Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "17 tuindwerge"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


 

17 tuindwerge

Die lig van binne het soos ’n lang, maer man in die skrefie van die voordeur kom staan. Konstabel Fourie se hand het ’n oomblik op die koel deurknop gerus. Hy het oor sy skouer gekyk.

Agter hom het die oggend soos ’n pasgeskilderde skildery gelê ? grys en nog nat van die nag se verf.

Deur die tuinhekkie het neusies en handjies van nuuskierige gesiggies gesteek. Die straat was vol wriemelende lywe en koppe wat op en af ge-yo-yo het om beter te sien. As dit nie was dat konstabel Fourie en sy kollega die erf van ag meter by ag meter met rooi-en-wit band afgesper het nie – en dat sy kollega keer dat almal agter die versperring bly nie – het daardie lywe en gesigte almal deur die tuin gerank.

Voor konstabel Fourie versigtig die stram voordeur oopgestoot het, het die bordjie bo die deur sy oog gevang. Hy het goed onthou wat ’n paar maande gelede in die plek van dié bordjie gehang het.

Sy oë het soos ’n pendulum geswaai van die regterkant van die vertrek na die linkerkant en dan weer na die regterkant. Anders as die meeste ander huistonele waarmee hy in sy werk te doen kry, was daar geen tekens van leef wat wreed onderbreek is nie.

In die kombuis was daar geen vuil skottelgoed nie. Die breekware – alles eenvoudwit – was netjies in die kaste gepak. Elke teelepel gehoorsaam op sy plek. Die sitkamer se ou, vaalbruin rusbanke het nie enige onlangse sitte verklap nie. Ook die beddens – die dubbelbed in die hoofslaapkamer en die enkelbed in die ander kamer – het nie getuig van lywe wat laas nag daarop gerus het nie.

Toe konstabel Fourie die deur agter hom toetrek, het hy vlugtig die uitgekerfde woorde op die bordjie wat bo die voordeur hang, gelees:

“Geseënd is die een wat die woorde van die profesie lees, en die mense wat dit hoor en wat dit ter harte neem, want die eindtyd is naby.”

Toe het hy na sy kollega geloop en die skare skouerophalend met ’n kopskud geantwoord.

*****

Behalwe vir die drie Van de Kamps en die boerboelteef Donder, het daar sewentien tuindwerge in die Van de Kamps se tuin gewoon.

Kort nadat die Van de Kamps in die somer van 1998 hul intrek in Ruspoort geneem het, het dit op die dorp gegons oor die dwerge.

“Aaklige gedroggies,” het my ma vir tannie Martiens gesê ? twee dae nadat die Van de Kamps ons nuwe bure geword het.

“Ja, die afbreuk wat daardie dwerge aan die dorp se karakter doen,” het tannie Martiens bygelas en ’n sluk van haar tee geneem.

“Daantjie sê toe hy verlede Saterdag daar by die Van de Kamps in die tuin gewerk het, het die groot dwerg, die een wat met sy koeksister-arms langs die posbus waghou, sy oë geel geskreef. En toe Daantjie se voet met ’n tuinvurk bygekom. Groottoon deurboor.”

Tannie Martiens het haar oë groot gerek en geïllustreer deur haar koekvurkie loodreg in die sagte geel sponskoek te druk.

“Ag, stront, man!” het my pa ingetjip. “Daardie Daantjie rook meer blare as wat hy hark.”

“Nie voor die kind nie, my man,” het my ma deur haar stywe lippe gepers en gekyk of ek binne hoorafstand is.

“Ek gaan fietsry!” het ek oor my skouer geskree en by die agterdeur uitgeglip voor ek raas oor afluister kon kry.

“Ag, die tuindwerge het meer grasie en ordentlikheid as al drie Van de Kamps saam,” het ek nog my pa se stem voor die klap van die deur gehoor.

Pa se geïrriteerdheid met die Van de Kamps het eintlik onregverdig vroeg begin.

Van die oomblik toe die vuilwit kombi met ’n sleepwa wat gevaarlik rammelrig agterna getou het, in Mazurkadraai kom stilhou het. Agterop die sleepwa het ’n blinkrooi motorfiets gestaan, toegedraai in deurskynende plastiek. (’n 1972-Suzuki ? sou Divan my later ouboetslim inlig.)

En dit was juis rondom die motorfiets op die sleepwa wat Pa en ander inwoners van die dorp se irritasie met die Van de Kamps later sou sentreer.

Want oom Okkert was ’n biker.

