeveel kameeldoringbome verbyflits. Malinda is Kathu se enigste orrelis. Ook Sishen s’n. Sy het musiek geswot en dadelik na haar studies getrou. Haar man se hart behoort aan die nimmereindigende ooptes en hare verlang terug na die groen wat mens net in die Boland kry. Voor sy egter kon rebelleer teen die kleindorpie-sindroom is sy opgeswiep in die weeklikse ritme van die gasvrye gemeenskap. Dié dat sy nou Saterdag na Saterdag saam met dominee Smith troues bywoon om die troumars te speel. Soms droom mens dat jou dae gevul sal wees met fluweelrokke, indrukwekkende wêreldverhoë en gedurige skemerkelkies. Ander dae omhels jy die blydskap op ’n bruid se gesig as sy Mendelssohn se geliefde gedeelte uit Midsomersnagdroom herken.

Dominee Smith was nog altyd in ’n tweestryd gewikkel as dit by rugby en sy beroep kom. Op universiteit moes hy kies tussen professioneel skrumskakel speel en die bediening. As gevolg van ’n lastige herhalende dyspierbesering het hy homself vir ewig tot die amp verbind.

Net soos hulle oor die brug ry waarmee mens Sishen binnegaan hoor sy dit. Byna geluidloos, maar die klanke vorm sonder twyfel die woord wat sy vermoed. “Fok.”

“Ekskuus dominee?” ( Sy vermoed sy het dalk verkeerd gehoor.)

“Ek het die boek vergeet.”

“Die boek?” vra sy ongelowig.

“Die kerk behoort tog seker ’n Bybel te hê?”

“Nee man, die trouboek, die register waarin hulle moet teken. Ons sal moet omdraai.”

Hulle draai om. Ry weer dieselfde pad waarmee hulle gekom het. Die keer genadiglik sonder die droëwors en die appel. Die rugby steeds aan. Die radio ’n desibel harder gedraai.

Hulle kry die trouregister en val weer haastig in die pad.

Presies om halfvyf stop hulle voor die kerk.

Die trougaste staan in groepies en gesels. ’n Angstige gedruis hoorbaar in die warm lug. Almal waarskynlik hoogs geïrriteerd met die dominee wat so ongehoord laat is.

Malinda hardloop die kerkstoeptrappies twee-twee op en neem haar plek agter die orrel in terwyl dominee Smith traag sy toga aantrek en op die preekstoel klim. Hulle wag benoud vir die gaste om in te beweeg. Toe daar na tien minute steeds geen teken van ’n trouganger is nie, besluit dominee Smith om te gaan kyk wat aangaan. Dalk het die bruid haar so vervies vir sy laatkommery en besluit om die troue te kanselleer. Sy kon beslis nie ’n ander dominee vind nie, want die naaste ander dominee is waarskynlik meer as 300 kilometer weg.

Hy stap bekommerd in die rigting van die versierde bruidskar wat onder die enigste koelteboom op die kerkgrond staan. ’n Tamaai kameeldoringboom. Hy is gereed om ’n witleun te vertel as dit die bruid sal kalmeer.

Die beweging rondom die bruidskar is ’n chaotiese deurmekaarspul van appelkoos en ligpienk. Mens sien die wit oorvloed van organza, satyn en taffeta voor jy die bruid se gesig sien. Sy sit wydsbeen op ’n bottelgroen plastiekstoel (wie weet waar hulle die stoel gekry het). Die aanhoudende lae is in ’n bondel op haar skoot vasgedruk. Iemand met ’n appelkooskleurige rok is besig om die bruid met ’n nat lappie te lawe. Iemand anders in ligpienk waai die troublaadjie soos ’n franse waaier oor en oor vir koelte oor haar gesig. Die sweet loop in swart hale maskara vanaf haar wang. Traanmerke duidelik sigbaar op die dik aangeplakte onderlaag op haar wang. Die klein blommemeisies se skoene is uitgeskop en hulle speel uitgelate in die warm sand. Hy huiwer vir ’n oomblik, maar stap tog tot voor die bruid.

“Uhm . . . jammer dames . . . Goeiemiddag . . .”

Een van die appelkose beduie dat hy moet stilbly. Wink met haar oë dat hy opsy moet staan. Die blou oogskadu is so donker dat hy vir ’n oomblik wonder of sy nie dalk vir hom knipoog nie, maar hy stap tog ’n entjie verder en wag vir haar om nader te kom.

