Nuwe jaar

  • 0

Foto: Canva

Nuwe jaar

Met ou skoene stap ek die nuwe jaar in,
klere wat wys hoe tye my laat rek en krimp.
Kajuitliggies skyn op wyle myle en bande verklap die pad.
Die ekstra kreukel in die spieël gaan meer moed vat.

Hoe lyk voorspoed vir ’n nuwe jaar,
as als waarmee ek begin moeër en ouer is as gister?
Kan dowwe oë regtig die blink belofte sien, of
dowe ore die gelag hoor van kinders wat uitsien?

Al die doemprofete lyk tevrede, hulle het mos gesê,
die boom-bedonsdes ekstaties, die aarde leef vir nog ’n jaar.
Profete preek harder en staan al hoër, kan iemand die hoop hoor?
Blykbaar het net die rekeningafdeling nie my adres verloor.

Hoe lyk voorspoed vir ’n nuwe jaar,
as als waarmee ek begin moeër en ouer is as gister?
Kan dowwe oë regtig die blink belofte sien, of
dowe ore die gelag hoor van kinders wat uitsien?

Soos die son op die eerste dag tog weer onder gaan
draai ek om en laat my witvlag sak.
Daar is geen teken dat die gety gaan draai
in môre se gedruis moet ek verhoudings paai.

Hoe lyk voorspoed vir ’n nuwe jaar,
as als waarmee ek begin moeër en ouer is as gister?
Kan dowwe oë regtig die blink belofte sien, of
dowe ore die gelag hoor van kinders wat uitsien?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.

Top