Lees in hierdie artikel oor ’n geskiedkundige gebeurtenis wat onlangs herdenk is.
17 Februarie 2020
Die nag van 17 Februarie 1838 staan bekend as die nag van die Groot Moord, toe verskeie niksvermoedende Voortrekkerfamilies langs die Bloukransrivier deur Zoeloekrygers aangeval en uitgemoor is; man vrou en kind. Dit sou uiteindelik aanleiding gee tot die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838.
Op 16 Desember 2019, bykans 181 jaar later, doen president Ramaphosa in sy Versoeningsdagtoespraak ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om hulle bitter verlede te aanvaar en voort te beweeg na versoening eerder as vergelding. Maar in dieselfde toespraak verwys hy na die Slag van Bloedrivier wat op dieselfde datum in 1838 plaasgevind het tussen die Voortrekkers en die Zoeloekrygers onder Dingane, waarin die Voortrekkers as oorwinnaars uit die stryd getree het: “Van daardie geskiedkundige veldslag, waarin Zoeloekrygers gewapen met assegaaie, in groot getalle voor die vuurkrag van die Voortrekkers gesneuwel het, word gesê dat die Ncomerivier rooi gevloei het van die bloed van hierdie vryheidsvegters.” Hy verduidelik dan voorts: “Want hulle was vryheidsvegters, want hulle het geveg vir die vryheid van ons land en hulle het ontsaglik gely in hul stryd teen die invallers.” (Interessant genoeg is hierdie verduideliking gerieflikheidshalwe weggelaat uit die amptelike transkripsie van die President se toespraak wat deur die regering vrygestel is.)
Oningeligtes sal dit vreemd vind dat die President, in ’n toespraak wat daarop gerig is om versoening te bevorder, na die Zoeloekrygers as “vryheidsvegters” verwys en na die Voortrekker-emigrante as “invallers”. Maar dit pas natuurlik in by die ANC se narratief van die “vryheidstryd”, waarna hy ook as sodanig verwys met betrekking tot die stigting van uMkhonto we Sizwe ongeveer ’n 120 jaar later. Wat die President egter vergeet, of, erger nog, ignoreer, is die redes wat aanleiding gegee het tot daardie veldslag. Op 17 Februarie word die hoofoorsaak gedenk – die Bloukransslagting, die “Groot Moord”.
Die verhaal begin op 25 Januarie 1838 toe die Voortrekkerleier Piet Retief met ’n geselskap van 100 mense Doornkop in die huidige KwaZulu-Natal verlaat het. Die geselskap het gehoop om met die Zoeloekoning, Dingane, te onderhandel ten einde grond te bekom waarop die Voortrekkers hulle sou kon vestig. Die Voortrekkers het om verskeie redes die Kaapkolonie in die suide verlaat op soek na ’n beter lewe in die noorde. Hulle was verdeel in verskeie groepe waarvan elk sy eie leier gehad het. Piet Retief was een van die meer prominente leiers. Hy het Grahamstad in die Oos-Kaap onder ’n wolk van omstredenheid verlaat, maar het desnieteenstaande daarin geslaag om ’n beduidende ondersteuningsbasis op te bou. Retief en sy gevolg het die Kaapkolonie in 1837 verlaat en in ’n noordelike rigting getrek, na die land van Dingane. Dit was Retief se plan om ’n ooreenkoms met Dingane te beding sodat die Voortrekkers hulle in sy land kon vestig, in ruil vir ’n paar duisend stuks vee.

Dingane in verskillende uitrustings (bron: Wikipedia)
Retief en sy geselskap het op 3 Februarie by die Zoeloehoofstad, Umgungundlovu (“Plek van die Olifante”) aangekom. Nadat hulle ’n paar dae in Dingane se vesting deurgebring het, is die ooreenkoms opgestel ingevolge waarvan Dingane na bewering ingestem het om grond aan die Voortrekkers toe te staan. Hierdie dokument, bekend as “die traktaat”, gedateer 4 Februarie 1838, is op die 6de onderteken. Maar daardie oggend is Retief en sy afvaardiging in opdrag van Dingane deur sy magte gegryp en na ’n nabygeleë koppie geneem waar hulle summier tereggestel is. Op dieselfde dag het Dingane duisende Zoeloekrygers onder bevel van Ndlela en Ntuli uitgestuur om die res van die Voortrekkers wat daar naby uitgespan het, te gaan uitwis.
