Afrikaanse Woordelys en Spelreëls 2017
Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns
Pharos
ISBN: 9781868902071
- Louise Viljoen het uit eie beweging haar indrukke van die AWS gestuur.
Die 11de uitgawe van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) verskyn ’n eeu nadat die eerste uitgawe gepubliseer is. As gesaghebbende normeringsbron vir Standaardafrikaans wat riglyne oor spelling en skryfwyses bied, is die AWS (2017) ’n onontbeerlike hulpbron vir oud en jonk wat Afrikaans praat en/of skryf. Hierdie gebruiksvriendelike naslaanwerk kan met gemak deur taalkundiges sowel as skoolkinders ingespan word.
Die AWS is omvattend herbewerk en sluit nuwe reëls oor trappe van vergelyking en leestekens in. Ekstra lyste bied leiding oor elemente in die periodieke tabel, landname met geldeenhede en ISO-kodes, asook plekname in die Ooste in. Nie net is daar ’n nuwe toevoeging oor die SI-stelsel ingesluit nie, maar skryfhulp oor Omgangsafrikaans en transliterasie is ook bygewerk. Bykomende hoofstukke bereël kwessies wat vantevore grys areas was en duidelike, vereenvoudigde reëls word voorgehou.
Die AWS beskik oor ’n woordelys wat meer as 34 000 woorde met meervoude en verledetydsvorme bevat. Nog bylaes sluit afkortings en simbole, buitelandse geografiese name en taalkundeterme in. Die taalreëls leer verder ook oor die los en vas skryf van woorde, die afbreek van woorde, afkortings, wisselvorme en skryftekens. Daar is ook afdelings wat handel oor vokale, konsonante en diftonge, meervoude, verkleinwoorde en verledetydsvorme. Die reëls rondom hoof- en kleinletters sowel as getalle, syfers en simbole word ook belig.
Die Taalkommissie het beslis daarin geslaag om reg te laat geskied aan die aanhaling uit die AWS (1917) wat op die nuwe AWS se agterblad gedruk is, naamlik: “Vanself dus wil ons sôre dat ons taal in ieder opsig tot sij reg kom.” Hierdie amptelike liggaam vir die standaardisering van Afrikaans wat verantwoordelik was vir die saamstel van die hulpbron, dra daartoe by dat die taal oorleef én voortleef met ’n parmantige huppel in haar stap en ’n uitdagende kyk in haar oë. Afrikaans is mooi en val lekker op die tong. Praat dit. Skryf dit.
- Louise Viljoen is ’n vryskutresensent en -taalversorger van Jeffreysbaai.
Kommentaar
Ja, Afrikaans is mooi maar daar is nie 'n huppel in haar stap nie omdat Afrikaans nie vroulik is nie.
Beste Johannes Comestor,
Miskien dink jy aan die biologiese. Ja, dan is Afrikaans nie vroulik nie. Miskien dink jy aan die taallesse op skool, toe jou onderwyser anglisismes uitgeroei het. 'n 'Ship' is 'her', en 'n knipmes, motorkar, ens. is 'hy' en 'hom'. Waaraan jy nie gedink het nie, is dat Afrikaans wel 'n huppel in haar stap kan hê, want dis 'n metaforiese beeld. Beter nog, dis 'n allegorie, soos J Lion Cachet (1838-1912) se gedig DIE AFRIKAANSE TAAL, wat jy hier kan kry: https://groups.google.com/forum/#!topic/soc.culture.south-africa.afrikaans/KlXjkkpN31Q
Groete,
Angus