Nuwe boeke by NB-Uitgewers

  • 1

Nuut by NB-Uitgewers:
Wolf, wolf, Die AA tot OE van SEKS, Rooiland, As die wind kom draai, Huisgenoot Top 500 Wenresepte 2 en ’n Ander mens

Klik op ’n boekomslag en bestel hierdie boeke nou by Kalahari.com!


Uitgewer:

Tafelberg
ISBN:
978-0-624-05499-3
e-ISBN:
978-0-624-05500-6

Wolf, wolf
Eben Venter

Op die skerm van die kring-TV sien hy dit: twee skerp gepunte hondeore by die voorhek. ’n Wolfhond? Hy hou die knoppie in en tuur na die blougrys nagtoneel – en die buitengewoon groot hondekop wat hom stip aanstaar. Daar is iets aan die stil blik van die donker oë wat nie heeltemal reg lyk nie, en die oomblik dat die hees stem oor die luidspreker kom, weet Mattheüs wat dit is.
“Matt,” sê die hondebek, “dis ek. Maak oop asseblief.”

Mattheüs Duiker, seun van Benjamin Duiker, eertydse eienaar van Duiker’s Motors, maak die hek van die Kaapse herehuis oop vir sy minnaar Jack. Vermom soos ’n wolf dring Jack die intieme donkerte binne waar Matt wag dat sy pa doodgaan sodat sý lewe kan begin. Blinkoog oor die vooruitsigte sluip die twee jonges verby die studeerkamer waar die blinde ou man, deurdrenk van droewe verknogthede en donker vermoedens, sit en wag vir die voetval van die dood.

Eben Venter se roman is ’n diepsnydende ondersoek na die verhouding tussen pa en seun, na die ontreddering van ’n man wat bitter min uit die verlede kan neem om hom toe te rus vir ’n lewe in ’n snel veranderende bestel. Intens. Ontstellend. ’n Meesterlike ontrafeling van die dun lyn van gevoel – Venter aan die toppunt van sy vermoëns.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Wolf, wolf nou van Kalahari.net.


Uitgewer:

Tafelberg
ISBN:
978-0-624-05402-3
e-ISBN:
978-0-624-05403-0

Die AA tot OE van SEKS
Riette Rust

Hierdie boek sal letterlik die sluiers voor jou oë wegtrek en jou stap vir stap wys – ja, wys! – hoe jy die heel beste seks kan geniet. Dis ’n oopkop, kaalvuis en loslittige gids tot die mees ekstatiese orgasmes onder die son.

Jy leer onder meer:

  • Hoe om in voeling te kom met jou innerlike sekskat
  • Wat om te maak as hy wil, maar jy wil nie
  • Hoe om jou verbeelding aan die brand te kielie (of te piets)
  • Hoe om veel, véél waaghalsiger te wees.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Die AA tot OE van SEKS nou van Kalahari.net.

Uitgewer:
Tafelberg
ISBN:
978-0-624-06273-8
e-ISBN:
978-0-624-06274-5

Rooiland
Tertius Kapp

Hulle’t n bees gesteel by die wit man Rabie. Die bees se naam was Rooiland. Hulle’t vir Rooiland geslag en feesgevier. Hulle drink uit die horings: Kilikijan die bloed, Nongoloza die gal. Toe maak hulle n print van die wet op die vel. Op die vel van Rooiland. Daai’s die wet. En daai wet het even survive die dag toe die hemel en die aarde geskeur het – toe Kilikijan die klipwette stukkend gegooi het en die 27’s een pad geloop het en die 28’s n ander pad.

’n Tronksel. Vier gevangenes. ’n Vloeibare, ongevormde wêreld. ’n Ritueel van bloed en offergawes. ’n Alledaagse geval van tronkgeweld wolk uit tot ’n konflik oor dinge wat van universele belang is.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Rooiland nou van Kalahari.net.

Uitgewer:
Tafelberg
ISBN:
978-0-624-05746-8
 
e-ISBN:
978-0-624-05747-5

As die wind kom draai
Hans du Plessis

’n Mens is die storie wat jy van jouselfvertel.

Liefde is 'n wegholvuur, en die wind is so wispelturig soos mense. As die wind kom draai is Hans du Plessis se jongste historiese roman. Kan Vryheid, afstammeling van ’n slaaf, vir mooi Magriet Skuilhoek toe bring as dié bergland haar só beklem? Buitendien, sê haar ma: Vryheid is nie een van ons nie, dis tog wat Artikel Ses van die Burgerraad se Drie en Dertig Artikels eintlik sê. Hoe durf ’n basterkind soos Vryheid daarteen baklei, een wat nie eers weet wie sy pa was nie? En hoe lê jy liefhê uit?

"Artikel Vier en dertig," skree Margriet oor die osse se koppe, sodat haar pa verskrik omkyk: "Die wet van Mooidorp: jy mag nie liefhê nie!"

Klik hier en koop As die wind kom draai nou van Kalahari.net.

Uitgewer:
Human & Rousseau
ISBN:
978-0-7981-5806-0
e-ISBN:
978-0-7981-5638-7

Huisgenoot Top 500 Wenresepte 2
Carmen Niehaus

Dit is die tweede bundel in die suksesvolle Huisgenoot Top 500 Wenresepte reeks, en bevat die beste resepte uit die Huisgenoot-kombuis van die afgelope sewe jaar.

Met sy amper 600 resepte het dié nuwe Top 500 sestig bladsye meer as die vorige bundel.  Die toevoeging van variasies en wenke verhoog ook die waarde van die boek.

Met 15 hoofstukke wat soet- en souttert, vis en seekos, vleisgeregte en pasteie, asook nageregte en koeke insluit. Gunstelinge soos Wildspastei, Roosterkoekhamburgers, Kaapse kerrie en Goumet-paella laat die mond water. Vir die soettand is daar Rooifluweel-kaaskoek, Baklava en die beste Wortelkoek ooit.

Al die resepte is getoets deur die hoogs ervare Huisgenoot/YOU kosredaksie:  ’n flatervrye kook- en bak-ervaring is verseker.

Met ’n moderne uitleg en uitstekende foto’s is die boek ’n MOET vir elke Suid-Afrikaanse kombuis.

Klik hier en koop Huisgenoot Top 500 Wenresepte 2 nou van Kalahari.net.

Uitgewer:
Kwela Boeke
ISBN:
978-0-7957-0482-6
e-ISBN:
978-0-7957-0483-3

’n Ander mens
Zirk van den Berg

Polisievrou Erica van der Linde het die perfekte manier gevind om te verseker dat getuies in haar bewaring in die getuiebeskermingsprogram in Kaapstad versteek bly. Sy vermoor hulle. En wanneer die voormalige kriminele oorgaan van ’n lewe van misdaad na diè van versteekte staatsgetuies, is daar niemand wie vir hulle soek nie.

Maar sy’t nog nooit ’n getuie soos Daniel Enslin teëgekom nie.

“Skitterend, skerp en spannend! ’n Sterk, karaktergedrewe en ongewone spanningsverhaal.” – Karin Brynard

Klik hier en koop ’n Ander mens nou van Kalahari.net.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top