Intussen het die voorhoede van die Voortrekkers hulleself uitgesprei oor ongeveer 25 km langs die Tugelarivier. Die res was saamgetrek in Saailaer, Doornkop en verskeie ander kleiner laers verder weswaarts. Vier familiegroepe het hulself gevestig in die vallei van die Rensburgspruit. Verder noord het nog familiegroepe tussen twee strome gekamp, die Qabango- en Umlazistrome, sytakke van die Bloukransrivier. Hierdie twee sytakstrome sou later bekendstaan as die Groot- en Kleinmoordspruit. Gert Maritz se trek het tussen hierdie twee groepe op die walle van die Mtshezirivier gekamp.
Toe Retief se afvaardiging nie terugkeer nie, het Maritz op 12 Februarie bekommerd begin raak en die kleiner groepies Voortrekkers gewaarsku om laer te trek. Hoewel sommige hierdie waarskuwing ter harte geneem het, het baie hom geïgnoreer en voortgegaan met hul lewens soos gewoonlik.
Om ongeveer die middernag van 16–17 Februarie 1838 het die Zoeloes hul aanval op die kampe by Bloukransrivier oor ’n front van ongeveer 9 km begin. Die meeste trekkers is deur die aanval onkant gevang. Die Liebenberg-, Bester- en De Beer-families wat naby die samevloei van die Kleinmoordspruit en die Bloukransrivier saamgetrek was, het steeds geslaap toe die Zoeloes hulle aanval en is totaal uitgewis.
’n Ander trekker, die 25-jarige Daniël Bezuidenhout, het wakker geword van sy honde se geblaf. Toe hy en sy vrou wakker word, was assegaaie alreeds besig om sy watent te deurboor. Sy vrou, Elizabeth Cecilia Bezuidenhout (née Smit) is sonder meer doodgesteek. Daniël het daarin geslaag om te ontsnap deur van die wa af te spring en deur die Zoeloelinies te dring met hul 11 maande oue baba in sy arms. Hy het die families wat verder wes gekamp het, van die komende aanval gaan waarsku. Die trekkerfamilies wes van die Grootmoordspruit is oorval en vermoor. Die Bothas, Breytenbachs en Smitte is bykans totaal uitgewis. Verder suid het sommige Zoeloes die Rossouws aangeval. Nie ver daarvandaan nie het 36 lede van die Engelbrecht- en Greyling-families skuiling gaan soek by die Robbertse-familie tussen die Groot- en Kleinmoordspruit, maar ook hulle is deur die Zoeloes oorweldig en uitgemoor.
Die Van der Merwe- en Prinsloo-families het naby mekaar kamp opgeslaan, oos van die Grootmoordspruit, waar ook hulle aangeval en grotendeels uitgewis is. Die 12-jarige Johanna van der Merwe en Catharina Prinsloo het oorleef met 25 en 23 assegaaisteekwonde onderskeidelik, en is die volgende middag deur ’n soek-en- reddingseenheid van die Voortrekkers gevind.
Verder suidoos was daar die Bothma-familie, wat aanvanklik kon wegkom nadat hulle van die aanval gewaarsku is. Hulle het weswaarts gevlug, deur die Grootmoordspruit tot by ’n koppie waar hulle skuiling gevind het. Die Zoeloes het egter van hulle skuiling uitgevind en deur troppe beeste deur hulle verdedigingslinies te jaag, het hulle ook die Bothmas uiteindelik oorweldig en die hele familie uitgemoor.
