“Novus actus interveniens”: Wat op aarde beteken dit in gewone Afrikaans?

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Vandeesweek iets oor die kousaliteitsvraag in die strafreg, wat beteken dat daar gekyk word na die hele vraag van oorsaak en gevolg. Eenvoudig gestel: om uit te maak wie vir 'n misdryf gestraf moet word, is dit nodig om vas te stel wie die resultaat bewerkstellig of veroorsaak het.

Een aand vroeg in 1984 is 'n sekere mev B in die slaapkamer van haar woonhuis op 'n plaas naby Victoriabaai in die distrik George deur 'n inbreker – ene Williams – oorval. Hy het op haar gevuur en haar nekslagaar en ‘n nabygeleë aar afgeskiet. Sy het baie bloed verloor en was spoedig bewusteloos. Haar moeder, wat by haar in die huis was, het hulp ontbied en sy is kort daarna in die hospitaal op George opgeneem. Daar is sy deur 'n sjirurg behandel wat onder meer 'n insnyding in haar lugpyp gedoen en 'n asemhalingspypie daar ingesit het. Hy het besluit om nie die bloedtoevoer na haar brein te probeer herstel nie, omdat so 'n prosedure lewensgevaarlik was. Hy het die beskadigde nekslagaar en nekaar afgebind in 'n poging om die bloeding te stop en die pasiënt se lewe te red. Daar was 'n moontlikheid dat sy sou kon oorleef soos mense soms ernstige beroerte-aanvalle oorleef.

Mev B is die volgende dag per vliegtuig na die Tygerberg-hospitaal in Bellville vervoer, waar sy aan 'n asemhalingsapparaat gekoppel is. 'n Breinskandering het getoon dat al die breinweefsels aan die linkerkant van haar brein dood was. Daar was geen teken van enige breinaktiwiteit nie en medies gesproke was sy toe al reeds dood, omdat haar breinstam dood was.

Die pasiënt se hart en longe is daarna nog vir 48 uur lank met behulp van die asemhalingsapparaat aan die gang gehou. Na 'n deeglike neurologiese ondersoek is besluit om die asemhalingsapparaat af te skakel. Tien minute later het mev B se hart gaan staan.

Haar aanvaller is intussen aangekeer en van moord aangekla. Hy is deur regter Vivier van die Kaapse hooggeregshof verhoor, skuldig bevind en ter dood veroordeel. Die hof het beslis dat die tydstip van dood aanbreek wanneer breinstamdood volgens mediese standaarde intree, en dat mev B regtens dood was voordat die asemhalingsapparaat ontkoppel is.

Williams het teen sy skuldigbevinding geappelleer en in September 1986 het die saak voor hoofregter Rabie en vier appèlregters gedien. Sy advokaat het aangevoer dat mev B nog geleef het toe die asemhalingsapparaat ontkoppel is, en dat hierdie ontkoppeling van die apparaat die eintlike oorsaak van haar dood was. Regsgeleerdes noem dit 'n novus actus interveniens – letterlik: 'n nuwe, tussenkomende handeling; met ander woorde, 'n gebeurtenis wat die kousale of oorsaaklikheidsketting juridies verbreek. Kortom, daar is geargumenteer dat die dokter wat die asemhalingsapparaat ontkoppel het, mev B se dood veroorsaak het, en nie haar oorspronklike aanvaller, Williams, nie.

In sy uitspraak van 30 September 19861 beslis hoofregter Rabie dat Williams mev B 'n wond toegedien het wat, as sy nie so gou mediese hulp ontvang het nie, spoedig haar dood sou veroorsaak het. Maar die skade was reeds gedaan en sy was breinstamdood. Die latere ontkoppeling van die asemhalingsapparaat kan nie gesien word as 'n handeling wat haar dood veroorsaak het nie; dit was bloot die beëindiging van 'n vrugtelose poging om die gevolge van Williams se optrede te probeer verhinder, het die hof beslis. Sy skuldigbevinding en doodsvonnis is dus bekragtig.

1     Vgl S v Williams  1986(4) SA 1188 (AA)

 

 

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top