Nuwe stemme 6
Saamgestel deur Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624082644
Nuwe stemme 6, saamgestel deur die bekroonde digters Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé, bevat gedigte deur 21 belowende Afrikaanse digterstemme. Sedert die eerste uitgawe van Nuwe stemme in 1997 vervul hierdie reeks bundels ’n belangrike rol in die Afrikaanse poësiewêreld, hoofsaaklik omdat dit aan aspirantdigters die geleentheid bied om te debuteer alvorens hulle ’n eie bundel produseer. Heelwat gevestigde digters, onder meer Ronelda Kamfer, Loftus Marais, Gilbert Gibson, Kirby van der Merwe, Tom Dreyer en Slippers self, het eens in ’n uitgawe van Nuwe stemme ’n spreekwoordelike voet in die literêre deur gekry. Selfs digters wat nog nie ’n selfstandige bundel geproduseer het nie, het deur Nuwe stemme ’n tree nader aan die kanon gegee, soos blyk uit die opname van gedigte deur byvoorbeeld Eckardt Cloete, Tertius Kapp en Erns Grundling uit Nuwe stemme-bundels in die mees onlangse uitgawe van Groot verseboek.
Hoofstroompublikasie is natuurlik deesdae nie die enigste roete wat ’n aspirantdigter kan volg om vir hom- of haarself naam te maak nie. Gegewe die rol van die internet – veral sosiale media – en die vervaging van grense tussen byvoorbeeld die Afrikaanse poësie- en musiekwêreld, kan die publikasie in ’n bundel lank nie meer beskou word as die enigste roete na digterlike uitdrukking en prominensie nie; die Afrikaanse poësie is deesdae ewe veel op die planke as op papier. Dit gesê, speel ’n publikasie soos Nuwe stemme steeds ’n noemenswaardige rol in die boekstawing van stemme en van die tydsgees.
Die grootste belang van Nuwe stemme – en dan ook hierdie sesde uitgawe – lê juis by hoe die zeitgeist daardeur vasgevang word: dit ontbloot die vraagstukke, sorge, aspirasies en vreugdes wat aan die oomblik gekoppel is. Dit mag wees dat die 21 digters hierin vervat uit verskillende generasies en uit verskillende geografiese en kulturele agtergronde kom, maar soos Charl-Pierre Naudé tereg in sy voorwoord noem, het hulle “die gedeelde politieke lot van menswees, liefhê, samekoms en verlatenheid, en Suid-Afrika” met mekaar gemeen. Op die kruispunt van gemeenskaplikheid en verskil vind ons in Nuwe stemme 6 dan juis ook die manifestasie van temas wat spreek van hierdie gemeenskaplikheid en verskil, en dít is wat ’n publikasie soos hierdie van waarde maak – bo en behalwe dat dit aan ontluikende digters ’n hupstoot en erkenning gee.
Die tydsgees wat tot uiting kom in Nuwe stemme 6 is een wat gekenmerk word deur onder andere “vry in die aanlynbondel” (Angie Gallagher) wees, waar Imizama Yethu brand terwyl “R70-cocktails in Victoriastraat vloei” (Annami Mailovich), waar daar in ’n soeke na sin op verskeie wyses met die vorige generasie in gesprek getree word (oa Anton Döckel, Ryan Pedro, Churchil Naudé), terwyl die steeds blywende nalatenskap van die verlede onder die loep kom: “ennie aremes bly arm wan the rich are living weller/ die ytverkorenes kyk nog neer op onse velle” (Churchil Naudé). Dis ’n tyd waar daar kommentaar oor ’n skaalmodel van ’n klitoris op die internet gelewer word (Donnay Torr), waar Lady Gaga, Darth Vader, Grey’s Anatomy, S & M en homo naledi gemaklik naas mekaar neerslag vind in Afrikaanse gedigte (Marcel Spaumer, Franco Colin), en daar gereken word: “[A]s iemand oor ’n honderd jaar ’n foto/ van ons moet sien sal hulle geen idee hê waarmee ons besig is nie” (Elodi Troskie).