Gedurende en na hierdie aanvalle het Zoeloe-“vryheidsvegters” al die kampe geplunder en verwoes. Die kampe aan die westekant het egter ongeskonde gebly. ’n Groep van 196 oorlewendes het op die oggend van die 17de skuiling gaan soek in die laer by Doornkop. Die oorblywende Voortrekkerleiers het besluit om op vier fronte teenaanvalle te loods. Vanaf Doornkop het ene Greyling ’n groep in die Bloukransriviervallei ingelei en Sarel Cilliers het sy kamp verder suid (waar vandag die dorp Frere, noord van die dorp Estcourt, geleë is) verlaat en die Grootmoordspruitvallei binnegegaan op soek na en ter ondersteuning van enige oorlewendes. Hans de Lange het sy laer aan die Kleinboesmansrivier verlaat en ’n aanval geloods op die terugvallende Zoeloes. Nadat Gert Maritz die Zoeloe-aanval op sy kamp, Saailaer, suksesvol afgeslaan het, het ook hy die oorlewendes in die Grootmoordspruitvallei te hulp gesnel.
Die Voortrekkers het hul teenaanval die volgende dag voortgesit. By die Tugelarivier het hulle ’n groot groep Zoeloes aangetref wat besig was om gebuite Voortrekkerbeeste en -skape oor die rivier te dryf. Tydens die aanval op hierdie Zoeloes het heelwat van hulle in die Tugela verdrink in hul haas om weg te kom. Ongelukkig vir die Voortrekkers was die meeste van die 25 000 beeste en 2 000 perde wat van hulle buitgemaak was, toe alreeds oor die rivier gedryf. Weens die vinnig-verswakkende daglig moes die opvolgoperasie toe gestaak word.
Die mans het hierop teruggekeer en saam met die oorlewendes die somber taak voortgesit om na die dooies, sterwendes en gewondes te gaan soek. Meer as 500 mense, van wie ongeveer die helfte die Voortrekkers as bediendes vergesel het en dus nie as sogenaamde wit “invallers” bestempel kan word nie, en van wie ook ’n verstommende 185 kinders was, is die nag van 16–17 Februarie 1838 deur die sogenaamde vryheidsvegters uitgemoor. Dit het na berig word tien dae geneem om al die dooies op te spoor en te begrawe. In sommige gevalle is volledige families in geheel uitgewis. Onder die dooies was beide Daniël Bezuidenhout se ouers, Wynand Frederik en Elizabeth Johanna Bezuidenhout, ses van sy broers en susters sowel as sy vrou. Die tragedie is dat ook sy babaseuntjie wat hy probeer red het, nie die slagting oorleef het nie. Die Zoeloes, in hul ywer om Daniël by te kom, het met hul assegaaie die baba in sy arms doodgesteek. Die kind was nog so jonk dat hy nog nie tydens sy doop ’n naam kon kry nie.
Uiteindelik sou hierdie spesifieke verhaal tog ’n betreklik gelukkige einde hê, veral vir die uwe. Daniël het uiteindelik weer getrou en so die bloedlyn voortgesit van sy bepaalde tak van die Bezuidenhout-familie, wat die uwe se oupagrootjie, oupa en pa insluit. Dit beteken dat Daniël, as enigste oorlewende van die Bezuidenhouts by Bloukrans, krediet moet kry vir my bestaan; inderdaad groot stof tot dankbaarheid!
Sedert daardie dag het die Voortrekkers na die gebeure van die nag van 16–17 Februarie 1838 verwys as die “Groot Moord”. Vandag nog staan dit bekend as die Bloukransslagting.
Die betrokke Voortrekkers het in reaksie ’n oproep op die ander Voortrekkerleiers, spesifiek Piet Uys en Hendrik Potgieter in die Vrystaat, gedoen om hulle te kom bystaan om hierdie slagtings te wreek. Dit het ook aanvanklik op ’n ramp uitgeloop vir die Voortrekkers toe hulle by Italeni deur ’n Zoeloe-oormag verslaan is en beide Uys en sy seun sowel as agt ander gesneuwel het. Na aanleiding van hierdie veldslag is Potgieter van lafhartigheid en verraad beskuldig omdat hy versuim het om Uys en sy manne wat in ’n lokval gelei was, te hulp te snel. As gevolg hiervan het Potgieter en sy volgelinge teruggetrek na die Vrystaat. Daar word egter aangevoer dat die Voortrekkers uit hierdie veldslag heelwat geleer het hoe om ’n suksesvolle veldtog teen die Zoeloes te voer. Die Voortrekkers het byvoorbeeld besef dat die enigste manier om suksesvol teen ’n getalle-oormag gewapen met assegaaie te veg, is van agter die skanse van ’n ossewalaer indien moontlik, en om die plek van die veldslag self te kies, eerder as om by ’n geveg ingetrek te word of vasgekeer te word op ’n terrein wat vir die aanvallers voordeliger is. Hierdie ondervinding en kennis is suksesvol toegepas teen die Zoeloes tydens die Slag van Bloedrivier, presies tien maande na die Bloukransslagting.
