Nuusberig 1: Studentesimposium 2015, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein

  • 0
nuusberig1_studentesimposium2015

Foto verskaf

Lees ook:
Nuusberig 2: Studentesimposium in die Natuurwetenskappe by die Universiteit van die Vrystaat

Op 29 en 30 Oktober 2015 het die departemente chemie en fisika van die Universiteit van die Vrystaat die vyftiende jaarlikse Studentesimposium in die Natuurwetenskappe aangebied, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK). Hierdie simposium bied nagraadse studente van regoor Suid-Afrika die geleentheid om nie slegs hulle navorsing in Afrikaans aan te bied nie, maar ook om van mekaar te leer, deur die beoordelingsproses terugvoer oor hulle werk te ontvang en hulle netwerke uit te bou. Indien hulle opsommings vir publikasie in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie gekies word, verkry hulle daardeur verdere blootstelling in die breër akademiese konteks.

Buiten navorsing van hoogstaande gehalte, het vanjaar se simposium, soos in die verlede, ook nie ’n tekort aan taalkundige vindingrykheid gehad nie. Studente wat normaalweg hulle navorsing in Engels skryf en verwoord, het almal verstom met hulle pragtige Afrikaans.  Uitstaande wetenskaplike navorsing van honneurs-, meesters- en doktorale studente is verwoord in natuurwetenskaplike terminologie van hoogstaande gehalte. Die studentesimposium is die enigste geleentheid (wêreldwyd) waar die ontwikkeling van “elektrostatiese potensiaalkaarte”, “femtosekonde pomp-proef spektroskopie”, en “endokrien-ontwrigtende chemikalieë” stap vir stap verduidelik word. Dis hier waar entoesiastiese studente ons laat hoor en sien hoe hulle hard werk aan “geïntegreerde drywende sonkragstelsels” of “geneste virtuele rekenaars binne die wolkstelsel”. Die resultate van ure se harde werk in die laboratorium, koue nagte agter ’n teleskoop, of lang middernagsessies voor die rekenaar moes in kwartierlange voorleggings gekondenseer word tot die sintese van metaal-organiese netwerke, of metaalkarbeenkomplekse, die bepaling van die ritmes van pulsare, of die verfyning van oogvolgtegnologie.

Van die sowat 40 deelnemers vanaf vyf universiteite, is 18 met pryse vereer vir hulle voorleggings of referate en plakkate. Die Kovsiestudente het met ’n raps meer as die helfte van die pryse weggestap. Jacques Maritz (fisika) en sy vrou, Elizabeth (wiskunde en toegepaste wiskunde) van die UV het beide ’n eerste plek behaal in hulle onderskeie sessies. ’n Briljante student van die Universiteit Pretoria, Asmita Singh, het ’n tweede plek in haar sessie behaal, en daarby die Afriforum-prys vir ’n besondere bydrae deur ’n nie-moedertaalspreker van Afrikaans losgepraat.

As ’n unieke geleentheid vir Afrikaans as akademiese taal in die natuurwetenskappe, behoort dié studentesimposium op elke honneurs-, meesters- of doktorale student se kalender te wees, selfs al is Afrikaans hulle tweede of selfs derde taal. Nou sal ons ongelukkig eers weer ’n jaar moet wag voordat ons kan hoor hoe “fosformateriale” die wêreld gaan verlig, “relativistiese spuitstrale” die ruimte ingeslinger word en hoe molekules se gedrag voorspel kan word met “die digtheidsfunksionaalteorie”.

Ernie Langner

Senior Dosent: Fisiese Chemie

Universiteit van die Vrystaat

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top