En terwyl die – soms verwarrende – tydsgees vasgevang word, is daar ook geen gebrek aan diep persoonlike temas daarin vervleg nie. Die soeke na sin in die hedendaagse tydvak hou ook ’n verband met die soeke na die self, die persoonlike dog universele worsteling met verdriet, verlies en verganklikheid. Aan waarnemings van die werklikheid en menswees is daar geen gebrek in hierdie versameling verse nie. Om die openingsreël van een van Jaco van der Merwe se gedigte hier aan te haal: “Dis nou maar die ding, hierdie sterflikheidsvibe.”
Ook is Nuwe stemme 6 terselfdertyd openbarend van die nuwe neigings in die Afrikaanse poësie en ’n belangrike aanduider van waarheen ons beweeg in terme van spesifiek die rol en gebruik van die Afrikaanse taal in poësie en in die letterkunde oor die algemeen. Medesamesteller Naudé meld in sy voorwoord dat die debutante uit verskillende dele van die land se demografie van Afrikaansgebruikers kom, en ek is dit met hom eens dat dit hierdie versameling “op ’n dwingende wyse” op sigself interessant maak, omdat dit ’n demografie is wat in beweging en skommeling verkeer. Die gemeensaamheid en verskil vind nie slegs in die tematiek uiting nie, maar ook in die maniere waarop die Afrikaanse taal ingespan word. Só dui die opname van verse deur Yabadaka Shamah, en veral die vers “Voorgee”, byvoorbeeld op die ontsluiting van nuwe moontlikhede in Afrikaanse poësie wat onbegrens is deur vooropgestelde, uitgediende idees omtrent die taal, terwyl dit ewe sprekend van sowel die verlede as die huidige tydsgees is, en van die behoefte aan die opheffing van grense op sigself:
ek moet bietjie Afrikaans
skryf die gedigte uitlei in
regtigheid alhoe dis nie
my taal ek kan dit praat
om die mense vry te laat
wees gedig moet rym so
gaan die ou gedagte
maar hoe moet ons sê
ons wil nie onderhewig
aan druk wees dis hoekom
ons sê dit in Afrikaans net
om te sê asseblief
laat los die mense so
dat hulle kan dink en besluit
hoe om te lewe en wat
om te eet, drink, rook en waar
om te gaan, dis al.
Soos eerder genoem, is die grense tussen (formele gedrukte) Afrikaanse poësie en ander verwante digterlike uitdrukkings aan ’t vervaag. In Nuwe stemme 4 (2010) was daar byvoorbeeld die opname van Hunter Kennedy se Fokofpolisiekar-lirieke, en in Nuwe stemme 6 sien ons die opname van die werk van die vername rappers Churchil Naudé en Jaco van der Merwe (die stem van die elektrorapgroep Bittereinder). Ofskoon dit nie noodwendig suiwer raplirieke is wat hier opgeneem is nie, is die insluiting van hierdie twee stemme sprekend van die evolusie van die Afrikaanse digkuns. Miskien verwoord Naudé my argument rakende hierdie grensvervaging en -verskuiwing juis die beste in sy treffende vers “knip sy vlerke”, waar hy onder meer sê:
jy smaak pen op papier sit
maar gelukkig bemoei ek my nie met mense wat
geboei is nie.
In die hip-hop-wêreld word daar dikwels verwys na sogenaamde old school-rappers as conscious (“bewus”). Soos dit dan ook ’n conscious hip-hopper betaam, is Churchil Naudé se verse bytend bewus en verteenwoordigend van sy milieu. Ook is dit verteenwoordigend van sý taal, onbegrens en onbeskaamd, met ’n gawe dosis uitdaging – en steeds pynlik self-bewus. Om nogeens uit die kragtige “knip sy vlerke” hier aan te haal:
my woorde val soms ver van die boom soos ’n kuiken
wat probeer vlieg
voorwaar voorwaar sê ek vir julle
julle wat met soveel dig in julle se kop in rondloop
julle sal julle se moer nog sien
julle wat rondloop met ink op julle se hande
ek wonner watse klank maak ’n woord as hy uit ’n
woordeboek val
dis seker dieselfde soos wanneer duiwe probeer huil
julle wie so vrylik dig
wie gaan dit skoonmaak as niemand dit wil lees nie.