Objektiewe geskiedkundige feite wys dus duidelik daarop dat die Slag van Bloedrivier voorafgegaan was deur twee onuitgelokte, doelgerigte aanvalle op ongewapende mans, vrouens en kinders. Maar hierdie feitelike gebeure pas nie in by die ANC se bevrydingsnarratief nie, daarom word dit uitgelaat. Inteendeel, Ramaphosa maak die Voortrekkers sonder meer af as “invallers”, waarmee hy die bestaande minagtende houding en siening van die regering teenoor sekere minderheidsgroepe in Suid-Afrika voortsit, wat in die lig van die toenemende kommerwekkende neiging tot gewelddadige aanvalle op boere en plaaswerkers besonder ontstellend is. In sy hoedanigheid as Afrikanerbondleier skryf Jaco Schoeman in reaksie op die toespraak: “Die President se volgehoue onvanpaste en ontkennende siening van plaasmoorde baan die weg vir totale vervreemding.” Inderdaad, die wyse waarop man, vrou en kind uitgemoor is by Bloukrans, resoneer, of behoort te resoneer, met die brutale en wrede manier waarop plaasaanvalle op weerlose gesinne uitgevoer word.
Verder voed hierdie gerieflike ontkenning van gebeure die huidige populistiese retoriek wat die gronddebat oorheers, naamlik dat Afrikaners die afstammelinge is van grondgrypende, koloniale “invallers” en dat die grond derhalwe van hulle weggeneem en herverdeel word aan die “regmatige” eienaars daarvan. Hierdie tipe retoriek vuur haat aan en versterk die siklus van vrees en wantroue. Vir geslagte lank is wit kinders op skool geleer van die gruwels wat by Bloukrans gepleeg is, want dit het die Afrikaner-nasionalisme aangevuur. Hierdie tragedie is ongelukkig deur die Nasionaliste misbruik om hulle rassistiese beleidsrigting te regverdig. Die persoonlike, menslike tragedie wat gelei het tot die dood van 500 mans, vrouens en kinders, is uitgebuit en as politieke wapen gebruik teen swart mense, net soos die konsentrasiekampe wat gedurende die Anglo-Boereoorlog opgerig is, gebruik is om die saad van haat teen die Britte te saai. Politici is geneig om die verlede te manipuleer ten einde ’n gewenste uitkoms vir die huidige te bereik. Ramaphosa en die ANC het reeds getoon dat ook hulle bereid is om presies dieselfde te doen. Die enigste verskil is dat hulle in die meerderheid is en dat hulle dus hul eie agenda kan deurvoer in die uitvoering van hulle eie idees van versoening.
Versoening moet boetedoening vir die sondes van die verlede insluit, maar boetedoening kan nie net vanaf die sogenaamde tradisionele onderdrukker kom nie. Om ware versoening moontlik te maak, sal die ANC en hulle ondersteuners ook verantwoordelikheid moet aanvaar en boete doen vir hulle sondes van die verlede, nie net teen wit mense nie, maar ook teen ander Suid-Afrikaners. Suid-Afrikaners is gebind aan ’n ongemaklike, soms uiters ongerieflike verlede. Wit Suid-Afrikaners, veral die Afrikaners, is gedwing om daardie verlede onder die oë te sien, en dit is goed so. Dit het hulle sterker gemaak in hulleself. Maar die ANC en veral sy Zoeloe-ondersteuners moet ook aan hulle ongerieflike verlede herinner word. Want vir baie Afrikaners is die herinnering aan die “Groot Moord” van Bloukrans nog baie helder, dog sonder verwyt.