Hy en ’n paar vriende wie se bultende boarms net so dig versier soos die muurpapier in ouma Tokkie se sitkamer was, het gereeld op jaagtogte gegaan. Voor oom Okkert se intrek was bikers iets wat ek net van ’n plakkaat teen Divan se kamermuur geken het. Maar toe het daar byna elke Saterdag ses of sewe motorfietse voor die van de Kamps se huis gebrul en gebrom. Soos vloekende grassnyers.

“Okkeeeeertttt!” sou ’n stem vanaf ’n ongeduldige motorfiets skree.

“Fokkit, ek kom!”

Niemand sukkel met oom Okkert nie. Of jaag hom aan nie. Sy arms was so dik soos boomstompe.

“Steroids,” was Divan se antwoord toe ek hom vra waarom oom Okkert se arms so dik was. Divan het sy hand groot geskulp om sy eie tengerige seunsarm.

“Dis van steroids dat Oom Okkert en van sy vriende so lyk. Maar steroids maak jou voël klein en dan vrot dit en val af.”

En Divan sou weet. Hy en sy beste pel, Tommie, het immers smiddae weights opgetel in ons agterplaas. Om sterk te word. Sodat die groot ouens by die skool nie met hulle sukkel nie.

“Donder, huis toe!” sou oom Okkert bulder wanneer die boerboel blaffend die trop motorfietse agternasit.

Bam-bam-bam! sou die exhaust van ’n motorfiets met ’n paar geweerskote groet.

“Ongeskik,” het my pa meermale sy kop geskud ? sy handpalm teen sy voorhoof. “Die hele Mazurkadraai is wakker nadat daardie spul met hul speelgoed kom raas het.”

Dit was nie net oom Okkert se motorfiets wat die wenkbroue laat lig het nie. Dit was ook sy woeste hare, die lang baard, die feit dat hy altyd kaalvoet geloop het en sy moulose hemde wat meestal met ghries besmeer was ? omdat hy op sy rug onder die Suzuki aan motorfietsbinnegoed gekarring het.

En natuurlik ook die bokhorings.

Bokant die voordeur het daar ’n paar reusagtige horings gepryk. Gemsbokhorings, het ek my ouers hoor praat. Daar was ook ’n opgestopte springbokkop op die tuinhekkie waarby Donder getrou waggehou het. En ’n paar kleiner bokkies se horings was op die boomstam van die boom in die voortuin gemonteer. Ek wou eendag nader stap om die bokhorinkies van nader te bekyk, maar my pa het my verbied om my voete in oom Okkert-hulle se erf te sit. Hy het gesê dat ’n man soos oom Okkert nie binne ’n 10 m-radius van ’n jaggeweer behoort te kom nie.

“Dit sal my nie verbaas as daar binne die huis ook renosterhorings is nie,” het tannie Martiens geskinder.

“Ek dink darem nie so nie.” My ma het nie so maklik op hol geraak nie.

“Waarom dink jy hou daardie Lenie haarself dan so apart?”

Behalwe vir haar voorliefde vir dwerge, het die dorp nie veel van tannie Lenie geweet nie. Net dat sy soggens om 07:00 in haar uitgewaste ligblou kamerjas vir oom Okkert gewaai het, voor hy een been oor die Suzuki geswaai het en werk toe is. Daarna het sy die pos uit die posbus gehaal, die tuin natgelei, vir Donder kos gegee, gekyk dat dit “goed gaan” met elke dwerg en in die huis verdwyn. Saterdagaande, wanneer oom Okkert en sy vriende op omgekeerde plastiek Coke-kratte in die voortuin gesit en kaartspeel het, het tannie Lenie Castle’s en pakke Simba Smoked Beef Chips vir “die manne” aangedra.

Al wat almal verder van tannie Lenie geweet het, is dat sy kort en rond was en vir ure en ure lank klavier kon speel.

“Arme Lenie, sy speel seker soggens haar gemoed rustig nadat sy saam met daardie bruuske Okkert ontbyt moes eet,” het my ma eendag gesê.

Soms sou tannie Lenie Mazurkadraai waggelend afwandel na die straatkafee. Sy het nie baie met die res van die dorp gepraat nie. Nou en dan sou sy haar hand uit beleefdheid lig en ’n opplakglimlag forseer. Sy kon seker aanvoel dat almal trapsuutjies vir die Van de Kamps was. Vir oom Okkert, vir haar, en vir hul seun. Petri van de Kamp, wat in my klas was, het net so ’n dik bos hare soos sy pa gehad en was net so stil soos sy ma.

