In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor 'n saak tussen 'n bekende landwye konstruksiemaatskappy en die Administrateur van Transvaal.

'n Bekende landwye konstruksiemaatskappy, LTA Construction (deesdae bekend as LTA Grinaker Construction) het 'n kontrak gesluit met die destydse Transvaalse Provinsiale Administrasie (TPA) ingevolge waarvan LTA 'n waterreservoir en twee watertorings te Dobsonville in Soweto vir die provinsie opgerig het.
Ten tye van die uitvoering van die kontrakte het daar geskille ontstaan wat uiteindelik deur 'n arbiter besleg is.
Die arbiter se toekenning van Oktober 1987 behels dat die TPA beveel is om twee kapitaalbedrae aan LTA te betaal. Die eerste bedrag was R63 080,30, en dáárop is die Administrasie beveel om ook rente teen prima bankkoers aan LTA te betaal, bereken vanaf 30 Julie 1981. Omdat die arbiter sy toekenning eers in Oktober 1987 gelewer het, het dit beteken dat die Administrasie rente teen prima bankkoers oor 'n tydperk van meer as ses jaar moes betaal.
Die tweede kapitaalbedrag het R57 750 beloop, en daarop moes die Administrasie ook rente betaal teen prima bankkoers vir 'n tydperk van vier jaar.
So ongeveer twee maande na die arbiter se toekenning het die TPA uiteindelik aan LTA 'n betaling gemaak. Die betaling is soos volg saamgestel: die kapitaaltoekenning van R63 080,30 en rente daarop tot die maksimum van die kapitaal, naamlik R63 080,30, plus die tweede kapitaaltoekenning ten bedrae van R57 750 en rente daarop, ook ten bedrae van R57 750. Die Administrasie het dus in albei gevalle die rente beperk tot die bedrag van die kapitaal.
LTA was van mening dat daar nog 'n verdere bedrag van R80 000 aan rente verskuldig was en daarom het hulle 'n eis teen die Administrateur vir hierdie bedrag ingestel. Die saak het uiteindelik voor die appèlhof gedien en appèlregter Joubert het op 14 November 1991 sy interessante uitspraak gelewer. Die geskilpunt was of LTA daarop geregtig was om rente te verhaal van die Administrateur wat die twee kapitaalbedrae oorskry het.
Die Administrateur se saak was dat, volgens ons Gemenereg, 'n mens nooit meer rente kan vorder as wat die kapitaalbedrag beloop nie. As A dus vir B R1 000 leen teen 'n ooreengekome rentekoers en B betaal nie sy skuld nie en die rente loop op, dan mag A nie méér as die kapitaalbedrag wat hy geleen het, naamlik R1 000, plus rente daarop tot 'n maksimum van R1 000 van B verhaal nie.
Die appèlhof moes beslis of hierdie reël uit ons Gemenereg nog in die Suid-Afrikaanse Reg gegeld het.
Appèlregter Joubert het eerstens die posisie in die tydperk van die klassieke Romeinse Reg - van ongeveer 150 vC tot 250 nC - ondersoek. Gedurende hierdie tydperk het die Romeine 'n bloeiende ekonomie met 'n goed-ontwikkelde geldwese en geldhandel gehad. Die maksimum rentekoers was twaalf persent, terwyl keiser Justinianus dit in die jaar 528 nC vir gewone mense op ses persent gestel het. Die Romeine het die heffing van rente op rente verbied en daar was ook 'n verbod op rente in duplum, soos dit gestel is. Dit het beteken dat rente - in soverre dit die kapitaalsom oorskry het - onwettig en onopeisbaar was.
In die Middeleeue het die Kanonieke Reg - met ander woorde, die kerklike reg wat naas die "wêreldse reg" bestaan het - die heffing van rente as 'n doodsonde beskou en dit op Bybelse gronde verbied. Hierdie verbod gaan terug na, onder meer, Eksodus 22:25, wat soos volg lees: "As jy aan 'n arm man uit my volk geld leen moet jy nooit teenoor hom soos 'n skuldeiser optree nie. Jy mag hom ook nie rente vra nie."
In die Romeins-Hollandse Reg, wat een van die vernaamste gemeenregtelike bronne van die Suid-Afrikaanse Reg is, is die renteverbod in duplum, soos dit in die klassieke Romeinse tydperk bekend was, as geldende reg beskou. Dit beteken dat die oploop van agterstallige rente ophou sodra dit die kapitaalsom oorskry. Hierdie beginsels van die Romeinse en Romeins-Hollandse Reg is ook in die Suid-Afrikaanse Reg opgeneem en is al 'n hele paar keer deur ons howe toegepas. So ver terug as 1830 is hierdie reël byvoorbeeld toegepas in 'n saak tussen ene Van Niekerk teen Van Niekerk.
Maar terug na die saak tussen LTA en die Administrateur van Transvaal. Die advokaat wat namens LTA in die Appèlhof verskyn het, het betoog dat die Appèlhof die renteverbod in duplum behoort af te skaf omdat dit 'n anachronisme is wat téén die openbare beleid is, omdat rente nie meer immoreel is soos die Middeleeuse Kanonieke Reg dit bestempel het nie.
Hierdie betoog was egter vir die appèlhof onaanvaarbaar. Die renteverbod is volgens die appèlhof alles behalwe 'n anachronisme. Dit vervul 'n ekonomiese funksie om skuldenaars wat hulle in 'n finansiële verknorsing bevind, te help. Buitendien, het die appèlhof beslis, het hy nie bevoegdheid om die reël af te skaf nie en is dit 'n taak vir die wetgewer.
Die wetgewer het (veel later) wel ingegryp, en wel by wyse van die Nasionale Kredietwet, Wet 34 van 2005, wat op 1 Junie 2007 in werking getree het. Dit is 'n omvangryke en ingrypende wet wat die belange van verbruikers wat krediettransaksies aangaan, beter beskerm. Nie alleen behou dié wet die gemeenregtelike in duplum-reël nie; artikel 103(5) daarvan verstewig dié eeue oue reël in belangrike opsigte.

