Nuwe krimidrama, Die oord, ontgin sonskyn-noir

  • 0

Waldimar Pelser, kanaalhoof: Premium-kanale, MultiChoice, ’n Canal+-maatskappy, vertel meer oor die reeks.

Die oord, ’n nuwe dramareeks van 10 episodes, het op 14 April op kykNET begin.

’n Vakansiedorp aan die kus. Families wat al vir geslagte by dieselfde karavaanpark uitspan. Kinders wat op die strand speel. Braaivleis onder die bome. Alles is idillies – tot daar ’n lyk op die strand uitspoel.

Martie Pretorius (Jana Kruger) ’n kriminoloog wat vir die eerste keer in jare met vakansie gaan. Haar seun, Paul (Liam Bosman), is op universiteit, en hulle sien mekaar min. Martie is oortuig hierdie vakansie by die Seerust-kampeerterrein in die fiktiewe Kalfiebaai by haar suster, Elsabé (Erica Wessels), en haar gesin kan vir hulle net goed wees.

Die vakansie ontaard egter wanneer ’n tienerseun se liggaam op die strand gevind word. Skielik is almal ’n verdagte.

Brandi Jacobs (Melissa de Vries) van die plaaslike polisie dink dit is die bendes van die Kaap wat hulle kloue in die klein gemeenskap begin inslaan, maar Martie het ’n ander teorie. Die wonde. Die plastieksak. Die Bybelvers. Sy het dit al gesien. Vyftien jaar gelede. ’n Reeksmoordenaar wat Prediker heet.

Martie word teen haar sin in die ondersoek ingetrek terwyl sy probeer om ’n verpletterende geheim vir haar seun, Paul, weg te steek.

“Die idee vir Die oord broei al lank in my,” sê die veelbekroonde Christiaan Olwagen, skepper van die reeks, wat die draaiboeke saam met Lorraine Burger en Igna Botha geskryf het. “Toe ek ’n kind was, het my ma ons elke Desember Swartvlei-karavaanpark toe gesleep – see toe. ’n Karavaanpark het sy eie ekologie: klein hiërargieë, ongeskrewe reëls, bondgenootskappe en wrywing wat oor dae opbou.

“Dit het vir my gevoel soos die perfekte locked room-ruimte vir ’n moordreeks: ’n afgeleë plek, ’n klomp mense wat mekaar nie kan vryspring nie, en dan ’n skok wat alles laat ontspoor. Ek wou delf in herkenbare tipes en my emosionele geheue van daardie wêreld; ’n soort gedeelde erfenis.”

Die eerste vertoning by die KKNK.

Die eerste episode is by die 30ste KKNK in ’n kampeerterrein vertoon. Daar was boereworsrolle en springmielies om in die buitelug te geniet. Regte outydse inry. Waldimar Pelser, kanaalhoof: Premium-kanale, MultiChoice, ’n Canal+-maatskappy, het met die vervaardiger, Roelof Storm van Wolflight Films, gesels. Wolflight was ook vir die Safta-benoemde dramareeks Niggies verantwoordelik.

Roelof sê die storie het eintlik al in Christiaan se kinderdae sy ontstaan gekry. “Dis basies hoe jy jou kinderdae-onthou met ’n moordraaisel verweef.”

Die reeks kyk onder meer na of ’n moordenaar gebore word of een word. Dit kyk na wat boosheid is. Jana sê die waarheid is eintlik ’n aparte karakter in die reeks. Dit hoef sigself nie aan enigiemand te verduidelik nie en elkeen se idee van die waarheid verskil,

Eva du Preez

Die regisseur is Eva du Preez, en die reeks speel af op die fiktiewe Kalfiebaai, maar die verfilming het in en om die Kaapse Skiereiland, van Kommetjie tot Melkbosstrand, asook in die noordelike voorstede van Kaapstad, geskied.