Hy het nie veel met die ander kinders gepraat nie, maar net vir almal van onderdeur sy lang, swart kuif geloer. ’n Groot seun ? volgens Divan was hy meer hande en voete as mens.

Die dag toe ons mondeling moes praat oor ’n onderwerp van jou keuse en dit Petri se beurt was, het die klas twee keer hul asem ingetrek.

Die eerste keer omdat almal vir Petri se onverwagse diep basstem geskrik het. Die tweede keer toe Petri die skedel van een of ander velddiertjie en ’n uitgedroogde akkedis uit sy skooltas haal.

Nadat Petri sy mondeling gedoen het, het juffrou Scheers gevra waar hy aan die skedel en gedroogde akkedis kom. Petri het sy kop na haar gedraai en iets gemompel soos “net gekry” en met ’n harde, vinnige vuishou op die bank aangedui dat hy nie verder daaroor sal praat nie. Divan het gesê dat as daar nou een jonger ou op die dorp is vir wie hy sal koes in ’n straat fight, dan is dit Petri.

“Met daardie hande sal hy enige ou kan slaan tot dié ook soos ’n uitgedroogde akkedis lyk,” het Divan gewaarsku.

En dit was ook so.

In die eerste fight by die skool waarby Petri betrokke was, het hy, Tommie, wat vir die 0/15 A-rugbyspan gespeel het, lelik bygekom. Tommie het Petri se pa ’n “ongeskikte loser” genoem en gesê dat sy ma, “wat soos eend loop”, “obsessed is met dwerge”. Toe gryp Petri vir Tommie aan sy skoolkraag. Toe Tommie boonop vir Petri “ou handeviervoet” noem, het eers ’n vuishou geval, en toe Tommie self.

Tommie het ’n “jammer” gekreun terwyl hy met sy regterhand sy skewe neus op sy bebloede gesig vasgehou het.

Maar sien, dit was nog alles voor Die Visioen.

Die Visioen sou niemand vir oom Okkert “ongeskik” noem nie en niemand sou iets oor tannie Lenie se dwerge kon sê nie. En Petri van de Kamp sou niemand geslaan het nie.

Die Visioen het alles verander.

Nie net vir die Van de Kamps nie, maar vir die hele dorp.

Oom Okkert was vir drie maande in ’n koma. Die dokters het gesê dat die kanse op oorlewing skraal was. Tannie Lenie het byna elke week ’n gebedsversoek vir voorbidding in die Sondaggeel gebedsversoekboksie in die kerk se voorportaal gegooi ? al het die sool van ’n Van de Kamp-kerkskoen nog nooit voorheen die houtvloere van die kerk gesoengroet nie.

Die ingeduikte rooi Suzuki het skuldig op die Van de Kamps se oprit gestaan.

Eendag op pad terug van skool het ek gesien hoe Petri sy skooltas op die gras neersmyt en vervaard die Suzuki met iets wat soos ’n stuk yster gelyk het, begin slaan het. Die Suzuki het blikkerig geskree. Petri het geslaan totdat sy lyf moeg oor die motorfiets gevou het.

Dit was die eerste keer dat ek vir Petri van de Kamp sien huil het.

En toe, wonder bo wonder, kom oom Okkert by. Uit die bloute.

’n Verpleegster het op hom afgekom waar hy besig was om die “flippen pype” uit homself te trek. ’n Beter mediese verklaring as ’n “Godswonderwerk” kon die dokters nie gee nie. Nadat oom Okkert ’n week lank bewys het dat hy self kan asemhaal, praat, eet en homself aantrek, is hy ontslaan. Blykbaar het oom Okkert die dag van sy ontslag sy maerder arms uitgestrek en met sy handpalms teen die deurkosyn gedruk en uitgeroep:

“Die oue is verby, die nuwe het gekom.”

Die eerste opsigtelike verandering was oom Okkert se voorkoms. Hy het in die voetspore van die verpleegster gevolg en aangehou om sy hare korter en netjieser te dra en gereeld te skeer.

En hy het skoene begin dra.

Die volgende Sondag het die Van de Kamps in die kerkbank voor ons gesit. Al drie.

Toe Ma wegkyk, het Divan met sy middel- en wysvinger bokhorings bo-oor oom Okkert se kop gehou en geluidloos vir sy eie grappie gelag.

Petri het heeltyd sy kraag netjies getrek.

