Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Eerste keurverslag van "Kopskuif"

  • 0

Kopskuif: Die eerste keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh

 


Daar is sommer baie wat in hierdie verhaal se guns tel. Die skryfstyl is goed, met lekker ironie, en die sosiale kommentaar is in die kol. Wat my die meeste beïndruk, is hoe goed jy die stem van die ek-verteller hanteer – behalwe hier en daar (waar ek veranderinge voorgestel het) kry Chamonique oortuigend lewe deur haar stem. Dis merkwaardig as ’n skrywer ’n storie boeiend kan hou sonder enige dialoog of noemenswaardige aksie.

Die verhaal het egter een groot swak plek: die ontknoping (die punt waarna die hele verhaal opbou). Ek neem aan dat jy ’n sprong wou maak na die makabere en groteske – daar is ’n duidelike oorgang van realisme na die fantastiese/onwaarskynlike. Maar daardie kop afkap voel soos ’n cop-out na ’n B-graad fliek in die gruwelgenre, die ene bloed en byvoeglike naamwoorde. Na my mening sal die verhaal baie beter wees as jy enduit by realisme hou.

Wat ek dus voorstel, is dat jy ’n heeltemal nuwe ontknoping en slot bedink. Dit hoef nie noodwendig iets met ’n “bang” te wees nie, maar vra jouself af wat die logiese en realistiese uiteinde van hierdie tipe karakter kan wees – in die werklikheid. Dit kan dalk met ’n man te doen hê, aangesien haar hunkering na ware liefde duidelik blyk. Of sy kan oud en eensaam terugkyk op haar lewe (sy had toe nie die moed om jonk-jonk te exit nie). Of jy kan haar jonk-jonk (die nou van die verhaal) laat exit – dit laat my dink aan iets wat een van Drum se verslaggewers blykbaar gesê het: “I’d rather die young and be a good-looking corpse.”

’n Nuwe ontknoping sal ook vra vir ’n nuwe titel, wat ’n jammerte is, want dis ’n goeie titel. Maar nou ja, such is life.

Klik hier vir nog terugvoer in PDF-formaat.


 

Lees die kortverhaal "Kopskuif"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top