Vrae aan Eva: Hierdie reeks neig sterk na Nordiese noir waarvoor ons Suid-Afrikaners so lief geword het. (Nordiese noir word gekenmerk deur somber, donker en swaar atmosfere met stadige storievertelling, wat dikwels komplekse polisiespeurders en sosiale kritiek beklemtoon wat die beeld van ’n perfekte Nordiese samelewing verpletter.)

Die reeks het inderdaad te make met Skandinawiese noir, maar ons doen dit in Suid-Afrika, onder die ongenaakbare son in ’n sonskynland. Christiaan praat van “sonskyn-noir” – jy kan nie wegkruip nie. Daar is geen skaduwees nie. Jy het nie die donker elemente van die Skadinawiese elemente nie; alles is in die lig.

En om daardie verhouding met die waarheid – alles wat jy sien en nie sien nie – uit te beeld met ’n baie spesifieke bedoeling in die Suid-Afrikaanse konteks het amper ’n nuwe tuiste gevind vir noir – in die son.

Hoe verskil die beste Suid-Afrikaanse krimi’s van Skandinawiese reekse?

Die verhouding tussen die mis en die verskansing en die skuil en wat jy alles gedwing word om te sien omdat jy nie kan wegkruip nie, is die grooste verskil. Ons het egter baie geleen by die genre en dit was ons doel met die reeks.

In tradisionele Nordiese noir word skaduwees en duisternis gebruik om geheime te verberg. As daar in Kalfiebaai “geen skaduwees” is nie en alles in die skerp lig afspeel, hoe het julle visueel te werk gegaan om die gevoel van onveiligheid en die “onkenbare” waarheid oor te dra?

Visueel beteken dit dat die reeks spanning moes skep sonder die tradisionele noir-instrumente van nag, reën en swaar skadu’s. In plaas daarvan word die helder kuslig amper aggressief gebruik – die son ontbloot mense fisiek, maar emosioneel en moreel bly hulle ondeursigtig. Die kamera wys dus baie “oop” ruimtes: strande, kampeerterreine, see-uitsigte en helder lug, maar die komposisie plaas karakters dikwels geïsoleer binne daardie oopheid. Die gevoel word: Niks word weggesteek nie, en tog verstaan jy nooit heeltemal wat aangaan nie.

Ons sny tussen twee uiterstes – wye skote wat wys hoe klein, hoe gevange die karakters is – die oord as ’n eiland omring deur see, berge, geen ontsnapping. Dan skielik so naby dat jy die sweet, die vrees, die leuen in hulle oë kan sien. Geen middeweg nie. Jy’s óf te ver om te help, óf te naby om te ontsnap.

Dit is uiteindelik wat vir my sonskynnoir so ontwrigtend maak: die idee dat helderheid nie noodwendig duidelikheid bring nie. Die lig wys vir jou alles – en tog bly die belangrikste dinge net buite bereik.

In die tradisionele genre is die donker ’n skuilplek. In sonskynnoir word die lig self ’n bron van angs. Die onheil gebeur nie in ’n donker hoekie nie, maar op ’n oop strand waar kinders speel. Die misdaad is des te meer skokkend omdat dit die idilliese, helder werklikheid skend. Hoe het jy by hierdie genre uitgekom?

Die reeks balanseer die warmte van ’n familievakansie met die koue realiteit van moord, die nostalgie van ’n Desember by die see met die paranoia van ’n gemeenskap onder verdenking. Die Wes-Kaapse kus het ’n baie spesifieke kwaliteit lig – hard, oop, amper genadeloos helder. Toe begin die interessante vraag ontstaan: Wat gebeur as jy nie téén daardie lig werk nie, maar dit juis gebruik as die bron van spanning?

