
Basjan kry die verneukery nie uit sy sisteem nie. Thys Potgieter, sy wonderlike buurman vir twintig jaar, sweis op die buurdorp. Hy wik en weeg, besluit uiteindelik hy moet maak soos Dominee altoos preek, vir Thys eerder die verneukery wys, want wys is altyd beter.
Daarom bestel hy Thys vroegoggend sodat sy buurman alles wat gebeur eerstehands kan gadeslaan. En daar voor hulle oë gebeur die verneukery weer. Maar Thys se reaksie hierna spook vir maande lank by Basjan. Dis ’n oggend wat Basjan spoedig wens nooit gebeur het nie. Maar hoe hard hy ook al probeer om dié oggend ongedaan te maak, dis net nie moontlik nie. Dit bly knaag aan sy en Thys se siele, duik op om elke hoek en draai. En Basjan durf nie vir Dominee vertel op watse liederlike gemors sy gewysery uitgeloop het nie.
Basjan vat af en toe ’n sluk uit sy flessie vir sy kom-en-gaan-depressie.
Die flessie word sorgvuldig uit Blom se oog weggesteek. Dis in elk geval net ’n noodflessie.