Toe oom Okkert sy Bybel optel en by die boek Psalms oopslaan nadat dominee Serfontein Psalm 40 as toetreelied aangekondig het, het Divan begin proes van die lag totdat Ma hom met haar elmboog in sy ribbes stilgemaak het.

Teen die tyd wat die kerkgangers by strofe twee ? “Sy hand het, na my uitgestrek/ my uit die dood se put getrek” ? kom, het oom Okkert gesien die ander mense sing nie uit die Bybel nie. Toe neurie hy maar die res van die psalm terwyl tannie Lenie daarop wieg.

Die Sondag daarna was die Van de Kamps weer in die kerk ? dié keer gewapen met ’n Psalm- en Gesangeboek.

Dominee Serfontein se seën wat die einde van die diens aankondig, was nog nie koud nie, toe bulder daar ’n harde stem agter uit die kerk:

“Dominee, die wêreld gaan binnekort vergaan ek moet die mense waarsku ek is gestuur en jy moet my help almal moet bekeer almal moet voorbereid wees ons leef in die eindtyd.”

Binne twee dae het die hele dorp van oom Okkert se visioen geweet.

Toe oom Okkert in die koma was, het hy gedroom hy kom natgesweet en flou geklim bo-op ’n berg uit. Bo-op die berg het goue struike gegroei met dou daarin wat soos diamante geblink het. Toe staan daar skielik ’n engel langs hom wat sy hand neem en hom oor die berg se afgrond laat kyk het. Onder was dit asof die hele wêreld se leed in 30 sekondes voor hom afgespeel het ? alle oorloë, onderdrukking, nasiemoorde, korrupsie en huishoudelike geweld.

Toe voel hy die engel se hand op sy skouer en toe eensklaps is alles wat hy gesien het weg. Hy het wakker geword en hy het die woorde “2000 jaar hiervan was genoeg” gekry. Van Bo.

En hy het geweet dit was wat die engel vir hom sê.

“Daardie Okkert sê mos nou dat die wêreld sal vergaan met die millenniumwisseling,” het tannie Martiens stories by my ma kom aandra.

“Ag, Martiens, jy steur jou tog seker nie aan Die Visioen nie?” het my ma droogweg gesê.

“Ek weet nie, hoor. Hy klink seker van sy saak. Martie van Shoprite sê hy het al Shoprite se blikkieskos kom opkoop. Shredded tuna, baked beans en Koo sweetcorn staan tot teen die dak in hulle spens. Shoprite moes dit gaan aflewer by Huis Dwerggedrog.”

“Ja, maar Martiens, as die wêreld vergaan, waarom dan kosvoorrade koop?”

“Sien, Martie sê, dominee Serfontein se vrou sê, volgens Okkert gaan die wêreld met die millenniumwending gedeeltelik vergaan – hospitale, winkels, garages, skole en kerke alles in hul maai. Waarskynlik ’n natuurramp – Okkert sê net ons ‘sal weet dis hier’. Vreeslike bloederige gedoente. Dan is daar ’n tussenperiode voordat hy en ander millenniumvolgers weggeraap word en die aarde dan met ’n vuur vernietig sal word. Nou die blikkieskos is vir die tussentyd. Om te oorleef tot die einde.”

Tannie Martiens was trots dat sy die feite van die storie so goed geken het.

Binne ’n maand het die Van de Kamps se huis handomkeer verander.

Die bokhorings moes dadelik af. Bokhorings is die duiwel se oorkussing en as die duiwel eers vatplek op jou huis gekry het, laat hy nie los nie.

Dit is wat oom Okkert gesê het. Ook die “onkerklike instrument” – die klavier – moes uit.

En die TV. Die TV veroorsaak sonde en versoeking, soos oorlog en wellus.

Blykbaar staan die Van de Kamps se TV netjies in bubble wrap in die Serfonteins se garage. Oom Okkert het dit vir die tombola-tafel van die kerkbasaar “geskenk”.

Selfs tannie Lenie se dwerge het die stryd teen die millennium-einde verloor. Daar was nie tyd vir “afgodery” in die tuin – soos oom Okkert dit genoem het – nie.

Tannie Lenie moes haar dwerge in ’n swart sak gooi en van hulle vergeet. Sy moes eerder haar energie fokus op die tussentyd en hoe hulle gaan oorleef as die winkels en skole en hospitaal nou alles moer toe is.

Petri het sommer ophou skoolgaan.

