
Foto: Canva.com
Nuwe mens
Sal U ons sowaar aanvaar
Met ons halfwit, halfswart vel
Wie is ons dat U aan ons dink
Dronkaards wat nie die koninkryk sal beërwe
Het U ons ook gevorm, gemaak
In ons Khoisanmoederskoot,
Buik van die slavin
Was geen been van ons vir U verborge
Uit dieselfde Afrika-stof voortgebring
Ons gemengde weefsel aanmekaar geweef
Aan U handewerk is daar geen twyfel
Maar húlle het getwyfel toe húlle kyk
Deur blou oë wat Ú hulle gegee het
Maak hulle ons ’n nuwe mens
Kloof hulle ons halfkroes, halfreguit hare
Met onuitwisbare potloodmerker
En gee ons ’n nuwe naam: kleurling

