Nuwe e-boek: Kruitvat

  • 0

Die jong koerantbaas op Phalaborwa, Adriaan Ferreira, het baie hooi op sy vurk. Hy het aanvanklik gedink sy koerant, Bosveldnuus, gaan ’n rustige lewe tot gevolg hê, want hoe moeilik kan dit nou wees om oor sportbyeenkomste en troues te skryf? Maar dié amateur-joernalis sit die pot heeltemal mis. Eers word ’n swart meisie noodlottig in ’n tref-en-trap-ongeluk beseer en daarna volg ’n grusame moord. Twee uiteenlopende gebeure, wil dit voorkom, maar die gerugte op die dorp vertel ’n ander storie. En die gemoedere loop hoog. Gooi by hierdie onstabiele situasie erg konserwatief-Christelike sienings, ’n Portugees wat met wapens smokkel, ’n verhouding met die verkeerde vrou en ’n vriend uit Adriaan se verlede wat ou spoke opjaag, en jy het ’n kruitvat wat wag om te ontplof. Adriaan sit dalk op die grootste – maar ook die gevaarlikste – storie van sy kort joernalistieke lewe. En hy is beslis nie toegerus vir dié een nie. Wat jy sien, is nie altyd wat jy kry nie.

Henning J van Vuuren het ná skool aan die Universiteit van Pretoria in die regte studeer. Daarna sluit hy hom by die Suid-Afrikaanse Polisie aan, waar hy ’n offisier word. Hy bekwaam hom later as prokureur, maar sy passie vir skryf laat hom ’n kursus in Kreatiewe Skryfkuns en Joernalistiek loop. Hy het ook as joernalis vir die Laevelder in Nelspruit gewerk. Etlike kortverhale uit sy pen, in Afrikaans sowel as Engels, is op LitNet gepubliseer, en hy was in 2009/2010 een van die top-vyf in Tafelberg/Sanlam se Jeugromankompetisie.

Kruitvat word deur e-Boeke vir Afrika uitgegee. Klik hier om die e-boek by Amazon te koop.

LitNet het drie eksemplare van Kruitvat om weg te gee.  Klik hier vir inligting.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top