Die laaste keer toe ek hom gesien het, was hy besig om ’n bordjie bo hul voordeur te hang – in die plek van die bokhorings. Op die bordjie het iets van “die woorde van die profesie” en “mense wat dit hoor” gestaan. Ek kon nie klaar lees nie, want Pa het my vir ete geroep en gesê ek moet ophou om soos ’n agie na die Van de Kamps se huis te loer, hy sal vir my die Leviete en sy eie profesieë voorlees as hy my weer daar vang.

Teen September het oom Okkert en dominee Serfontein nie meer langs dieselfde vuur gesit nie. Die twee het begin vassit nadat oom Okkert vir dominee Serfontein gaan spreek het oor die feit dat dominee Serfontein dan ’n salaris verdien – hy behoort mos die werk van die Saligmaker verniet te doen.

Pa sê hy dink eintlik het die breuk tussen dominee Serfontein en die Van de Kamps gekom weens die feit dat daar elke week ’n histeriese lidmaat of vier by die dominee was. Wat as oom Okkert die ware evangelie beet het en hulle dan agterbly as die wêreld eindig? Oom Okkert het gesê dit alles sal begin met aardbewings. En kyk, op 17 Augustus was daar ’n massiewe aardbewing in Turkye wat binne 37 sekondes 17 000 lewens geëis het. En op 7 September was daar ’n aardbewing in Athene wat 6.0 op die Richterskaal gemeet het.

Wat daarvan?

’n Paar lidmate het selfs die kerk verlaat om saam met oom Okkert-hulle vir “die einde” voor te berei. Hierdie lidmate het met “bekeer jou in die volgende 6 dae”-plakkate die strate ingevaar.

Die middag van 31 Desember het die donderwolke soos bondels vaal watte bo-oor Ruspoort begin saamgepak. Oom Okkert en sy volgers het teen skemer in die voortuin begin bid – op die Coke-kratte. Maar toe dit begin stormreën asof die hemele self huil, moes hulle ingaan.

En toe het Pa my aan die agterkant van my trui orent gepluk waar ek op my knieë deur die Van de Kamps se heining geloer het en kwaai gesê: “Ek dog jy is in die bed, mannetjie!”

Wat verder die nag gebeur het, weet ek nie. Maar die volgende oggend was daar nie ’n teken van die Van de Kamps óf hul volgers nie. Selfs Donder was weg.

En alle stemme in die dorp was stil.

En toe konstabel Fourie vir mense vrae begin vra, was almal onseker van wat hulle die nag gesien of gehoor het.

“Dalk het hulle ekstra vroeg opgegaan, voor die natuurramp die aarde tref,” was tannie Martiens se verklaring.

*****

“Ek sal dadelik kyk, Boet, thanks,” groet ek voor ek “end call” op my selfoon druk. Divan het gesê dit is in gister se aanlynkoerant. Ek tik die woorde “Swellendam 2013 ontvoer” in die soekvenster in en word herlei na die aanlynberig.

’n Egpaar en hul seun, wat vermoedelik in sy laat twintigs is, is gisteraand by hul huis in Swellendam gearresteer in verband met die ontvoering van vier mense.

Die vier mense is vasgebind, maar ongedeerd in ’n kelder in die egpaar se huis gevind. Die onderskeie gesinne van die vermistes het hulle tussen verlede Dinsdag en Woensdag as vermis aangemeld.

Die verdagtes hou vol dat hulle bloot die mense wou red van die einde van die wêreld wat volgens hulle op 31 Desember 2013 sou plaasvind.

Volgens die polisie, wat die huis en kelder deursoek het, is daar rede om te glo dat die verdagtes ondersteuners was van Harold Camping, die Amerikaanse doemprofeet wat uit die publieke oog verdwyn het nadat sy voorspellings nie waar geword het nie. Camping het geglo dat die Oordeelsdag 21 Mei 2011 sou wees, gevolg deur die finale vernietiging van die aarde op 21 Oktober.

Een van die ondersoekbeamptes het gesê dat daar tekens in die huis was dat die verdagtes vir ’n sogenaamde “eindtyd” voorberei het. Volgens hom was daar ’n wêreldkaart in die kelder opgeplak waarop alle aardbewings, vloede, oorloë en vulkaniese uitbarstings van die afgelope dekade en ’n half aangedui is.

Hy het byvoeg dat daar wel iets is waaroor hy en polisie kopkrap. In die groot vuurbestande kluis in die kelder was daar geen vuurwapens of geld nie. Net sewentien tuindwerge.

 

 


 

Lees Suzette Kotzé-Myburgh se keurverslag

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top