Daaruit het die idee van “sonskynnoir” ontwikkel. Die spanning lê nie daarin dat iets in die donker wegkruip nie, maar dat geweld en geheimhouding plaasvind in ruimtes wat veronderstel is om veilig, bekend en selfs mooi te wees. ’n Oop strand, ’n vakansiedorp, kinders wat speel, mense wat braai – daardie herkenbare Suid-Afrikaanse idille maak die onheil eintlik meer ontstellend. Die kontras tussen die omgewing en wat emosioneel onder die oppervlak broei, word dan die noir-element.

Wat bewonder jy aan Nordiese noir en wat het jy daaruit geleen om hierdie reeks diepte te gee?

Dat die misdaad nooit net oor die misdaad gaan nie. Die moord of verdwyning is eintlik ’n ingang na iets groter: skuld, sosiale vervreemding, familiedrama, klas, trauma, die spanning tussen individu en gemeenskap. Reekse soos The killing, The bridge en Trapped gebruik speurwerk amper as ’n manier om ’n samelewing oop te sny. Dít was vir ons baie inspirerend. Nordiese noir is nie bang vir stilte, ongemak of ambivalensie nie. Karakters word nie vinnig “verklaar” nie; mense bly kompleks en soms selfs teenstrydig. Ons wou dieselfde benadering hê in Die oord – dat karakters nooit net slagoffers of skuldiges is nie, maar mense met geskiedenisse, wonde en selfmisleiding.

Maar terselfdertyd wou ons nie bloot Nordiese noir naboots nie. Suid-Afrika het sy eie ritme, geskiedenis en spanninge. Die gemeenskapsdinamiek, die bekendheid met geweld, die manier waarop mense mekaar dophou in klein dorpe – dit alles gee aan Die oord ’n ander energie. Nordiese noir was dus minder ’n templaat en meer ’n vertrekpunt: Ons het die psigologiese diepte, morele kompleksiteit en atmosferiese benadering geleen, maar dit in ’n baie plaaslike lig geplaas.

Nordiese noir lewer dikwels kommentaar op die krake in die “perfekte” Nordiese welsynstaat. Sonskynnoir in Suid-Afrika plaas die kollig op ’n reeds onvolmaakte samelewing. Watter boodskap wil jy daarmee bring?

Met sonskynnoir wou ons kyk na die maniere waarop mense normaliseer wat eintlik ontstellend is. In klein kusdorpe – soos in baie gemeenskappe – bestaan daar dikwels ’n stil ooreenkoms om die oppervlak mooi en rustig te hou. Toerisme, nostalgie, die idee van ’n veilige dorpie, die droom van ontsnapping … al hierdie dinge word deel van ’n identiteit wat mense wil beskerm. Maar onder daardie oppervlak lê trauma, magsverhoudings, geweld, verswygings en historiese wonde wat nooit regtig verdwyn het nie.

Sonskynnoir wat alles belig – die waarheid is steeds moeilik om te sien, omdat die lig te fel is. Dit dwing die karakters (en die kyker) om verby die blink oppervlak van die vakansieparadys te kyk na die letsels daaronder. Hoe het jy daardie donker idees vereenselwig met jou sorgelose kinderdaeherinneringe?

Dit was eintlik die emosionele vertrekpunt van die reeks: die besef dat baie van ons mooiste kinderdaeherinneringe later ’n ander kleur kry wanneer ons as volwassenes terugkyk. ’n Plek wat eens veilig, sorgeloos en amper magies gevoel het, begin dan ook die stilte, spanning of dinge wat ons nie destyds verstaan het nie, dra. Daardie spanning tussen nostalgie en onrus het ons probeer vasvang. Ons wou hê Kalfiebaai moet eg voel soos ’n plek waarvoor mense heimwee het – nie ’n sinistere plek van die begin af nie. Want die skok werk juis sterker as die wêreld aanvanklik bekend en warm voel. Die kyker moet amper verlang om daar te wees voordat hulle begin besef iets is skeef.

