Nuut by Tafelberg: Diensplig: Hoekom stotter ons pa’s so? deur Anelia Heese

  • 7

Diensplig: Hoekom stotter ons pa’s so? deur Anelia Heese (Beskikbaar: Tafelberg)

Diensplig: Hoekom stotter ons pa’s so?
Anelia Heese
Uitgewer: Tafelberg (2023)
ISBN: 9780624093985
Epub ISBN: 9780624093992

“Aan die einde van 12 weke se basiese opleiding moes al hierdie mans weet hoe om te skiet en baie moes bereid wees om dood te skiet.”

Anelia Heese hervertel die rou en soms skokkende stories van Suid-Afrikaanse mans wat in die 1970’s en 1980’s verplig is om weermagdiens te doen. In Diensplig praat van dié mans, baie van hulle vir die eerste keer, openhartig oor hul ervaringe. Sy gesels met die bekroonde joernalis Murray La Vita, die skrywer Deon Lamprecht, genl.maj. Roland de Vries en talle ander oor hulle ondervindings in die weermag.

Die meeste dienspligtiges was eintlik maar nog seuns toe hulle gedwing is om aan te tree en hul hare onseremonieel afgeskeer is.
Hulle praat hier eerlik oor onder meer die eerste kontak, die eerste keer toe iemand ’n makker verloor het, hoe sommige “terrie-ore” versamel het, oor patrollies in die townships, en die interne stryd wat dikwels agterna gevolg het.

Anelia vra soms ongemaklike vrae om haarself en ander — veral jonger — Suid-Afrikaners te help sin maak van diensplig en die nadraai daarvan.
Soos wie nou eintlik die vyand was, en wat dit beteken om jou land te dien ...

Klik hier vir nog inligting oor dié publikasie.

  • 7

Kommentaar

  • Ockie van Schalkwyk

    Duidelik geskryf deur iemand wat nooit 'daar' was nie! Alles op hoorsê. Ek weet nie van 'n enkele mede-makker in die grensoorlog wat spyt was hy het gegaan en gedien nie, dis nou die wat die integriteit gehad het om sy land te dien!

  • Om op instrukteursvlak te kom en skerpskutter te wees was 'n loopbaankeuse gewees in die SAW en nie deel van diensplig nie. Hy was nie gedwing om dit te doen nie, so dis nie "diensplig" wat sy lewe verwoes het nie.

  • Ek verstaan nie lekker hoekom mense hulleself slegs mag uitlaat oor sake wat hulle self deurleef het nie, Ockie. As dinge so werk, dan beter niemand my nooit weer van Liewe Jesus of Mohammed of die Boeddha vertel nie.

    Dan sien ek ook nie dat dit hier gaan oor enige 'spyt' nie. Dit is dokumentasies van mense se ervaringe en herinneringe. En mens maak 'n fout wanneer jy reken dat almal dink en sien dinge presies nes jyself. Daar is altyd ander perspektiewe op sake. Ek ken weer mense wat altyd 'n punt daarvan maak om almal te herinner dat 'die grens' hulle 'beste jare' gesteel het. Dit beteken nie alles was futiel nie. Baie mense het kosbare vaardighede geleer, lewenslange vriendskapsbande gesmee en ja ook hulle plig nagekom soos voorgeskryf deur die Afrikanernasionalisme. Baie ander is egter weer vir die res van hulle dae gestremd gelaat. Of dood. En mense vra tereg waarvoor het hulle oorlog gemaak het

    Diegene wat geweier het om te veg, was beslis ook nou nie integriteitsloos nie. Inteendeel.

  • Marthinus Willemse

    Daar moet nog baie geskryf en vertel word. [Van die beste boeke/flieks oor Viëtnam, bv, word nou eers geskryf; selfde met 2WO: bv Band of Brothers.]

    Een mite, is dat die oorlog net op die "grens" gebeur het. Dit was 'n totale aanslag, en die hele land was 'n gevegsone. Daar was gevegte op die grens tussen ons en Swaziland, of ons en Mosambiek. Duisende troepe was by basisse regoor die land ontplooi. En slegs 'n klein groepe soldate op die grens was in 'n kontak. Vir duisende was dit 'n vervelige tyd van rondsit en niksdoen, of bier drink.

    Sou mens kyk na die boeke geskryf, was die oorlog geveg deur die spesmagte. Wat van die seiners, die medics, die sappers, die tiffies? Elkeen het 'n belangrike bydrae gelewer. Dit was spanwerk. En Wouter Basson moes kalmeermiddels vir die recces maak, sodat hulle darem nie heeltemal uitfreak tydens 'n operasie nie. Ons gewone troepe het "Bob Martins" gekry, as yster-aanvulling.

    Ek was medies ongeskik vir diensplig, maar het geappelleer, en het toe as sappeur by 2 Veldgenieregiment in Bethlehem uitgeklaar. Twee van my neefs het geweier om dienslig te doen, en daar is wonderlike stories oor hoe hulle die MP's ontwyk het. Alhoewel ek dus "gevolunteer" het vir diensplig, erken ek die reg van jongmanne om nie diensplig te doen nie. Dan Roodt, bv het geweier, en het in Frankryk gaan studeer. Ek het meer respek vir iemand soos hy, wat openlik weier, as diegene wat nie eintlik wil diensplig doen nie, maar dan spog oor hul "wonderdade" langs die braaivleisvuur [ons het hulle GV's (gee vees) "grensvegters" genoem, as 'n beledigende term].

    My pa se broer, Paul, is in 1965 dood tydens diensplig; hy is deur sy eie offisiere "gedood" (ek het 'n artikel vir Volksblad daaroor geskryf). Sy broer Koos was 10 jaar later by Brug 14. Een van my neefs was "missing in action" vir maande, en toe hulle hom kry, het hulle hom net so, sonder enige "debriefing" by sy ouerhuis afgelaai. Dit was erg traumaties vir my oom en tannie.

    Daar is dus nog duisende verhale om te vertel, en iemand moet dit doen, al is dit iemand wat nie "daar was" nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top