Terwyl Jaco Van der Merwe ook bekend is as (bewuste) rapper, is die gedigte wat hier van hom gebundel is, nie sy raplirieke nie. Van der Merwe se vernuwende “fotogedigte” tree in gesprek met foto’s deur Wikus de Wet – of gebruik hierdie foto’s as wegspringpunt – en is geensins vormvas nie, maar eerder byna in paragraafvorm geskryf deur gebruik te maak van die bewussynstroomtegniek met meervoudige vlymende gedagtes en verrassende beelde daarin vervleg, soos die volgende vers wat hy langs ’n sombere foto van ’n begraafplaas op ’n koppie plaas:
Ek is banger vir wat binne is. Ons luister na ontploffings in die lug, en ons verf selfportrette sommer so bo-oor die stokmannetjies van mense wat voor ons in hierdie rotse uitgefigure het wat familie is. Eeue van nou af, as hierdie hopies geverfde baksteen dalk nog die landskap besmet en daar nog iets soos mense is wat soms kan stil word en luister, sal hulle ons stemme hoor in die gang in die aand in die kombuis in die kamers vir sit en slaap en bad en eet en leef en son, sal hulle glo wat ons alles vir mekaar gesê het? Die slinger sny ’n ronde rooi boog en ontbeen elke teenargument sonder om terug te kyk. Wat binne is: oog vir oog, tand vir land, kruis vir bloed, ink vir jok, bid vir reën, koeël vir boer, noot vir noot, tyd vir saai, tyd vir maai, ons vir jou.
Enige skrywer, hetsy van gedigte, prosa of lirieke, moet vaardig kan navigeer tussen showing (om te wys) en telling (om te vertel). In hierdie verband word raad wat toegeskryf word aan Anton Tsjechof dikwels aangehaal: “Don’t tell me the moon is shining; show me the glint of light on broken glass.” Benede die wankelende wipbrug tussen wys en vertel lê daar vir skrywers ’n diep slaggat, en in daardie gat floreer loutere snert. Dit is in die stinkvrot skadu’s van dié slaggat dat groentjiedigters dikwels vasval. In Nuwe stemme 6 is daar – soos die verse hier bo aandui – veelvoudige voorbeelde van waar die digters genadiglik hierdie slaggat ontduik, wat ook dui op die knap begeleiding en keuses van die samestellers.
Ryan Pedro se verse, en veral die vyfdelige “by die barbershop” (ongelukkig te lank om hier aan te haal) dien veral as voorbeeld van hoe ’n digter dit regkry om oënskynlik moeiteloos te balanseer op die wankelbrug tussen wys en vertel – in sy vertelverse wýs hy. Só maak Pedro hier ’n besonder sterk debuut. Waar Loftus Marais destyds die digter as rockster ondersoek het, bepeins Pedro terloops in een van sy verse die moontlikheid “as kanye ’n digter was”. Só tree die ontluikende digters ook in gesprek met hul voorgangers, ’n proses wat dui sowel op huldiging as op opkomende digters se mededinging om agentskap in die literêre wêreld.
Wat veral opvallend is van die verse in Nuwe stemme 6, is die rol wat die voorstelling van plek speel in die digters se poging om sin te maak van die wêreld en die tydvak, met die digters wat tussen stad, voorstad en plaas, en tussen plaaslik en internasionaal beweeg: Angie Gallagher se openingsverse vang byvoorbeeld die voorstad vas, Annami Mailovich die Kaap en Elodi Troskie die studentedorp Stellenbosch. Elna van Niekerk se “Reisverhaal” is as ’t ware ’n roadtrip wat gedig word. Johan Jack Smith se verse wat die alledaagsheid en die verval, maar ook die nostalgie van die Noord-Vrystaatse milieu as sterk simbool inspan ten einde aan die temas van verhoudings, verganklikheid en verlatenheid in sy verse gestalte te gee, staan in hierdie verband veral helder uit.
Nuwe stemme 6 slaag daarin om ’n paar sterk stemme klokhelder te laat opklink – sommiges sterker as ander – en soos met vorige uitgawes van Nuwe stemme speel die publikasie daarvan nie net ’n rol in die bewaring en ontwikkeling van hierdie stemme nie, maar spreek dit ook van diversiteit, durf en bowenal belofte onder ontluikende Afrikaanse digters.
- Annie Klopper is ’n skrywer, digter, dosent en taalpraktisyn.