Sonskynnoir is ’n herdefinisie van hoe ons boosheid ervaar. Dit suggereer dat die ergste dinge nie in die geheim van die nag gebeur nie, maar reg voor ons oë, terwyl ons dink ons is veilig in die lig. Watter toekoms sien jy vir hierdie genre in Suid-Afrika en elders in sonskynlande?

Ek dink sonskynnoir het groot potensiaal, juis omdat dit iets vasvang van die moderne wêreld se ongemak: Ons leef in ’n tyd waarin baie min werklik versteek is, en tog voel waarheid al hoe moeiliker om vas te pen. Die idee dat boosheid in donker stegies skuil, voel amper te eenvoudig vir die wêreld waarin ons nou leef. Vandag gebeur ontstellende dinge dikwels in volkome gewone ruimtes – voorstedelike strate, vakansieoorde, skole, families, openbare ruimtes – terwyl almal aanhou maak asof alles normaal is.

In Suid-Afrika voel die genre besonder natuurlik, omdat ons landskappe reeds vol kontras is. Ons leef met intense skoonheid naas intense spanning. ’n Strand, ’n wynplaas, ’n kusdorpie of wildreservaat kan tegelykertyd paradys én plek van trauma wees. Ek dink ons gaan ook meer stories sien waar klimaat en omgewing deel van die spanning word. In sonskynlande is hitte, droogte, wind, stof en oop ruimtes emosioneel baie kragtig op kamera. Anders as die ingeslote donkerte van klassieke noir skep hierdie wêreld ’n soort blootgestelde angs – karakters voel klein, sigbaar en kwesbaar.

Dit werk nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in plekke soos Australië, Spanje, Meksiko, Griekeland en dele van die Amerikaanse Suide, waar lig en landskap ’n amper hallusinerende kwaliteit kan hê. Wat my opgewonde maak, is dat sonskynnoir nie net ’n estetika is nie; dit verander die morele gevoel van die storie. Die genre vra: Hoe leef mense saam met geweld, wat reeds deel van die landskap geword het? Hoe hou gemeenskappe aan funksioneer terwyl almal weet iets is verkeerd? En hoe beïnvloed nostalgie, toerisme, familie en die idee van “paradys” ons vermoë om gevaar raak te sien?

Die teks is ’n wipplank – jy word die hele tyd om die bos gelei en sal tot die einde moet wag om te sien hoe dinge ontvou.

  • Die oord se eerste episode is op 14 April op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Meer oor die karakters en spelers:

  • Martie Pretorius (Jana Kruger) is ’n kriminoloog en haar seun, Paul (Liam Bosman), is ’n student.
  • Die Cilliers’s is Elsabé (Erica Wessels), Drikus (Laudo Liebenberg) en hul seun, Stefan (Heinrich Wentzel). Martie en Elsabé is susters.
  • Brandi Jacobus (Melissa de Vries) en Stoffel Cupido (Clayton Evertson) is verbonde aan die SAPD. Brandi se oom, Eddie (Zane Meas), is hoof van die SAPD-stasie op Kalfiebaai.
  • Die Groenewalds, wat ook al jare by Seerust-kampeerterrein vakansie hou, is Juanita (Amalia Uys) en Braam (Zak Hendrikz) en hulle twee kinders, Joshua (Angelo Johnson) en Marioli (Luandri Reynders).
  • Lukas du Preez (Jacques Bessenger) is ’n wewenaar-predikant wat op Kalfiebaai saam met sy dogter, Mia (Minke Marais), woon.
  • Miems Louw (Nicole Holm) is die eienaar van die winkel by Seerust-kampeerterrein en het twee kinders, Jacomien (Christie van Niekerk) en JP (Damian de Villiers).
  • Hester Bruwer (Antoinette Kellermann) is die burgemeester van Kalfiebaai. Haar man is Thys (Chris van Niekerk).
  • Witblits (Carel Nel) is die dorp se hawelose wat oë en ore oral het.

Foto’s deur Clifford Roberts / Canon R6

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top