Sy lyk soos ’n malvalekker, die strooimeisie met die blou oogskadu. Haar gesig is tamatierooi. Mens kan sien sy moes daai waaier al ’n paar keer vanmiddag waai. Sy praat eerste. “Hy is weg dominee. Skoonveld, soos daardie wit sokkie wie se maat mens altyd soek.”

“Ek is hier, suster. Dit is een groot misverstand. Ons was net laat, want . . .”

“Nee dominee, die bruidegom. Hy is weg. Die bliksem. Ek het geweet sy voorkop is hopeloos te groot en sy oë te naby aan mekaar.” Sy maak ’n vreeslike spoegklikgeluid met haar tong en plaas haar hande op haar heupe.

“Nou, dan sal ek hom seker maar moet gaan soek,” sê dominee Smith

Hy begin in Kerkstraat afstap. Dit loop parallel met al die ander strate in Sishen. Die dorp is grafstil behalwe vir die klanke van die orrel. Malinda herhaal nou al vir die derde keer “God is hier teenwoordig” se wysie. Hy hoop haar aanvoeling is reg. Waar gaan hy die man kry. Daar is nie ’n siel of dier in die straat te sien nie. Die helfte van die dorp staan en wag buite die kerk vir ’n troue om te begin en die ander helfte slaap tot die laaste hitte bedaar. Daar is seker ook ’n paar wat die bokke se oorwinning vier. Demmit, hy wonder of hy nie ook sou weggeloop het as sy bruid op so ’n belangrike wedstryd sou wou trou nie. Hy dink meteens terug aan sy eie troudag. Nee, vir sy Marie sou hy selfs die wêreldbeker ook gemis het. Hy sal die jongman moet vind. Anders sit hy tot ounag nog tussen die appelkose en malvalekkers en troos.

Hy stap die vyfde en laaste straat binne. Eers sien hy die helder pronkertjies. Ongewoon vir ’n tipiese Sishen-tuin. Hierdie mense steur hul blykbaar nie aan waterbeperkings nie. Op die stoep sien hy die kenmerkende appelkooskleur van ’n blink kamberband. Hy het die bruidegom gevind.

“En nou jongman?” Hy kan om die dood nie die man se naam onthou nie. “Vir wat sit jy dan nou hier op die stoep met ’n kniekombersie terwyl jou bruid rasend van bekommernis is?” Hy sien ook die riffelglas met yskoue suurlemoenstroop uit die hoek van sy oog. Sy mond is kurkdroog, maar hy bly tjoepstil.

Die ou dame staan op uit die diep leunstoel, sy kreun en sit die swart stuk satyn lap op die tafel neer en skink vir hom ‘n glas van die koel stroop. Hy drink dankbaar. Die ysblokkies klingel toe hy die glas neersit.

“Lalie,” sê sy en steek haar hand uit om hom te groet. “Daar was ’n ongeluk dominee . . .” Verbeel hy hom of klink dit asof sy ’n lagbui probeer onderdruk. “Die man het verwese hier in my tuin opgedaag. Opsoek na gare op ’n Saterdagmiddag. Swart gare. Ek bid jou dit aan. Broek middeldeur geskeur. Vanaf daardie blink kamberband tot by die deel van sy boud wat onbetaamlik is om hardop te noem. Hy het glo gebuk om daardie glinsterende gepunte skoene se veters vas te maak en die verspotte baadjie van hom sit so hoog dat hy op geen manier die verleentheid sou kon wegsteek nie. Ek is nou byna klaar vasgewerk en dan kan hy loop trou.”

Die jongman sê steeds geen woord nie. Duidelik ontnugter deur die verloop van troumiddag se gebeure. Hy vroetel ongemaklik aan die appelkooskleurige satyndas wat die kleur van die kamberband herhaal en kyk hulpeloos in Lalie se rigting.

Nadat die bruidegom klaar aangetrek is en dominee Smith nog ’n glas suurlemoenstroop gedrink het, begin hulle terugstap. Woordeloos op pad om te gaan trou.

Lalie kyk hulle agterna. Sy lag in haar mou vir die twee paar swart broeke wat ongemaklik maar in gelid terug stap kerk toe. Mens kan die spierwit gare se lyn duidelik op die agterkant van die bruidegom se broek sien. Sy skud haar kop. Hier op Sishen maak sy geen begrafnisklere nie. Nee, hier hou hulle troues en vier gereeld die genade wat die skadu van ’n kameeldoringboom soms bring.

 


 

Lees Leti Kleyn se keurverslag

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top