Jako Bezuidenhout is ’n Afrikaanse Suid-Afrikaner wat daagliks gedwee, soms verleë, soms wroegend, maar hoofsaaklik met trots, sy geërfde historiese bagasie met hom saamdra. Hy het pas sy doktorale proefskrif in Geskiedenis by die Rhodes-universiteit ingedien. Hy was tot onlangs aan die Geskiedenisdepartement daar verbonde en is tans ’n vryskutnavorser.
Bronne
ANA Reporter, Afrikanerbond “disappointed” by Ramaphosa’s Reconciliation Day speech, IOL News (19 Desember 2019). https://www.iol.co.za/news/politics/afrikanerbond-disappointed-by-ramaphosas-reconciliation-day-speech-39498985.
Bloukrans: 16–17 February 1838. http://www.anglo.50megs.com/bloukrans.htm.
Heese, JA. 1971. Die herkoms van die Afrikaner 1657–1867. Kaapstad.
Muller, CFJ. 1977. Die Britse owerheid en die Groot Trek. Pretoria.
Ramaphosa, C. 2019. Address by President Cyril Ramaphosa on the occasion of the National Day of Reconciliation, Bergville Community Sports Complex, Okhahlamba Local Municipality (16 Desember 2019). https://www.gov.za/speeches/president-cyril-ramaphosa-national-day-reconciliation-16-dec-2019-0000.
The Weenen Massacre. 20154. On this day (16 Februarie 2014) by: https://www.historyanswers.co.uk/history-of-war/day-weenen-massacre.
Voortrekkers: Bloukrans Rivier Moorde, WikiTree. https://www.wikitree.com/wiki/Space:Voortrekkers:_Bloukrans_Rivier_Moorde.







Kommentaar
Ek het nie Bezuidenhout bloed nie, maar ek is wel bewus van Daniel, want ek vermoed hy is die rede hoekom my voorouers oorleef het. Joseph van Dyk was my 4X oupagrootjie en alhoewel sy ma en sy jongste broer se vrou en kinders daardie dag vermoor is het hy en sy hele gesin oorleef. So, as dit waar is moet hy krediet vir my bestaan ook kry. Ek wonder of jy iets meer weet hieroor. Ek het hierdie inligting hier gekry https://nuus.net/bloukrans-and-moordspruit-the-greatest-nightmare-in-the-history-of-south-africa-16-february-1838/, waar dit sê hy het die Van Dijk-familie gewaarsku. Dit noem nie Joseph by die naam nie, maar dit moet hy en sy gesin wees, want hulle het oorleef en sy familie wat vermoor is se sterfkennisgewings noem die dag van die moorde as hulle sterfdatums. Ek wonder of jy iets meer weet? PS: ek dink Daniel was so braaf.
Ek is nie 'n gebore Bezuidenhout nie, maar is 'n 'aangenaaide lappie' van die Swartland, wat sedert 1962 met 'n Bezuidenhout (ou familienaam 'Susanna Elizabeth') getroud is. Ek is besig om oor die Bezuidenhouts se bewoë geskiedenis sedert die vermelding van Wijnand in 1668 (aldus Colenbrander) 'n oorsig saam te stel. Wie sou bereid wees om my inligting te korreleer?
Ek stam van Josef van Dyk (Ryk Josef was sy bynaam) af - hy was baie welgesteld en afkomstig uit die Graaf-Reinett omgewing. Sy oudste seun is ook bekend as Josef.
Met die slag van Bloukrans was Ryk Josef nie in die slag nie, maar kan geen duidelike spoor kry waar hy was nie.
Sy oudste seun, vernoem na sy pa, Josef het ook nie daardie nag omgekom nie. Hy was nie by sy ouers se kamp nie. Hy is twee weke tevore getroud met 'n Potgieter-meisie en hulle was toe nog by die bruid se ouers.
Ryk Josef se eggenote en agt kinders het in die nagaanval gesterf, die jongste 'n baba van 2 maande wat toe nog nie gedoop was nie.
My oupa Petrus Barend Christoffel was tydens die Boere-oorlog na Indië as krygsgevangene en het aan die einde van 1904 na SA teruggekeer en is met my Skotse ouma Maria Elizabeth Proudfoot herenig waarna my pa Jacobus Cornelius gebore is. Ek het 'n foto van sy vrystellingsertifikaat en die boot waarmee hy teruggestuur is na Suid-Afrika.